Skrywer van romantiese fiksie.

Woensdag 24 Julie 2019

Santie van der Merwe kuier saam met my op my stoep.

Madelie: Wat kan ek jou aanbied om te drink terwyl ons die sonsondergang hier van my stoep af bewonder? ’n Wit of ’n rooi wyntjie of dalk ’n glasie sjerrie? Santie: ʼn Glasie sjerrie hier by jou buitelugkaggel sal lekker wees op so ʼn koue wintersdag. M: Ek skink vir ons. So ja, vertel my wat is vir jou die lekkerste deel van skryf? S: Die vrede, en die vryheid. Ek kan dit in my eie huis doen, wat vir my die lekkerste plek op aarde is om te wees. En dan het ek natuurlik ook die vryheid om ʼn storie te laat loop soos dit wil. Ek sal nou nie sê ek laat die storie loop soos ék wil nie, want jy weet self dit neem ʼn eie gedaante aan as jy by jou rekenaar gaan sit. Of gedra jou stories hulle self beter? M: Nope, my karakters foeter ook al om te maak soos hulle wil, maar dit sê vir my dis vlees en bloed karakters wat ek geskep het en dis goed so. Ek hou daarvan om soggens baie vroeg te begin, want ek is ’n oggendmens. Dan is my kwota woorde vir die dag gedoen teen die tyd dat die gewone aktiwiteite van die dag my tref. Wanneer skryf jy gewoonlik? S: Ek sou baie graag ʼn oggendmens wou wees. Ek het dit selfs al probeer fake, maar dit het nie gewerk nie. Ek is geheel en al ʼn nagmens. Wanneer my kop die kussings saans op ʼn verstandige tyd tref, en ek klik die lig af, klik daar ʼn skakelaar in my brein aan. Dan wil ek meubels skuif, ʼn nuwe hekelprojek begin of kaste regpak. En die stories in my kop neem nuwe wendings aan. Nie eens net die een waarmee ek besig is nie. Sug. Oor die stories maak ek dan maar ʼn paar aantekeninge. Maar jy wou weet wanneer ek skryf. Ek probeer om myself voor nege uur uit die bed te sleep, sodat ek teen nege uur by my skryftafel kan wees, en ek skryf dan tot so elf, twaalf uur. Ook maar om die dag se skryfwerk agter die rug te kry, voordat my vingers begin jeuk om iets anders te doen. Jy is ook ʼn kreatiewe mens, jy weet hoe dit is. Maar ek ontknoop en vervleg baie dele van my stories terwyl ek met my hekel of breiwerk besig is. Werk dit vir jou ook so? M: Oeg, ek slaap baie nagte byna niks, met die brein wat nie wil afskakel nie. Dan staan ek maar op en skryf en klim dan dikwels terug in die bed wanneer my man al begin dink aan opstaan. Ek het na 50 nadat ek ophou werk het begin skryf, want vantevore was my lewe te besig om so-iets aan te pak, en jy? S: Ek het kinders grootgemaak, en ek was ʼn baie toegewyde huisvrou. Ek kan nie soos die meeste ander vroue multi-task nie. As ek skryf wemel my gedagtes van woorde en idees, en ek sukkel om op ander dinge te konsentreer. Ek het ʼn paar kortverhale geskryf toe die kinders klein was. En gedigte. Dié skryf ek al my lewe deur. Baie ongefokus. Eers toe my seun universiteit toe is, het ek besluit om ʼn boek te probeer skryf. M: Ek het vir meer as dertig jaar skoolgehou, kinders grootgemaak en sonder ophou gestudeer. Op ’n dag het my man net gesê dis nou tyd dat ek ophou werk en iets net vir myself doen. Die res van die storie ken jy. Ons is blykbaar albei ewe lief vir hekel wanneer ons nie skryf nie. Vertel my meer van jou hekelwerk. Hekel jy net vir plesier, of pak jy soms projekte met ’n spesifieke doel aan? S: Hekel en breiwerk is altyd vir my ʼn plesier. Ek dink dis die hele punt daarvan. As dit nie vir my lekker is nie, kan ek netsowel iets anders met my tyd doen. Dis ook nie meer ekonomies om ʼn deken self te hekel as om een te koop nie, dit gaan vir my oor die plesier om dit te doen. Jy weet hoe duur wol en gare is. Soms pak ek doelgerigte projekte aan, soos die beertjies wat ek brei vir kinders in plekke van veiligheid. En ek gee graag handgemaakte geskenke. Ek dink dis my liefdestaal. M: Hoe het jy op die genre wat jy skryf, besluit? S: Ek het nie regtig besluit nie. Ek het ʼn storie geskryf en gehoop ʼn uitgewer kry ʼn hokkie waarin dit pas. Ek sal sukkel om ʼn Romanza te skryf, ek doen nie goed met baie reëls nie. Dis vir my asof jy ʼn koek moet bak met dieselfde bestanddele, maar dit moet elke keer anders smaak. Ek het baie bewondering vir julle wat dit wel so goed regkry. M: Ai, Santie, dit was nou ’n heerlike kuiertjie. Ek hoop ons kan binnekort weer so maak!

Donderdag 18 Julie 2019

Resensie van Lank, donker en verleidelik deur Amanda Claassens

’n Eerste vir my by amandacl
Madelie Human se nuutse Romanza, Lank, donker en verleidelik, is ’n eerste. Nie vir die skrywer nie, want sy is lankal reeds bekend vir haar romanses. Ook nie vir die huidige reeks nie, want dit volg knap op Lank, donker en gevaarlik wat vroeër vanjaar verskyn het. Die is wel die eerste maal dat ek iets lywiger as 'n novelle op ’n tablet gelees het. ’n Hele gesukkel afgegee voordat ek ’n oulike toep ontdek het wat PDF's kan lees op my redelik antieke iPad. Daarna het dit mooi op dreef gekom en kon ek selfs langs die pad ’n nota invoeg en later sukkel om dit weer op te spoor. ’n splinternuwe leerskool vir my. Terug by die verhaal: hierdie keer is dit die hart van die tweede Schoeman broer, Herman, wat in die gedrang kom wanneer hy verpleeg word deur die oulike, fyn maar vurige Tessa. Ek het gehou van die trant waarteen die verhouding sommer van meets af aan ontwikkel het. Hulle was tog gek oor mekaar en die skrywer sloer nie juis om hulle dit te laat besef nie. Sy behou wel ’n lekker spanningslyn deur die vroeëre seerkry in Herman se lewe nie té gou te deel nie. Die sage met die renosterstropers wat in die eerste boek begin het, duur voort en dra ook lekker by tot ’n romanse met propvol aksie.

Maandag 15 Julie 2019

Lank,donker en dierbaar

Reg en geregtigheid met meer as ʼn tikkie liefde daarby ... Rochelle Benade, maatskaplike werker en kampvegter vir dié wat nie vir hulself kan baklei nie, kom in die hof te staan teenoor die silwertong prokureur, Zirk Heyns. Wat oorreed ʼn intelligente man soos hy om aan die kant van gewetenlose kindermishandelaars te wees? Algaande kom sy agter hy is egter nie die duiwel waarvoor sy hom aansien nie - sy ouma dink selfs hy is dierbaar! Van 'dierbaar' weet sy nie, maar dat hy haar kiewe laat water, is vir seker, al glo sy nie aan romantiese liefde nie. Sy weet dit vervaag en droog baie vinnig op - sy het dit dan self gesien in haar ouers se ongelukkige huwelik. Zirk wil haar beskerm en versorg, terwyl sy verbete veg vir haar onafhanklikheid en dit laat die vonke tussen hulle spat. Toe ʼn ontsnapte misdadiger wraak sweer teen hulle albei en boonop haar lewe bedreig, besef Zirk dat hy enigiets sal doen om haar te red. Lank, donker en dierbaar is die derde boek in die Lank-en-donker reeks en die skrywer slaag daarin om die spanningselement, sowel as die ernstige tema van kindermishandeling suksesvol met dié van die ontwikkelende liefdesverhouding te vermeng sonder om afbreek daaraan te doen of dit te oorheers. Die hoofkarakters van die eerste twee boeke in die reeks speel steeds ʼn rol en help om die reeks suksesvol af te rond. Hierdie boek is skrywer Madelie Human se jongste romanse vir die Romanza handelsmerk. Romanza is LAPA Uitgewers se romansereeks, wat vergelyk kan word met Mills & Boon en Harlequin-romanses.