Skrywer van romantiese fiksie.

Dinsdag 27 Desember 2022

Hoog tyd.

Dani de Villiers transporteer vanuit 2019 na die jaar 1724 in die ou Kaap sonder elektrisiteit, selfone, rekenaars of televisie. Sy is ’n skrywer wat werk lewer aan tydskrifte, ook iets wat nog nie bestaan in die Kaap van Goeie Hoop nie. Hoe op aarde gaan sy oorleef? Jacques le Roux, eienaar van die wynlandgoed, La Rochelle, se vriend Louis reken dis hoog tyd dat hy trou, maar hy wag vir die regte een ... en toe land sy op sy sitkamermat! Hoog tyd verskyn in Februarie 2023 en dan is die reeks van drie voltooi.

Donderdag 03 November 2022

Proestukkie uit Soene onder die Kersboom

“Juffrou Bothma, wat is die betekenis van hierdie e-pos wat ek pas van jou ontvang het?” vra ’n donker stem sonder enige groet of aanhef. Toe Serina opkyk van waar sy by haar lessenaar in haar graad een klaskamer sit, is dit vas in die ontstuimige kykers van ’n uiters aantreklike lang man in ’n netjiese grys pak. Sy herken hom as een van haar leerders se ouers. Wow, Tiaan se pa tiek al die boksies vir ’n perfekte manlike voorkoms. Een wat hoogs bemoerd is. Kort donker hare, ontstuimige groen oë en ’n sterk ken met ’n effense baard wat alteveel lyk of hy op sy tande staan en kners van verontwaardiging. ’n Vermoede oor wat hom so omgekrap gemaak het, sit om in sekerheid. Jip, sy weet wat het hom so kwaad. Om sy lengtevoordeel met net so ’n aks te verminder, staan sy op en steek ’n hand uit. “Goeie middag meneer Richter en aangename kennis so op jou seun se laaste dag in my klas.” Sy sit so effens klem op die ‘laaste dag’ sodat hy die boodskap kan kry dat sy deeglik bewus is van sy versuim om vroeër in die jaar te kom kennis maak. Sy oë (is dit dieselfde besondere olyfgroen as sy seun s’n?) maak ’n draai oor haar voordat hy ook ’n hand uitsteek. “Ek weet nou nie juis hoe aangenaam dit is nie. ’n Verduideliking, asseblief?” Hy lig die slimfoon in sy linkerhand waar die briefie aan Kersvader in sy seun se onseker handskrif op die skerm vertoon soos sy vermoed het. Sy beduie na ’n stoel voor haar lessenaar waar ’n ander, baie meer dankbare ouer minute gelede gesit het. “Sit asseblief. Is jy nie trots op Tiaan wat, ten spyte van spelfoute, reeds sulke samehangende sinne kan skryf aan die einde van sy eerste skooljaar nie?” Hy bly egter staan met hande wat op sy heupe rus. “Ek is nie bekommerd oor Tiaan se intelligensie nie, dis die inhoud van die brief wat my pla. Hoeveel daarvan het jy aan hom voorgesê?” Dit lyk of hy elke woord van die laaste sin afbyt en uitspoeg. Serina sluk ’n vinnige antwoord, byt op haar tande en tel liewer haar woorde versigtig. Die man is reeds omgekrap genoeg oor sy seun sy privaatsake deur middel van sy briefie aan sy klasonderwyseres bekend gemaak het. Sy het juis toe sy Tiaan se brief geskandeer en per e-pos na hom toe aangestuur het, gewonder wat sy enkellopende pa se reaksie daarop sal wees. “Meneer Richter, ek verseker jou dat die inhoud van daardie skrywe suiwer Tiaan se eie werk is. Die skryf van die briewe was deel van my manier om te kyk presies hoeveel ek my leerders deur die loop van die jaar geleer het. Die opdrag was bloot dat hulle ’n brief aan Kersvader moet skryf. Hulle het geen hulp van my gekry daarmee nie. Ek het dit bloot aan die ouers aangestuur sodat julle eerstens hul vordering kan sien en tweedens weet wat jul kinders se hartewense vir Kersfees is. Sou jy dit nie graag wou weet nie?” “En my seun se hartewens is dat sy eensame pa met sy mooi juffrou moet trou.” Die driftige beweging waarmee hy die foon in sy baadjie se binnesak indruk, wys presies wat hy daarvan dink en verskans die dwars kompliment geheel en al. Serina voel hoe haar gesig warm word. Die man jaag haar bloeddruk behoorlik op. Of dit is oor hy haar valslik beskuldig, of oor die verleentheid waarin haar gunstelingleerder haar nou plaas, wil sy liewer nie weet nie. “Daardie deel van die brief gaan nie soseer oor sy juffrou nie, maar oor die leemte wat daar in sy lewe bestaan,” probeer sy om redelik te wees. “Ignoreer dit as jy wil en konsentreer dan maar liewer op die laaste sin oor die rooi fiets as materiële dinge vir jou belangriker as jou seun se geluk is,” kry sy ’n steek van haar eie in. Daar flits iets onheilspellends in sy oë. “Jy sê dus dat ek my seun se versugting om weer ’n mamma te hê, doelbewus ignoreer en dat ek materialisties is?” “Ja ... nee ... ag, sit net, asseblief, meneer Richter, jou lengte intimideer my.” Hy ontsenu haar geheel en al en Serina Bothma laat haar nie oordonder nie.

Saterdag 01 Oktober 2022

Die fantasie in Afrikaans

Die fantasie vir volwasse lesers is 'n redelike nuutjie in Afrikaans en uitgewers en skrywers soek nog die pad na fantasielesers se verbeeldingswêreld. ’n Vraag wat ek dikwels gevra word, is "Hoekom het jy ’n reeks oor tydreise geskryf? Dis tog immers nie werklik nie." Dit laat my wonder hoekom volwassenes nou skielik so redeneer. Het ons dan nie almal grootgeword op ’n stapeldieet van fantasieverhale oor feetjies, kabouters, hekse en drake nie? Wat is werklik aan die pratende wolf in Rooikappie se storie? Is ons dan nou so blasé dat ons verbeeldings totaal afgestomp is? Die Romanza druknaam brei uit om meer subgenres in te sluit en die fantasie is een daarvan. Die fantasie leen hom perfek tot die romanse en andersom. Die fantasie sluit ook heelwat verskillende soorte verhale in en tydreise is een daarvan. Ek is ’n groot aanhanger van Diana Gabaldon se werk, veral haar OUTLANDER reeks wat handel oor tydreise in die verlede in. Die reeks bestaan uit nege boeke van meer as 1 000 bladsye elk en ek het elke bladsy daarvan verslind. Dit het my aan die wonder gesit oor hoe ek sou reageer as ek in ’n ander eeu te lande sou kom en natuurlik moes ek toe so ’n storie skryf. Boek 1, TYDLOOS, toe Juliette vanaf 1720 met Juli in 2015, plekke geruil het, het binne drie weke uit my uitgevloei en was hope pret om te skryf. TYDLOOS vertel Juli se verhaal van hoe sy gesukkel het om in die agtiende eeu aan te pas. Boek 2, ONTYDIG, vertel die storie van Juliette in die moderne tyd. Sy het behoorlik aan kultuurskok gely toe sy besef waar sy haar bevind. Luan Beukes moes baie vindingryk raak om haar te help om aan te pas. Boek 3, HOOG TYD, handel oor Dani de Villiers wat vanaf 2019 na 1724 reis en weier om dit as werklikheid te aanvaar. Jacques le Roux het sy hande vol met haar, maar weier om haar terug na haar eie tyd te laat gaan. Al drie verhale speel in drie verskillende tydgleuwe op La Rochelle, die le Roux's se familieplaas naby Stellenbosch af. Ek hoop dat ek met hierdie reeks daarin geslaag het om ’n hele paar romanselesers vir die fantasie genre te werf. Boek 3 verskyn in Februarie 2023.

Saterdag 03 September 2022

My storiebord vir die tydreisreeks.

Die oorsprong van dit alles.
Karakters en agtergrond 1720 en 2015.
La Rochelle, 1720 en 2015.

Woensdag 27 Julie 2022

Ontydig – Boek 2 van die Romantiese Fantasiereeks.

Juliette land in die een en twintigste eeu nadat sy en Juli, haar nasaat van driehonderd jaar later plekke geruil het. Sy het altyd gedink dat haar oupa se stories, dat sy silwer sakhorlosie oor magiese kragte beskik wat tydreise kan bewerkstellig, sommer versinsels was. Die legende wil dit hê dat sy slegs weer na haar eie tyd in die agtiende eeu kan terugkeer indien Juli en sy gelyktydig die sakhorlosie se tyd regstel. Juli wil egter nie terugkeer nie, want sy is nou gelukkig getroud met Juliette se eertydse verloofde, Louis Rossouw. Juliette ly behoorlik aan kultuurskok toe sy besef dat sy nou vasgevang is in ’n wêreld wat sy hoegenaamd nie verstaan nie. Dis ’n ramp wat haar so ontydig, twee weke voor haar troue met haar Louis, getref het. Luan Beukes het sy hande vol met die vrou wat sy aangenome suster se plek kom inneem het. Sy is byna soos ’n kleuter wat alles van nuuts af moet aanleer. Hy ontdek egter dat hy dit geniet om haar touwys te maak in die ingewikkeldhede van die moderne tyd, want hierdie meisie-vrou maak iets in hom wakker wat hy nooit te wagte was nie. Juliette ontdek op haar beurt weer innerlike krag waaroor sy nie geweet het sy beskik nie en stadig maar seker begin sy aanpas. Boonop leer ken sy nou vir Luan wat haar hart behoorlik by haar nuwe moderne onderklere wil laat uitspring. Louis het haar nooit so laat voel nie! Dalk was die omruiling toe tog nie so ontydig nie.

Vrydag 17 Junie 2022

Jaargety, ’n resensie deur Amanda Claassens

Die inwoners van Groeneweide is teen hierdie vyfde aflewering in die inspirasiereeks reeds ou en geliefde bekendes. Elkeen van die vier seisoene het baie geestelike pitkos gelewer om aan te herkou terwyl held en heldin deur hulle probleme werk om tot die noodwendige vervulde, gelukkige einde te kom. Jaargety is nie slegs die slim titel van die laaste boek nie, maar ook dié van ‘n goeie preek wat Driaan lewer. ‘n Preek waartydens Zadelle voel dat daar spesifiek tot haar gespreek word. Driaan neem sy gehoor, en dus vir jou, die leser, deur die verskillende seisoene in jou geloofslewe en daag jou sommer in die proses uit om te bepaal in watter seisoen jy jouself bevind. Die geestelike krisisse waarrondom Zadelle se verhaal gebou word, is die van haat, woede en onvergewensgesindheid. Hierdie emosies het haar lewensvreugde gesteel en nou steel dit die moontlikheid om Jacques se liefde te beantwoord. Jacques, wat terloops een van die standvastigste en geduldigste helde is wat ek nog raakgelees het. Weereens het dit my opgeval en beïndruk dat Madelie Human met goeie insig omgaan met geestelike waarhede, en selfs elemente van pastorale berading met vrug in die storielyn inwerk. Die storielyn kan selfstandig slaag, maar om dit in volgorde te lees is ‘n bonus. Die volgorde is Herfswind, Winternag, Somerson, Lentemelodie en Jaargety. Ek hoop van harte dat hierdie nie die laaste van die inspirasieromanses sal wees nie, en dat uitgewers soos Luca, die geestelike druknaam van Lapa Uitgewers, vir skrywers soos Madelie Human, die geleentheid sal gee om meer oorspronklike geestelike fiksie in Afrikaans te lewer. Ek voel dat daar ruimte is daarvoor in die Afrikaanse boekemark .

Dinsdag 10 Mei 2022

Proestukkie uit Jaargety

Zadelle
sien uit om tuis te kom en op die sagte rusbank saam met haar kat te ontspan. By die ouerige huis met die spreekkamers langsaan wag daar egter ’n onwelkome gesig op haar. Reg voor haar erf staan ’n ellelange beestrok met sleepwa, albei vol bulkende beeste. “Jissie, wat gaan nou hier aan?” vra sy kliphard toe sy besef die trok versper die ingang na haar huis toe. Sy parkeer aan die oorkant van die straat en klim uit. Onder die neus van die lorrie loer ’n paar stofbesmeerde bene in denim en nerf-af stewels uit. Sy skop teen die een stewel. “Haai, hoekom parkeer jy voor my hek? Hoe moet ek nou by my erf inkom?” ’n Grom en ’n gemompel is al antwoord wat sy kry. Sy hoor ’n gewerskaf onder die ingewande van die trok, maar geen antwoord nie. Haar hele lyf ruk soos sy skrik en sy staan vinnig tru toe ’n bees hier reg by haar bulk dat jy hom waar kan hoor. Versigtig loer sy onder die trok in na waar ’n figuur in die stof lê. “Hei, verwyder asseblief jou wa met beeste en al, ek wil my kar intrek. Jy kan jou herstelwerk op ’n ander plek gaan doen.” Die stewels skop vas en ’n groot man skuur ruggelings op die stofpad onder die voertuig uit. “Kan jy nie sien ek het ’n probleem nie?” kom hy orent. “Dit beteken nie jy moet jou probleem myne maak ...” in daardie oomblik herken sy hom. Dis niemand anders nie, as Jacques Greyling, haar beste vriendin se broer. Die man wat sy nou al vir maande vermy sedert die aand wat hulle strooimeisie en -jonker op Ali en Jason se troue was. “Tipies vroumens. Kan jy nie insien dis vir my onmoontlik nie?” Hy probeer die stof uit sy reeds vuil klere uitslaan. Al waarin hy egter slaag, is om walms daarvan te veroorsaak wat dreig om hulle albei te laat verstik. Briesend waai Zadelle die stof voor haar gesig weg. “Luister hier, ek het nou oorgenoeg gehad van julle dorp se mans wat dink dat almal wat vroulik is, minder intelligent en onbekwaam is. Verwyder jou trok, of ek laat sleep die ding deur die polisie hier weg.” Hy lag sinies. “Ek wil nog die polisievoertuig sien wat hierdie vrag van my kan sleep. Bel hulle gerus. As jy hulle so ver kan kry om die foon te beantwoord, of selfs enigsins te reageer, is jy welkom om te probeer. Los my net in vrede dat ek die ding padwaardig kan kry, dan sal ek gee pad hier. Dis nie asof ek verkies het om hier in die hoofstraat voor jou deur gestrand te wees nie.” Zadelle wil hom nog verder aanvat, maar besluit dan om liewer die hasepad te kies. Dit sal sekerlik baie veiliger wees. Hierdie man krap haar om en Zadelle Swart word nie maklik van stryk gebring nie. Dit het jare se selfdissipline en baie maande se diens in die noodgevalle afdeling by ’n besige hospitaal in die stad haar geleer. Dis baie beter om hom te vermy soos sy besluit het die aand na haar beste vriendin se troue. Sy gaan haal dus haar sakke met kosvoorraad uit die kattebak, sluit haar kar en stap aan huis toe asof hy nie bestaan nie. “Ek kan aanbied om jou te help dra, maar aangesien jy nou so ’n intelligente en bekwame vrou is, dra dit gerus maar self,” draal hy met ’n skewe glimlag voor hy weer onder die lorrie inkruip. Zadelle sis net soos ’n slang vir hom, hys die een sak wat dreig om uit haar hand te gly, weer op en stap aan voordeur toe. Sy het jare gelede besluit geen man is haar tyd of aandag werd nie. Haar eie pa het die pad gevat kort na haar geboorte en na wat haar stiefpa haar aangedoen het, was haar besluit finaal. Niemand van die manlike spesie sal ooit weer die kans kry om haar seer te maak nie. Hierdie een, wat hier in die stof voor haar huis lê, het die afgelope maande na Ali se troue reeds baie meer van haar gedagtes opgeneem as wat goed is vir haar sielevrede.

Vrydag 06 Mei 2022

’n Onlangse gesprek met Amanda Claassens oor my insirasiereeks.

Madelie Human is bekend en geliefd onder lesers van romantiese fiksie. Sy het ingewillig om ’n paar vrae te beantwoord. Haar antwoorde was besonder insiggewend.
V: Hoe lank skryf jy al voltyds, en wat het jy voorheen gedoen? A: Ek het veertien jaar gelede ophou werk as kollegelektor in sakekommunikasie en toe voltyds begin skryf. V: Hoeveel Romanzas het jy al gepubliseer? A: Ek het altesaam 40 gepubliseerde liefdesverhale wat Romanzas en drie Super Romanzas plus ’n paar ander boeke insluit. Ek probeer drie of vier per jaar produseer, maar publikasiegeleenthede is min omdat Lapa slegs 48 Romanzas per jaar uitgee en daar is meer as 70 skrywers wat om plekke moet meeding. V: Buiten jou skryfwerk, bied jy ook ’n kursus aan vir voornemende romanseskrywers. Hoe belangrik ag jy opleiding alvorens ‘n skrywer ’n manuskrip aanpak? A: Romanses is nie letterkundige werke nie, maar is hoegenaamd nie so maklik om te skryf as wat mense dink nie. Opleiding is nie noodsaaklik nie, maar enigiemand wat ernstig is oor skryf, moet deeglike navorsing doen oor die genre waarin jy wil skryf voordat jy begin. Jy moet jou ook vergewis van die vereistes wat uitgewers vir daardie genre daarstel. Ek het myself “opgelei” deur alles waarop ek my hande kon lê oor die romanse, te bestudeer. Die geite van uitgewers moes ek op die swaar manier leer. My kursus is ’n opsomming van alles wat ek met bloedsweet geleer het. Toe ek begin het, sou ek wat wou gee vir so ’n handleiding. Dit help ook ontsettend baie as jy kan begin onder die leiding van ’n ervare skrywer wat jou touwys kan maak oor die werkinge van die boekebedryf in Afrikaans en jou boonop deeglike terugvoer gee oor jou skryfwerk. V: Daar het al verskeie reekse uit jou pen verskyn. Waaraan skryf jy die lekkerste: losstaande titels, of reekse? A: Die romanse is gewoonlik kort en verskaf min ruimte en tyd vir karakterontwikkeling. Die reeks bied die skrywer die geleentheid om dieper te delf in die mense en hul probleme. Ek verkies reekse, want die karakters word later vir my so bekend dat ek presies weet hoe hulle sal optree en wat hulle in sekere situasies sal sê. Ek het vroeg in my loopbaan my hand aan ‘n reeks, Wilde Hawer, gewaag en dit baie geniet. Daarna het ek ook die Skakeringsreeks, die Heldereeks, die Le Fleurreeks, die Lank en Donkerreeks, die Inspirasiereeks en nou ook die Tydreisreeks die lig laat sien. Ek skryf wel soms nog losstaande boeke soos die kersverhale wat Lapa sedert verlede jaar Desember publiseer. V: Ek wil spesifiek gesels oor die Inspirasiereekds, die Groeneweide-sage, waarvan die laaste aflewering eersdaags gaan verskyn. Lapa uitgewers en Romanza het die sub-genre, Inspirasie verhale, geskep waaronder ’n skrywer die vryheid het om te skryf vanuit ’n Christelike oogpunt. Vier titels het alreeds verskyn: Herfswind, Winternag, Somerson en Lentemelodie. In elkeen van hierdie stories is daar baie duidelike geestelike aspekte waarmee die karakters worstel. Hoe het jy hierdie stories benader: eers die karakters geskep, of eers ’n bepaalde geestelike waarheid geïdentifiseer waarrondom jy die storielyn wou bou? A: Soos altyd begin ek met die karakters, hul agtergrond en hul beroepe en besluit dan op die insident wat hul spesifieke innerlike konflik wat die storie gaan dryf, veroorsaak. Soos die verhaal ontwikkel, duik probleme op wat hul geestelike lewe beïnvloed en dan probeer ek dit aanspreek. Ek is geen teoloog of geestelike leier nie, maar delf uit my eie en die mense rondom my se lewenservaring om my daarmee te help. Ek het in ’n Christelike huis grootgeword en was nog altyd kerkvas. Die Bybel is my handleiding en boonop het ek ’n Alwyse Raadgewer wat my lei om te weet wat die karakter nodig het om te leer. V: Die stories getuig deur die bank van goeie insig en kennis van die Woord, suksesvol verweef met mooi liefdesverhale. Jy het glad nie in die slaggat van prekerigheid getrap nie. Was dit vir jou ’n groot uitdaging om hierdie balans te vind en te behou deur vyf storielyne? A: Ek self hou nie van godsdienstige dwepery nie en probeer net op ’n eerlike manier omgaan met my karakters en hul geestelike groei. Die inspirerende romanse bly hoofsaaklik ’n romanse wat fokus op die ontwikkellende liefdesverhouding tussen die held en heldin. Die karakter se geestelike groei behandel ek slegs as deel van karaktergroei. Dit oorheers dus nie die verhaal soos in die Christelike romans wat LUCA en Lux Verbi uitgee nie. Ek vind dat Romanzalesers hierdie onderskeid waardeer en meer verteerbaar vind as ’n streng Christelike aanslag. Hulle bly immers by uitstek romanselesers wat ’n lekker liefdesverhaal soek. V: Met al vier die seisoene gebruik, het jy ’n innoverende titel gekies vir die vyfde aflewering wat in Junie 2022 verskyn, Jaargety. Ek wil lesers aanraai om sommer vroegtydig die vorige vier boeke te probeer lees of herlees, maar ek skat dit sal darem nie fataal wees as dit nie kan gebeur nie? A: Jaargety staan, soos al my boeke wat deel van reekse uitmaak, ook op eie voete en kan afsonderlik gelees word. Ek glo lesers sal, wanneer hulle van die vorige stories se hoofkarakters in boek 5 ontmoet, wel nuuskierig raak oor die vorige stories. Bargain Books het nog etlike van die eerste vier boeke in voorraad, maar die wat uit druk is, kan natuurlik op enige e-boekplatform verkry word. V: Jy skroom nie om ’n nuwe uitdaging aan te durf nie. Soos met die Inspirasie verhale, het jy ook ’n baie suksesvolle bydrae gelewer onder die ander nuwe Romanza sub-genre, Fantasie. Waar het jy die inspirasie gekry vir Tydloos? A: Tydloos is ’n tydreisverhaal en ek lees self bitter graag goeie tydreisverhale. Dit fassineer my om uit te vind hoe mense van ander eeue geleef het en wat is nou beter as om dit deur een van jou eie karakters se ervaringe te beleef? Boek 2 in die tydreisreeks, Ontydig, verskyn in September en Boek 3, Hoogtyd, in Februarie 2023. In hierdie reeks ruil karakters uit verskillende eeue om en moet dan in die ander tydgleuf aanpas en ’n nuwe lewe probeer maak ten spyte van sosiale en ander verskille. Soms moet hulle selfs ’n ander taal aanleer. Tydloos is baie goed deur lesers ontvang en hulle vertel my hulle kan nie wag vir die opvolgstories nie. V: Waarna kan lesers uitsien? Nog ’n reeks, nog inspirasieverhale? A: Amanda, weet jy dat daar meer as ’n 100 subgenres van die romanse wêreldwyd gelees word? Lapa is opgewonde om nuwe subgenres in die Romanzareeks op te neem en ek geniet die nuwe uitdagings en sien uit daarna om meer van hulle te probeer. Voorlopig beplan ek nog ’n reeks van elk van die Inspirerende en die Tydreis verhale, want die uitgewer het gevra vir meer. Daarna … wie weet? Daar is heelwat van daardie subgenres wat my en my skryfmaats laat wens ’n dag het meer as 24 uur gehad en dat Lapa vir ons sommer tien Romanzas per maand wil publiseer!

Maandag 18 April 2022

Jaargety

Die nuwe dokter op Groeneweide is nie net bekwaam nie, maar deksels mooi ook. Sy is egter afsydig en die jong manne van die omgewing loop hulle rieme styf as hulle gaan vlerksleep by die huis langs die spreekkamers. Jacques Greyling is nie so maklik om van ontslae te raak nie. As hy sy kop op iets gesit het, byt hy vas en hy wil vir Zadelle hê. Sy het ’n donker geheim wat maak dat sy mans ten alle koste vermy. ’n Traumatiese gebeurtenis in haar verlede het haar lewe verwoes, maar sy het met harde werk en deursettingsvermoë haarself deur die universitei gesit en haar lewensdroom om geneesheer te word, bewaarheid. Jacques se probleem is nou om deur haar skanse te breek en haar hart te wen. Dis egter nie so maklik nie, want sy het haarself afgesny van enige verhoudings. Om haar probleem te oorkom, het sy terapie nodig en wie is beter om haar te help as Groeneweide se geliefde leraar, dominee Driaan? Hy lei haar om haar pad na geloof terug te vind en so haar vertroue in die mensdom te herstel. Kan dit haar ook help om die verlede te verwerk en haar hart oop te maak vir die liefde wat Jacques haar bied?