Skrywer van romantiese fiksie.

Sondag 12 Desember 2021

Inspirasie vir die held van my kersverhaal.

Toe My Octopus Teacher ’n Oscar wen vir beste dokumentêre film, moes ek dit eenvoudig sien. Ek was verstom, nie net oor die verhaal wat ontvou het nie, maar alles omtrent die film het my beïndruk. Net daar besluit ek toe dat ek dit in een van my boeke moes gebruik en natuurlik was die held van my volgende boek, Ryno Viljoen, ’n marinebioloog wat navorsing oor seekatte doen.

Sondag 21 November 2021

Ligte leesstof vir die feesseisoen. Proe net hier ...

By die voordeur toet ’n voertuig. Dis seker nou Bernadette. Sy het reeds laat weet sy is op pad. Sy gooi die voordeur oop. “Ek is gereed. Meeubaai, hier kom ons! Laai solank my leesstof in, ek kry net my tas,” sê sy terwyl sy agterstewe eerste die sak boeke by die deur uitsleep en gaan dadelik weer in om die tas ook te gaan haal sonder om op te kyk. Toe sy met haar tas op die stoep uitkom en die voordeur sluit, begroet ’n vreemde gesig haar. In die rypad voor die stoep staan, nie Bernadette se motor nie, maar ’n monsterbakkie met oorgroot wiele. Daar is ’n branderplank op die dakrak en haar sak boeke steek op die bak onder ’n bonkige seil uit. Teen die kant van die bakkie leun ’n lang man met ’n vuilbaard en ’n sonbril. Sy donker kuif val oor sy voorkop en hy lyk allesbehalwe vriendelik. “Ek dog dis ’n volwassene wat ek moet saamneem Meeubaai toe? Wie is jy?” Hy bekyk haar skraal figuur in haar vakansieklere wat bestaan uit ’n denim kortbroek en T-hemp van haar poniestert tot by haar tone in visplakkies en weer terug. Waarvan praat die man? “Daar moet ’n misverstand wees. Ek ry saam met my tante see toe. Ons gaan na ons strandhuis toe vir die vakansie. Wie is jy?” “Ryno Viljoen. Ek moet professor Bernadette Erasmus van die Marine Research Institute se niggie hier oplaai.” Berna frons en haal haar selfoon uit haar rugsakkie. “Bernadette? Ek is haar niggie. Wag, ek bel haar gou.” Bernadette antwoord feitlik onmiddellik asof sy die oproep te wagte was. “Berna! Ek is so jammer. Ek het baie meer werk as wat ek gedink het. Dit gaan dalk ’n paar dae neem om af te handel. Ry asseblief solank saam met Ryno. Hy gaan toevallig vandag ook Meeubaai toe en ek vertrou hom volkome. Jy sal veilig wees saam met hom.” “Maar ek sal wag tot jy kan wegkom, ek hoef mos nou nie vandag al te gaan nie,” maak Berna kapsie. Toevallig se voet. Sy ken vir Bernadette, alles word deeglik beplan en niks gebeur per toeval nie. “Nee, nee, nee. Ry jy solank en gaan geniet die son en see. Ek kom sodra ek kan. Ek het klaar gereël dat die skoonmaakdienste die huis oopmaak en skoonmaak. Alles sal gereed wees wanneer julle daar kom, die nodigste voorrade in die yskas ook. Baai, ek moet gaan.” Sy sit summier die foon neer. Berna hap na lug en bekyk die foon asof dit haar dilemma veroorsaak het. Dan kyk sy op na die grimmige man wat steeds met sy bene by die enkels gekruis teen sy onooglike bakkie leun. “Sy sê ek moet saam met jou ry.” “Dis mos wat ek ook gesê het. Nou toe, kom. Die see wag.” Hy stoot homself van die voertuig af weg en kom vat haar tas uit haar hand. “Maar ...” Sy gryp nog na die tas, maar hy spring rats op die bak, druk dit saam met die ander goed onder die seil in en maak dit met ’n rekband vas. Berna maak ’n gromgeluid in haar keel. “Antie Bernadette, ek gaan jou doodmaak vir hierdie slap riem. Ek sien dwarsdeur jou plannetjies,” brom sy onderlangs terwyl sy die deur aan die passasierskant van die hoë bakkie oop pluk. Moedeloos kyk sy na die trap en die sitplek wat albei te hoog vir haar kort bene is. Hoe klim iemand wat nie so lank soos die lummel met die sonbril is nie, hier in? Wie ry in elk geval met ’n gedoente wat lyk of dit op die filmstel van Monster Trucks hoort? “Wag, ek sal jou kom help.” Hy spring van die bak af om haar ’n hupstootjie by die deur in te kom gee. Hy plaas sy hande op haar middel, hys haar met haar rugsak en al op en deponeer haar op die sitplek asof sy niks weeg nie. Berna voel hoe haar gesig vuurwarm word. Genugtig, het sy hande vir ’n oomblik of twee onder haar kort T-hemp ingegly, of het sy haar dit verbeel? As haar studente haar nou moes sien! “H’m. Dankie.” Sy haak haar rugsakkie se bande van haar skouers af en sit dit by haar voete neer. Berna sug gefrustreerd. As haar eie ma haar nie in die verleentheid stel nie, plaas haar tante haar in ’n onmoontlike situasie waar sy nie kan uitkom nie. Wat is dit met die vorige geslag van Erasmus vroue dat hulle alewig haar wat Berna is, se lewe so versuur? “Buckle up,” gee hy opdrag toe hy inklim. Sy wil haar eers vererg, maar besluit dan dis nie die moeite werd nie. “Vir seker. Hierdie ding gooi mens seker rond soos ’n bul by ’n rodeo as jy nie vasgemaak is nie,” antwoord sy snipperig en voldoen aan sy opdrag. Hy lag en skakel die voertuig aan. “Sulke klein outjies soos jy? Vir seker. Maak jou gereed om so deurmekaargeskud soos melkskommel te wees wanneer ons oor ’n uur by Meeubaai arriveer.” Met ’n gebrul trek hulle weg. Berna knyp haar oë toe en sê ’n skietgebedjie op. Vandag gaan sy sowaar haar Heiland leer ken.

Dinsdag 31 Augustus 2021

Nogtans sal ek jou liefhê, deur Magdaleen Walters – ’n resensie

Die romantiese fantasie is ’n splinternuwe subgenre wat Romanza onlangs vir die eerste keer aangepak het. Hierdie verhaal is die derde een en puik uitgevoer deur Magdaleen Walters. Sy het haar eerste fantasie oor die lewe van ’n weerwolf uitstekend in ’n heerlike romanse verweef. Ek hou van Magdaleen se skryfstyl wat die heldin van die Victoriaanse tyd se gedagtewêreld en gedrag geloofwaardig verwoord het. Die held word sterk, maar tog uiters sensitief, uitgebeeld en is genoeg om enige romanseleser se hart te laat vermurwe. Die verhaal het my aandag tot die laaste bladsy gehou en ek het elkeen met afwagting omgeblaai. Welgedaan, Magdaleen. Lesers wat oor ’n verbeelding beskik en oop is vir vernuwing in die Afrikaanse ontspanningslektuur, sal dit beslis ook geniet!

Vrydag 30 Julie 2021

Proestukkie uit Lentemelodie

Sondagoggend is Ali vroeg op en aan die gang. Sy druk dou voor dag reeds die skaapboud wat sy met knoffel gestop het in die oond. Gelukkig het sy gistermiddag reeds die malvapoeding gebak en die kan net later opgewarm word. Die groente is geskil en staan in skottels water gereed voordat sy met haar beker stomende oggendkoffie op die stoep gaan sit. “Vir wat staan jy so vroeg op? Het jy die bed natgemaak?” kom Jason gaap-gaap uit die huis met sy eie koffie in die hand. Ali sluk byna haar tong in toe sy sien hy het net ’n rugbybroekie sonder ’n hemp aan. Haar oë bly vasgenael op die goedgedefinieerde spiere van sy borskas en breë rug. Geen wonder Clarissa is agter sy lyf aan nie. Sy kom agter hy wag op ’n antwoord en ruk haarself met mening reg. “Ons het gaste vir ete, het jy vergeet?” “Nee, maar hulle kom eers na kerk, so teen half twaalf se kant.” Hy gaan sit op die stoeptrappie met sy rug teen ’n pilaar, skynbaar totaal onbewus van haar oë op hom. “’n Skaapboud het ’n hele paar ure in die oond nodig om lekker sag te wees,” praat sy met ’n droë tong wat alweer sukkel om te werk. Na Saterdagaand is sy akuut bewus van hom.
Hy neem ’n versigtige slukkie van sy warm swart koffie en glimlag stadig. “Jy kook soos ’n veteraan. Gisteraand se pizza was uit die boeke, nes die wat ek in Italië geproe het en nogal met ’n regte brooddeegkors. Jy sal maak dat ek jou hier in my kombuis vasketting.” Ali lag met ’n beeld van haar aan hierdie Adonis vasgeketting in ’n omhelsing op die kombuistafel. Jikes! Van wanneer af het Alida-Mari Greyling sulke gewaagde gedagtes dat sy sukkel om by te hou met hul gesprek? “Ek moet jou waarsku, my dienste is peperduur, jong.” “Ek het gepraat van vasketting soos in slawearbeid, nie teen betaling nie, maar vir koningskos soos joune sal ’n man sekerlik baie betaal.” En daar is die kettingbeeld weer terug! “H’m. Jy is nie ryk genoeg nie, meneer Vermeulen. Jy kan nie eens bekostig om ’n cougar eenkant aan te hou nie.” Sy mond vol koffie trek met ’n boog oor die grasperk, Lulu spring op vanwaar sy met een oog oop lê en dut het, blaf opgewonde en gaan ruik aan die koffiedruppels op die gras. Jason vee sy mond met die agterkant van sy hand af. “Ha! Jy is heeltemal reg. Cougars vreet aan ’n man se sak. Ek sal my maar liewer by beroemde sangeresse bepaal. Ek dink juis ek het ’n sterk ketting daar in die motorhuis.” Ali blaas oor haar koffie. Sy geniet die ligte geskerts tussen hulle twee veel meer as wat sy teenoor hom sal erken. Hoe sal dit wees om getroud te wees met ’n man soos Jason? Ugh, sy sien sy kaal bolyf en sy dink onmiddellik aan trou? So byna-byna is dit haar beurt om te verstik. Stop die lorrie net daar. Trou lê jare ver in die verskiet van haar toekoms. “Ali?” “H’m?” Haar kop hou aan ompaaie loop met haar vanoggend. Sedert die skaamtelose man sonder hemp hier opgedaag het. “Ek vra of daar iets is waarmee ek kan help. Dis nie nodig dat jy alles alleen doen nie.” “O. Alles is onder beheer in die kombuis, dankie. Miskien kan jy help om die tafel te dek.” Gaan trek net klere aan voordat ek my vergryp, dink sy desperaat. “Oukei. Dis maklik genoeg.” Hy sluk sy laaste koffie af en staan op. “Onthou om glase ook uit te haal vir die wyn wat ons gekoop het,” kry sy uiteindelik weer haar gedagtes bymekaar en syg teen die leuning van haar stoel terug toe hy met ’n wuif by die huis in verdwyn.

Dinsdag 29 Junie 2021

Tydloos – ’n proestukkie

Tydloos – Madelie Human (Uittreksel)
Juli le Roux kreun en maak haar oë oop. Miljoene skoenlappers draai in ’n spierwit wolk bokant haar kop rond. Sy knyp haar oë vinnig weer toe en wag vir die wêreld om op te hou tol. Wat het so pas gebeur? Dit voel of haar kop wil bars. Versigtig maak sy haar een oog oop. Die skoenlappers is gelukkig nou weg. Hoe het hulle in die huis ingekom en waar is hulle nou? “Mam’selle Juliette?” ’n Gesig verskyn bokant haar waar sy op die mat lê. Waarom lê sy op die vloer? Wie is die vreemde vrou met die outydse kappie oor haar hare en hoekom noem sy haar op haar doopnaam? Net haar ouma het haar altyd Juliette genoem, maar sy is lankal dood. Iets wil nie mooi sin maak nie. Hoekom noem die vrou haar so? Die gesig bokant haar lyk bekommerd. “Mam’selle, jou tabberd. Waar is dit? Hoekom is jou hare los? Wat het gebeur?” Juli kyk af. Tabberd? Sy het steeds die jeans en pienk tekkies aan wat sy vanoggend gegryp het om die wingerde te gaan inspekteer saam met haar aangenome broer, Luan Beukes. Sy kyk vinnig na die vrou wat langs haar op die vloer kniel. Sy het inderdaad iets wat ’n mens seker ’n tabberd kan noem met ’n spierwit voorskoot bo-oor aan. Wie sou sy wees en wat soek sy hier in La Rochelle se sitkamer? “Jy het ’n besoeker, Mam’selle. M’sieur Rousseau is in die foyer. Maar met hierdie skandalige mondering sal jy nie voor hom kan verskyn nie. Waar is jou klere wat jy vanoggend aangetrek het?” Juli frons. Sy weet haar uitrusting is informeel, maar skandalig? Iets baie snaaks is aan die gang. Die vrou met die plooi tussen haar groot ronde oë praat in ’n geradbraakte Frans deurspek met Hollandse en Afrikaanse woorde. As sy nie kennis van al drie tale gehad het nie, sou sy sowaar min daarvan kon verstaan. “Wat?” vra sy verward en probeer regop sit. Haar kop voel nog of dit kan bars, maar die wêreld draai darem nie meer so erg nie. Sy kyk rond. Die vertrek is oorbekend, dit is haar huis se sitkamer, maar die gordyne is ’n ander kleur en die meubels is . . . min of meer dieselfde, maar ook nie. Waar is haar twee donker pers leunstoele en die nuwe kunswerke wat sy onlangs aangeskaf het? “Wat het gebeur?” vra sy en probeer opstaan. Toe sy op die mat wil druk om orent te kom, voel sy iets in haar hand. Sy kyk af. In haar hand hou sy die antieke silwersakhorlosie met die Le Roux-familiewapen agterop. Dan onthou sy. Sy het probeer om die tyd reg te stel en toe begin haar ore suis en alles het skielik om haar in ’n maalkolk begin tol. “W. . . wie is jy? Waar is Shaleen?” vra sy. Die jong vrou lyk nou skoon uit die veld geslaan. “Shaleen? Ek is mos Fytjie, jou diensmeisie, Mam’selle. Hier is nie ’n Shaleen nie.” Sy help Juli om orent te kom. Diensmeisie? Waar val die vrou uit en wat het van haar huishoudster geword? Juli kyk by die venster uit. Ja, die hoë bergpieke troon steeds oor die Le Rouxs se familieplaas soos dit vir vele geslagte reeds doen, maar die tuin lyk heel anders en waar is die nuwe motorhuise en geplaveide rylaan wat haar pa voor sy dood laat bou het? Dan kliek iets in haar brein. Sy skud haar kop. Is dit moontlik? “Wat is vandag se datum?” vra sy aan die meisie wat met haar donker oë gefassineerd na Juli se tekkies staan en staar. “Vier Februarie,” antwoord sy en trek-trek aan Juli se toppie wat net-net nie haar midderif toegemaak kry nie. “En watter jaar is dit?” Fytjie frons steeds vir Juli se kleredrag, maar antwoord nietemin. “Dis mos die jaar sewentienhonderd en twintig, Mam’selle. Hoe vra jy dan nou so?” Juli se kop draai weer, maar sy bly darem staande. Goeie genugtig, sy het altyd gedink Oupa se stories oor die sakhorlosie is sommer versinsels wat hy opgemaak het om haar te vermaak. Is dit moontlik, of droom sy net? “Is jy doodseker, Fytjie?” “Natuurlik is ek, maar ek wonder nou oor die mannetjiesklere en hoekom praat Mam’selle so snaaks?” Sy skud haar kop en vat verwonderd aan Juli se jeans. “Dalk moet mam’selle Juliette liewer ’n bietjie gaan lê? Ek kan die m’sieur vra om later terug te kom.” Juli probeer sin maak van alles. Juliette. Haar doopnaam. Oupa se vertellings wou dit hê dat as twee persone van verskillende geslagte met dieselfde naam op dieselfde datum presies om twaalfuur gelyktydig die silwersakhorlosie se tyd regstel, hulle plekke sal ruil. Sy lig die horlosie aan sy ketting op en kyk stip daarna. Dis ’n paar minute ná twaalf. Volgens Oupa is die horlosie met magiese kragte glo al honderde jare in die familie se besit. As Oupa se stories waar is, moet die mam’selle Juliette van wie Fytjie telkens praat, nou in haar plek in die een-en-twintigste eeu wees. Juli snak na haar asem. Maar tydreise is mos net in stories moontlik, dan nie? Sy skud haar kop en knipper haar oë. Die vreemde binneversiering en die diensmeisie in outydse klere en vreemde manier van praat is egter steeds daar. Het sy sowaar driehonderd jaar terug in die verlede in gereis? Sy moet iewers alleen kom waar sy helder kan dink. Miskien moet sy liewer Frans praat, die diensmeisie lyk nie of sy suiwer Afrikaans mooi verstaan nie. Die mademoiselle Juliette wie se plek sy blykbaar ingeneem het, is sekerlik Franssprekend. “Ja, ek dink ek sal iets anders gaan aantrek. Sê vir die man wat vir my wag dat ek nou-nou daar sal wees, dan kom help jy my om iets meer gepas aan te trek.” Hopelik is haar slaapkamer op dieselfde plek. Sy het beslis Fytjie se hulp nodig, sy sal nie eens weet wat die korrekte kleredrag is nie. Sal haar naamgenoot se klere haar ooit pas? Indien nie, bevind sy haar nie net in die verkeerde eeu met mense wat ’n onbekende taal praat nie, maar in tamatiestraat. Niemand van die agtiende eeu sal haar oupa se storie oor tydreise glo nie. Genugtig, sy het dit self nie geglo totdat dit nou met haar gebeur het nie! ’n Geluid trek haar aandag. In die deur staan iemand – ’n beeld van ’n man wat inderdaad geklee is in ’n agtiende-eeuse broek en kniehoogte stewels. Haar oë skuif op oor sterk bobene en smal heupe na ’n wynrooi onderbaadjie en spierwit hemp onder ’n donkerblou baadjie met wye lapelle wat oor breë skouers span. Sy langerige donker hare is met ’n leerbandjie agter sy kop vasgevang. Mister Darcy, eat your heart out, dink sy en onderdruk ’n byna histeriese giggel wat dreig om uit haar keel te borrel. Op die oomblik is sy wenkbroue hoog gelig. Dit lyk of hy sy helderblou oë nie kan glo nie. Hy retireer stadig in die gang in, maar sy blik bly waarderend op haar geronde heupe in die jeans en vee oor haar kaal midderif. “Pardon, Juliette. Ek sal in die foyer wag terwyl jy gaan verklee,” sê hy in suiwer Frans. Dis duidelik dat hy die uitsig waardeer, maar wat sou hy van so ’n skrapsgeklede vrou dink? Haar naamgenoot ontbloot sekerlik beswaarlik haar enkels voor enige man. Skielik wens sy uit die diepte van haar hart dat sy haar skootrekenaar byderhand kon hê om vinnig te google oor agtiende-eeuse kleredrag en gewoontes. Sy onthou darem ’n bietjie van die ou Kaapse geskiedenis wat sy op skool geleer het, maar dit sal haar nie veel help nie. Genade, wat gaan sy aanvang? Fytjie is inderdaad van groot hulp. Sonder dat sy haar hoef te vra haal sy onderklere en ’n rok uit die groot armoire en lê dit op die koperledekant uit. Dit lyk darem of dit haar sal pas. Toe Fytjie die toppie oor haar kop trek en haar in ’n stywe korset begin inryg, is sy ineens dankbaar vir al die ure wat sy weekliks in die gym deurbring. Die kledingstuk laat min ruimte vir asemhaling, laat staan nog vetrolletjies. Fytjie bekyk haar van kop tot tone. “Kom, ons moet nog jou hare ook weer oordoen.” Sy tel ’n lok van Juli se lang, los hare op. “Wat het jy aangevang nadat ek jou vanoggend help aantrek het, Mam’selle? Jy kan mos nie so voor jou verloofde verskyn nie.” Juli se asem stol in haar keel. “Verloofde?” kwaak sy benoud. Genade, sy erf nie net haar naamgenoot se klere nie, maar haar verloofde ook?

Saterdag 19 Junie 2021

Tydloos – ’n Resensie deur Louise van der Merwe

Tydloos - Romanza (Fantasie)
Madelie Human - LAPA Uitgewers Ek het lanklaas ʼn boek so geniet soos wat ek Tydloos vandag geniet het! Hierdie skrywer het met haar debuut in volwasse Afrikaanse fantasie enige en almal se pogings tot dusver uitgestof en staan met ʼn blink vyf sterre heel bo op die troon! Madelie Human se ervaring en ondervinding van oor die 36 publikasies is tasbaar in hierdie Romanza opgesluit. Sy kry dit maklik reg om die held en heldin se karakter moeiteloos en geloofwaardig deur die storie vas te hou. Ek het halsoorkop verlief geraak op die held Louis Rousseau, sy korrekte taalgebruik en ouderwetse grotman maniertjies het sy sjarme tot kookpunt gedryf en Juli, ons heldin, se aanpassing tussen die tye en gesukkel om haar taal suiwer te hou- en om haar asem lank genoeg op te hou vir daai korsette!- kon mens amper tussen die blaaie van hierdie tydsreis fantasie proe. En dan word ons nog bederf met ʼn hele paar vuurwarm vrysessies ook 🙂 Die karakterontwikkeling was uitstekend en boei jou tot die laaste bladsy, elkeen se verwarring en skrik wat die gebeure voortbring is eg, suiwer en geloofwaardig. Dit het my laat wonder hoe ek sal optree as ek wakker word in ʼn ander eeu! Juli se verontwaardigheid oor vroueregte en net algemeen menseregte word komies benader en ook net genoeg voor jy jou vir die held wil wip! ʼn Paar sêgoed wat die storie so mooi ondersteun en aangevul het, is goedjies soos: kniediep in die jêm, gedorie waar, by die lyf wees, kierankies braai. Hierdie is ʼn briljante stukkie werk uit ʼn gevestigde en geliefde skrywer se pen en ek kan dit met oortuiging aan enigeen aanbeveel wat, soos ek, nog altyd net fantasie in Engels kon lees en geniet. Madelie ek hoop ons kry sommer binnekort ʼn opvolg op hierdie prag Romanza van jou, want ek wonder benoud hoe dit met arme Juli se naamgenoot, Juliette gaan wat nou vassit in die 21ste eeu!

Dinsdag 15 Junie 2021

Romanza in GROOT DRUK!

Hier is sewe van my Romanzas wat nou in groot druk beskikbaar is vir lesers wat sukkel om gewone fontgroottes te lees.

Woensdag 19 Mei 2021

Tydloos – die heel eerste tydreisromanse in Afrikaans,

Is die Afrikaanse lesers gereed vir Fantasie? Ek was onlangs in Bargain Books en JA ’n yslike deel van die winkel is vol met rakke en rakke gepak met Engelse fantasieverhale. Wie koop en lees dit? Suid Afrikaners wat meestal Afrikaanssprekend is. Lapa het ons gevra om te waag en hier is my eerste poging in die genre – ’n Tydreisromanse. Dis steeds ’n lekkerleesromanse, NIE wetenskapfiksie nie! My getroue lesers sal nie teleurgesteld wees nie, dis ’n gewone romanse met die tydreis slegs as agtergrond: Moet sy teruggaan na haar eie tyd of haar hart volg? Juli le Roux word wakker in haar sitkamer, maar vind tot haar skok uit dis driehonderd jaar in die verlede tyd. Sy het op 'n geheimsinnige wyse plekke geruil met haar identiese oorgrootjie wie se naam sy dra. Om alles te kroon, erf sy nie net die vrou se identiteit nie, maar ook haar verloofde. Sy moet met Louis Rousseau trou om haar familie se erfenis te red. Louis Rousseau is bereid om sy belofte wat hy langs sy ou vriend se sterfbed gemaak het, na te kom, maar hy sien op na 'n leeftyd saam met Juliette vir wie hy niks voel nie. Die Juli wat hy egter nou leer ken, is allesbehalwe die vervelige meisie saam met wie hy grootgeword het. Sy is pure vrou, vol lewe en vurig van geaardheid. Juli het 'n groot besluit om te maak: Moet sy probeer teruggaan na haar eie tyd, of bly by die man op wie sy halsoorkop verlief is? Tydloos is Romanza se eerste tydreisverhaal. Dit speel af in twee tydsones in Stellenbosch. Dit is 'n stomende verhaal met 'n paar unieke liefdestonele.

Dinsdag 09 Maart 2021

Skryf is baie soos hekel

Ek is net so lief vir skryf as vir hekel. Gewoonlik is ek met albei so om die beurt besig. Wanneer jy ‘n boek beplan, begin jy met ‘n storie-idee. Om iets te hekel, het jy ook ‘n idee nodig van watter projek jy wil aanpak. Vir jou storie het jy ‘n plot nodig en vir jou hekelwerk ‘n patroon. Nou moet jy dit inkleur: vir jou hekelprojek kies jy die wol. Ha! Nou begin die pret, want ek kan mos nie ‘n bol wol weerstaan nie, so ek loop geen wolwinkel verby nie en nou het ek boonop inkopies op die internet ontdek. Ugh! Eina, my beursie!! Vir my is die lekkerste deel van die projek die beplanning en die rondspeel met idees en kleur. Vir skryf is dit feitlik dieselfde. Nou besluit jy op die karakters en die agtergrond van jou storie. Hier kan jy jou verbeelding vrye teuels gee en maak nes jy smaak!! MAAR nou begin die groot werk, nou moet jy met jou boude op ‘n stoel gaan sit en jou wolkombersie steek vir steek of jou storie woord vir woord neerpen. Hierdie is die gedeelte waar vasbyt die enigste moontlikheid is, anders gaan jou projek onder in ‘n laai beland. Uiteindelik is die laaste woord/steek gedoen en jy sug verlig. Daar is ‘n klop aan die voordeur en dis niemand anders nie as SKOONMA wat kom kuier en sy is ‘n ekspert haak-en-steker. Natuurlik mik sy reguit vir jou hekelmandjie, pluk jou harde werk onseremonieel daaruit en bekyk dit skreefogig en met pruimlippe. Sy vertel jou jy kon ‘n beter kleurskema gekies het en boonop is die wol nie geskik vir hierdie patroon nie. Sy verseker jou lostrek is die enigste uitweg en broodnodig as jy jou kombersie hoegenaamd wil red. Jy voel lus en gooi die ding in die asblik die oomblik wat sy haar rug draai. Jy doen dit ook en probeer van jou mislukking vergeet. Jou skryfwerk is intussen uitgewers toe en lê vir maande by die keurders voordat jy iets hoor. Jy begin twyfel aan jou vermoë en kan sweer jy gaan nooit weer jou hand op die sleutelbord van ‘n rekenaar lê nie! Uiteindelik kom die verslag – BLOEDROOI van gemerkte foute en propvol kommentare oor hoe jy jou powere poginkie kan verbeter om dit enigsins aanvaarbaar te maak. Geen woord word gerep oor jou wonderlike taalgebruik of oulike openingstoneel nie, o nee, maar als wat jy verkeerd gedoen het word breedvoerig bespreek. Jy krimp ineen. Nou is jy DOODSEKER jy was mal om te dink dat jy ooit sal kan skryf. Dis nou hier waar die ware hekelaars en die goeie skrywers van die wannabe’s geskei word: Dis einste hier waar jy tussen die vloer en die politoer uitkruip (met behulp van ‘n glas rooiwyn en ‘n vloermoer of twee) jou ego afstof, jou hekelwerk uit die asblik opdiep, jou storie weer ‘n keer oorlees en die spulletjie van voor af aandurf. Jy trek jou harde werk steek vir steek los en jy delete jou wonderlike poëtiese woorde een vir een terwyl jy kla teenoor almal wat wil (meestal die wat nie wil nie) luister en jy DOEN OOR. Met bloed en met sweet. Met tandegekners en met trane. Uiteindelik is jy klaar en moet erken: Jou skoonma/verhaleredakteur weet seker wat hulle doen, want die eindproduk is … uhm … sowaar beter.

Saterdag 27 Februarie 2021

’n Nuwe boek oor die ouderdom wat wêreldwyd aandag trek

’n Baie wyse Sjinese skrywer, Zhao Daxin, het hieroor geskryf in sy roman, The Sky Gets Dark, Slowly. (Artikel voorgestel deur Sandra Engelbrecht) Hier volg ’n kort opsomming van wat hy in hierdie uitstekende skrywe te sê het: Zhou Daxin’s latest novel is a sensitive exploration of old age and the complex, hidden emotional worlds of the elderly in a rapidly ageing population. In it he writes, “…Many elderly speak as though they know everything, but of old age they are in fact as ignorant as children. Many elderly are in fact, completely unprepared for what they are to face when it comes to getting old and the road that lays ahead of them. In the time between a person turning 60 years old, as they begin to age, right until all the lights go out and the sky gets dark, there are some situations to keep in mind, so that you will be prepared for what is to come, and you will not panic. 1. The people by your side will only continue to grow smaller in number. People in your parents’ and grandparents’ generation have largely all left, whilst many your peers will increasingly find it harder to look after themselves, and the younger generations will all be busy with their own lives. Even your wife or husband may depart earlier than you, or than you would expect, and what might then come are days of emptiness. You will have to learn how to live alone, and to enjoy and embrace solitude. 2. Society will care less and less for you. No matter how glorious your previous career was or how famous you were, ageing will always transform you into a regular old man and old lady. The spotlight no longer shines on you, and you have to learn to contend with standing quietly in one corner, to admire and appreciate the hubbub and views that come after you, and you must overcome the urge to be envious or grumble. 3. The road ahead will be rocky and full of pitfalls. Fractures, cardio-vascular blockages, brain atrophy, cancer… these are all possible guests that could pay you a visit any time, and you would not be able to turn them away. You will have to live with illness and ailments, to view them as friends, even; do not fantasise about stable, quiet days without any trouble in your body. Maintaining a positive mentality and get appropriate, adequate exercise is your duty, and you have to encourage yourself to keep at it consistently. 4. Prepare for bed-bound life, a return to the infant state. Our mothers brought us into this world on a bed, and after a journey of twists and turns and a life of struggle, we return to our starting point – the bed – and to the state of having to be looked after by others. The only difference being, where we once had our mothers to care for us, when we prepare to leave, we may not have our kin to look after us. Even if we have kin, their care may never come close to that of your mother’s; you will, more likely than not, be cared for by nursing staff who bear zero relation to you, wearing smiles on their faces all whilst carrying weariness and boredom in their hearts. Lay still and don’t be difficult; remember to be grateful. 5. There will be many swindlers and scammers along the way. Many of them know that the elderly have lots of savings, and will endlessly be thinking of ways to cheat them of their money: through scam phone calls, text messages, mail, food and product samples, get-rich-quick schemes, products for longevity or enlightenment… basically, all they want is to get all the money. Beware, and be careful, hold your money close to you. A fool and his money are soon parted, so spend your pennies wisely. Before the sky gets dark, the last stretches of life’s journey will gradually get dimmer and dimmer; naturally, it will be harder to see the path ahead that you are treading towards, and it will be harder to keep going forward. As such, upon turning 60, it would do us all well to see life for what it is, to cherish what we have, to enjoy life whilst we can, and to not take on society’s troubles or your children’s and grandchildren’s affairs on for yourself. Stay humble, don’t act superior on account of your own age and talk down to others – this will hurt yourself as much as it will hurt others. As we get older, all the better should we be able to understand what respect is and what it counts for. In these later days of your lives, you have to understand what it means, to let go of your attachments, to mentally prepare yourself. The way of nature is the way of life; go with its flow, and live with equanimity. For all of us, a nice read, very beautiful, very true! Hardly the day started and it is already six o’clock in the evening. Barely arrived on Monday and it’s already Friday. … the month is almost over. … the year is almost up. … already 50 or 60 or 70 years of our lives have passed. … we realize that we lost our parents, friends. … we realize that it is too late to go back. Let’s try to take full advantage of the time we have left. Let’s not stop looking for activities that we like. Let’s put colour in our greyness. Let’s smile at the little things in life that put balm in our hearts. And yet, we must continue to enjoy serenely the time that remains.

Donderdag 07 Januarie 2021

Proestukkie uit Somerson.

“Ruan, jy is soos ’n brak wie se tjank afgetrap is. Wat is dit? Ek dog dan als loop so mooi met die rooikoppie?” vra Jerrie waar hulle twee besig is om die perde te roskam. Ruan borsel Satan se pels met sterk hale en huiwer ’n rukkie voordat hy antwoord. “Aan die een kant loop dinge reg, maar andersins loop als verkeerd.” Jerrie laat sy borsel sak en frons. “Kom weer?” “Wanneer ons saam is, is sy sag en warm in my arms, maar sy hou vol met haar storie dat sy wil terug Bloem toe.” “Kan jy haar kwalik neem?” “Nee, natuurlik nie, maar wat kan ek doen om haar hier te hou ... gelukkig hier te hou, bedoel ek. Haar besigheid is haar hele lewe.” “As ek die saak so beluister, staan sy ’n baie goeie kans om haar besigheid heeltemal te verloor.” Ruan sug. “Jip en sy wil niks weet dat ek haar finansieel help nie.” Jerrie lag krakerig. “Natuurlik nie. Daardie ene is parmantig genoeg om die president homself te gaan aanvat oor die lockdown.” “Ja, hy sal nie weet wat hom getref het nie, sê ek jou. Jy moes haar gisteraand gehoor het toe hulle sy toespraak weer ’n keer gebeeldsaai het. Toe sy hoor die lockdown is verleng, was sy eers ontsteld, maar nou is sy woedend. Sy gee om vir haar mense wat dalk hul werk kan verloor.” “Selma sê dis vir haar so lekker om so saam-saam naaldwerk te doen met die dat hulle die kussinkies en goed maak op jou ouma se masjien. Dis vir haar soos toe jou ouma nog gelewe het,” vertel Jerrie. “Ek weet niks van naaldwerk nie, maar die goed wat hulle maak, is baie mooi.” “Netso. Dit lyk mos vir my haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy vat eenvoudig ’n ding en doen hom. As sy die kans kry, help sy nog vir Selma met die huiswerk ook. Kyk nou net hoe mooi lyk die huis al klaar en dit sonder al die winkelgoed wat sy in die stad gewoond is om te kry.” “Wat sê jy nou eintlik vir my, Jerrie?” Jerrie beduie met sy borsel in die lug. “Dat jy onnosel sal wees om haar terug stad toe te laat gaan. Wat het geword van ’n boer maak ’n plan?” Ruan lag. “Hierdie boer het al sy kop suf gedink, maar Sabrina hou voet by stuk. Sy wil teruggaan om haar besigheid te red.” “Maar jy het so ’n slag met moeilike perde, hoe is dit dan nou dat jy nie hierdie een vosperdjie kan laat kopgee nie? Het jy nou jou famous slag verloor?” “Miskien het ek tog nie my slag verloor nie. Wat daarvan as ons ’n plan maak om haar besigheid hier te kry?” spreek Ruan ’n gedagte wat al ’n rukkie in sy agterkop broei, hardop uit. “Hoe sal ons dit regkry? Hier is nie genoeg mense met geld vir mooimaakgoed vir hulle huise nie. Almal kry swaar na die droogte en nou boonop nog die lockdown ook.” Ruan se oë vernou terwyl hy aanhou om ritmies te borsel. Satan se oë trek skoon toe van lekkerkry. “Sy weet nie dat ek die e-pos gesien het nie, maar sy het ’n aanmaning gekry oor die huur van haar werkwinkel nie verlede maand betaal was nie. Sy het seker die geld gebruik om eerder haar mense se salarisse mee te betaal.” “H’m. Dit beteken as sy dit hierdie maand weer doen, hulle haar dalk daar sal uitskop?” bespiegel Jerrie. “Einste. Ek wou help, maar sy weier. Nou wonder ek of ons nie haar werkwinkel se inhoud hierheen kan verskuif nie. Netnou konfiskeer hulle dit om haar skuld te dek. Ons het baie spasie hier in die buitegeboue wat ons nie eintlik benut nie.” “Jis! Dis mos nou ’n bul van ’n boereplan.” “Ek dink ook so, maar sal sy? Sy vertel my heeldag sy soek nie ’n ridder op ’n wit perd om haar te red nie.” Jerrie blaas ’n asem hard uit. “Ek sien jou problem. Jy sal dit maar net moet laat lyk asof dit nie ’n poging is om haar te red nie. Sy moet dink dit was haar eie idee en dit sal ’n bleddie goeie idee moet wees.” Ruan kam Satan se maanhare. “Die eintlike vraag is nou: sal die verskuiwing van haar toerusting hierheen haar enigsins help?” Jerrie leun teen sy perd se buik. “Miskien moet ons Selma se hulp inroep. Daai ene het ’n brein soos ’n slagyster. Sy kan plannetjies beraam wat skrik vir niks. Vra vir my.” “Soos die keer toe sy wou Kaap toe vir Kersfees en jy wou nie?” vra Ruan laggend. “Maar sy het gekry wat sy wou hê. Sy het jou sowaar oorreed om vir die eerste keer in jou lewe in ’n vliegtuig te klim. Jy het my nooit vertel presies hoe sy jou afgepers het nie?” Jerrie lag verleë. “Jy wil nie weet nie. Al wat ek weet, is die liefde maak dat onse manne snaakse dinge aanvang.” Ruan lag sy ou maat nou openlik uit. Dan versober sy gesig weer. “Ek sê vir jou, ek is bereid om enigiets te doen om haar hier te hou. Vra asseblief vir Selma of sy vir my enige raad het.”