Skrywer van romantiese fiksie.

Inspirerende Romanses

1. HERFSWIND Mari Pelser is neer teen die grond. Haar ouers is gelyktydig dood in ’n motorongeluk. Sy het nou net een begeerte en dis om weg te kom van haar kleindorpse bestaan op Groeneweide. Die Pelsers het godsdiens in haar keel afgedruk en sy wil niks van hulle soort christenskap weet nie. Sy gaan ook nie die nuwe dominee toelaat om haar te bepreek nie, al maak die mooie man haar knieë lam. Intussen doen sy aansoek vir werk in die stad en leef haar uit in haar musiek as orrelis van die kerk en musiekonderwyseres by die skool. Sy kry egter nie die werk nie en intussen kruip dominee Driaan al dieper in haar hart. Toe ’n geheim wat die Pelsers al die jare vir haar weggesteek het onverwags op die lappe kom, is Mari se lewe weereens omver gewerp. Durf sy op Driaan leun en kan sy vertrou op die Hemelse Vader wat hy aanbid?
2. WINTERNAG
Belinda Behrens, befaamde sangeres, is doodseker dat sy die regte besluit geneem het om mans af te sweer. Hoekom raak die glinstering in Jaco Greyling se heldergroen oë en sy alewige tergery haar dan so? Sy is vier en veertig jaar oud en wys in die dinge van die wêreld, maar haar hart gaan te kere telkens wanneer sy die aantreklike beesboer iewers raakloop. Jaco is op moedverloor se vlakte. Sy vrou is oorlede en sy twee tienerkinders gee hom grys hare. Boonop staan hy op die rand van bankrotskap na jare van droogte en al hierdie dinge laat sy geloof in sy Skepper ernstig wankel. Hy is hoegenaamd nie gereed vir enige verhouding nie, hoekom kan hy dan die mooie Belinda nie weerstaan nie? Haar positiewe lewensuitkyk, onwrikbare geloof, sy vriend Ds Driaan se geestelike leiding en finansiële verligting uit ’n onverwagse oord help hom om sy pad terug na geluk te vind.
3. SOMERSON Sabrina loop die man wat sy gehoop het om nooit weer te sien nie, onverwags raak. Ruan maak planne om haar op ’n daaglikse basis te sien en hoe harder sy probeer om ongeraak te wees deur hierdie cowboy, hoe harder val sy vir hom. Toe die grendelstaat aangekondig word, moet sy vinnig besluit: gaan sy op vlug slaan, of gaan sy van sy aanbod gebruik maak om die tyd by hom deur te bring? ’n Hoër Hand gryp in, die pandemie breek uit en haar turf sit, sy is vasgekeer in Groeneweide. Die tyd van inperking word onbepaald verleng en Sabrina se dilemma word vererger – haar besigheid gaan binne weke van ’n reuse sukses na feitlik bankrot. Hoe kan God al hierdie dinge toelaat? Sy wil terug stad toe om haar onderneming te probeer red, maar Ruan wil haar by hom hou. Hoe gaan hy dit bewerkstellig? Sabrina moet ’n kopskuif maak en haar lewensdroom hersien voordat hulle saam geluk kan vind.
4. Lentelied. Alida-Mari Greyling, meer bekend as die sangeres Ali Grey, verloor die twee dinge waarop haar sukses berus, naamlik haar spraak en haar vlekkelose voorkoms. Na ’n ongeluk het sy maande nodig om te herstel en dit bring haar sangloopbaan in gedrang. Haar jeugliefde vind daarvan uit en bied aan dat sy by hom in Bloemfontein kan kom bly sodat sy die nodige behandeling kan kry en genesing vind, nie net medies en terapeuties nie, maar ook geestelik. Sy besef dat haar ou liefde beslis nie geroes het nie, maar voel hy dieselfde? Uiteindelik is sy gesond en gereed om terug te keer na New York om haar loopbaan te hervat, maar wil sy gaan? Meer nog, wil Jason hê sy moet weer na die anderkant van die aardbol verhuis?
5. Jaargety Die nuwe dokter op Groeneweide, Zadelle Swart, is nie net bekwaam nie, maar deksels mooi ook. Sy is egter afsydig en die jong manne van die omgewing loop hulle rieme styf as hulle gaan vlerksleep by die huis langs die spreekkamers. Jacques Greyling is nie so maklik om van ontslae te raak nie. As hy sy kop op iets gesit het, byt hy vas en hy wil vir Zadelle hê. Sy het ’n donker geheim wat maak dat sy mans ten alle koste vermy. ’n Traumatiese gebeurtenis in haar verlede het haar lewe verwoes, maar sy het met harde werk en deursettingsvermoë haarself deur die universitei gesit en haar lewensdroom om geneesheer te word, bewaarheid. Jacques se probleem is nou om deur haar skanse te breek en haar hart te wen. Dis egter nie so maklik nie, want sy het haarself afgesny van enige verhoudings. Om haar probleem te oorkom, het sy terapie nodig en wie is beter om haar te help as Groeneweide se geliefde leraar, dominee Driaan? Hy lei haar om haar pad na geloof terug te vind en so haar vertroue in die mensdom te herstel. Kan dit haar ook help om die verlede te verwerk en haar hart oop te maak vir die liefde wat Jacques haar bied?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking