Skrywer van romantiese fiksie.

Woensdag 06 September 2023

Proestukkie uit Eggo's van die hart

Sy oog val op ’n eensame figuur op ’n rots daar naby. Dis sowaar sy flerrie van ’n buurvrou wat daar sit. Vir ’n verandering is sy nie besig om met die een of ander man ’n flirtasie aan te knoop nie. Dit lyk of sy sit en skryf. Nee, die lang hale van haar potlood oor die bladsy van ’n tekenblok lyk meer of sy skets. Sy is mos ’n kunstenaar. Nou is sy belangstelling geprikkel. Sonder om te dink, stap hy nader. Impulsief lig hy sy kamera om haar beeld te verewig. Met haar los hare, wat die seebriesie om haar kop laat wapper, lyk sy soos ’n meermin daar op die rots. Die klikgeluid van sy kamera toe hy naby haar kom, laat haar gesteurd opkyk. “Hei, wat maak jy?” vra sy. “Ek kiek meerminne,” antwoord hy ongeërg. Sy maak haar hare bymekaar en glip ’n rekkie van haar pols af om dit in ’n poniestert agter in haar nek vas te bind. “Meerminne woon onder die see in Atlantis, nie hier nie.” Nou is haar hoë wangbene en mooi seegroen oë net meer prominent en sy vinger druk onwillekeurig weer en weer die knoppie van die kamera. Is die kyk wat sy in sy rigting mik agterdogtig? Seker oor sy snaakse optrede laasweek toe hy die hekpaal verwoes het. Hy moet meer selfbeheersing toepas. Maar die terugflitse en nagmerries is buite sy beheer, die weet hy mos. Die psigiater het gesê dit sal tyd neem om te vervaag. Sy draai haar kop weg. “Vra jy nie mense se toestemming voor jy hulle afneem nie?” “Nie die van flerries wat enigiets doen om mans se aandag te trek nie.” Hy hou sy kamera gereed vir haar reaksie en word nie teleurgestel nie. Haar kop ruk op en haar mond val oop. “W ... wat sê jy daar?” Hy verkneukel hom in die stilligheid. Daardie giftige kyk sal ’n man se velle kan afskil. Hy grinnik selfvoldaan en hou aan foto’s neem. “Dit werk elke keer. Eerlike, spontane reaksie maak die heel beste foto’s.” “Stop dit!” Sy vlieg op en begin kop onderstebo om haar sketsblok en potlode in die sak wat sy by haar het, te druk. “Relax. Kameraskote is nie geweerskote nie.” “Daar waar jy vandaan kom, gaan die twee hand aan hand, nie waar nie?” Sy haak haar rugsak se bande oor haar skouers. “Jy is vroeg hier onder,” verander hy veiligheidshalwe die onderwerp. “Is kunstenaars nie veronderstel om lui wesens te wees wat laat slaap nie?” “Nie so lui soos kameramanne wat soos kluisenaars lewe nie. Ek is verbaas om jou buite te sien,” snip sy terug. Nie op haar bek geval nie, né? “Touché.” “Wat neem jy af, behalwe vroue met vissterte? Wat ek, terloops, nie het nie.” Sy lig ’n kaal voet met toonnaels wat soos pienk, blou, pers, groen en geel skulpies lyk. Elkeen is sowaar ’n ander pastelkleur geverf! Hy glimlag, mik en druk vir nog ’n foto of twee van haar bont tone. “Hoekom dra jy verflenterde jeans? Kry kunstenaars deesdae so swaar?” vra hy met sy oë op haar knieë wat tussen flenters uitloer. “Dis nie verflenter nie, dis ontwerpersjeans.” Verontwaardiging laat haar oë blits. ’n Vonk daarvan resoneer in hom. “Genade, wat sal julle generasie nou nog uitdink?” Sy lyk vir hom nogal oulik daarmee.