Skrywer van romantiese fiksie.

Donderdag 07 Januarie 2021

Proestukkie uit Somerson.

“Ruan, jy is soos ’n brak wie se tjank afgetrap is. Wat is dit? Ek dog dan als loop so mooi met die rooikoppie?” vra Jerrie waar hulle twee besig is om die perde te roskam. Ruan borsel Satan se pels met sterk hale en huiwer ’n rukkie voordat hy antwoord. “Aan die een kant loop dinge reg, maar andersins loop als verkeerd.” Jerrie laat sy borsel sak en frons. “Kom weer?” “Wanneer ons saam is, is sy sag en warm in my arms, maar sy hou vol met haar storie dat sy wil terug Bloem toe.” “Kan jy haar kwalik neem?” “Nee, natuurlik nie, maar wat kan ek doen om haar hier te hou ... gelukkig hier te hou, bedoel ek. Haar besigheid is haar hele lewe.” “As ek die saak so beluister, staan sy ’n baie goeie kans om haar besigheid heeltemal te verloor.” Ruan sug. “Jip en sy wil niks weet dat ek haar finansieel help nie.” Jerrie lag krakerig. “Natuurlik nie. Daardie ene is parmantig genoeg om die president homself te gaan aanvat oor die lockdown.” “Ja, hy sal nie weet wat hom getref het nie, sê ek jou. Jy moes haar gisteraand gehoor het toe hulle sy toespraak weer ’n keer gebeeldsaai het. Toe sy hoor die lockdown is verleng, was sy eers ontsteld, maar nou is sy woedend. Sy gee om vir haar mense wat dalk hul werk kan verloor.” “Selma sê dis vir haar so lekker om so saam-saam naaldwerk te doen met die dat hulle die kussinkies en goed maak op jou ouma se masjien. Dis vir haar soos toe jou ouma nog gelewe het,” vertel Jerrie. “Ek weet niks van naaldwerk nie, maar die goed wat hulle maak, is baie mooi.” “Netso. Dit lyk mos vir my haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy vat eenvoudig ’n ding en doen hom. As sy die kans kry, help sy nog vir Selma met die huiswerk ook. Kyk nou net hoe mooi lyk die huis al klaar en dit sonder al die winkelgoed wat sy in die stad gewoond is om te kry.” “Wat sê jy nou eintlik vir my, Jerrie?” Jerrie beduie met sy borsel in die lug. “Dat jy onnosel sal wees om haar terug stad toe te laat gaan. Wat het geword van ’n boer maak ’n plan?” Ruan lag. “Hierdie boer het al sy kop suf gedink, maar Sabrina hou voet by stuk. Sy wil teruggaan om haar besigheid te red.” “Maar jy het so ’n slag met moeilike perde, hoe is dit dan nou dat jy nie hierdie een vosperdjie kan laat kopgee nie? Het jy nou jou famous slag verloor?” “Miskien het ek tog nie my slag verloor nie. Wat daarvan as ons ’n plan maak om haar besigheid hier te kry?” spreek Ruan ’n gedagte wat al ’n rukkie in sy agterkop broei, hardop uit. “Hoe sal ons dit regkry? Hier is nie genoeg mense met geld vir mooimaakgoed vir hulle huise nie. Almal kry swaar na die droogte en nou boonop nog die lockdown ook.” Ruan se oë vernou terwyl hy aanhou om ritmies te borsel. Satan se oë trek skoon toe van lekkerkry. “Sy weet nie dat ek die e-pos gesien het nie, maar sy het ’n aanmaning gekry oor die huur van haar werkwinkel nie verlede maand betaal was nie. Sy het seker die geld gebruik om eerder haar mense se salarisse mee te betaal.” “H’m. Dit beteken as sy dit hierdie maand weer doen, hulle haar dalk daar sal uitskop?” bespiegel Jerrie. “Einste. Ek wou help, maar sy weier. Nou wonder ek of ons nie haar werkwinkel se inhoud hierheen kan verskuif nie. Netnou konfiskeer hulle dit om haar skuld te dek. Ons het baie spasie hier in die buitegeboue wat ons nie eintlik benut nie.” “Jis! Dis mos nou ’n bul van ’n boereplan.” “Ek dink ook so, maar sal sy? Sy vertel my heeldag sy soek nie ’n ridder op ’n wit perd om haar te red nie.” Jerrie blaas ’n asem hard uit. “Ek sien jou problem. Jy sal dit maar net moet laat lyk asof dit nie ’n poging is om haar te red nie. Sy moet dink dit was haar eie idee en dit sal ’n bleddie goeie idee moet wees.” Ruan kam Satan se maanhare. “Die eintlike vraag is nou: sal die verskuiwing van haar toerusting hierheen haar enigsins help?” Jerrie leun teen sy perd se buik. “Miskien moet ons Selma se hulp inroep. Daai ene het ’n brein soos ’n slagyster. Sy kan plannetjies beraam wat skrik vir niks. Vra vir my.” “Soos die keer toe sy wou Kaap toe vir Kersfees en jy wou nie?” vra Ruan laggend. “Maar sy het gekry wat sy wou hê. Sy het jou sowaar oorreed om vir die eerste keer in jou lewe in ’n vliegtuig te klim. Jy het my nooit vertel presies hoe sy jou afgepers het nie?” Jerrie lag verleë. “Jy wil nie weet nie. Al wat ek weet, is die liefde maak dat onse manne snaakse dinge aanvang.” Ruan lag sy ou maat nou openlik uit. Dan versober sy gesig weer. “Ek sê vir jou, ek is bereid om enigiets te doen om haar hier te hou. Vra asseblief vir Selma of sy vir my enige raad het.”