Skrywer van romantiese fiksie.

Romantiese komedies

Die ses verhale van die Le Fleur reeks vertel die stories van die wynmakers van die Franschhoekvallei: die Cronje's, Retiefs en Malans. Die reeks is saam in twee bundels uitgegee – Hartewens en Hartsbegeerte.
1. Onwelkome geskenk: Mareli is gelukkig soos sy is, behalwe dat sy nooit weet of mense in haar belangstel net oor hulle weet sy gaan eendag skatryk erf nie. Daarom vermy sy verhoudings. Sy is lief vir haar oupa, maar hy probeer haar voorberei om eendag sy sake ryk oor te neem en sy wil niks daarvan weet nie. Toe hy vir haar ’n man met ’n strik om sy nek as verjaardaggeskenk stuur, is sy sommer dadelik omgekrap. Werner en haar oupa het gekonkel en sy sal hulle wys, sy laat nie met haar mors nie. Maar Werner dring haar persoonlike ruimte binne, wys haar daar is meer aan die lewe as net dit wat sy ken. Sy wil egter niks van hom weet nie, maar haar hart besluit anders ...
2. Handomkeer: Darius Retief is doodgelukkig soos hy is. Hy is keldermeester op hul familieplaas, Le Fleur en sy lewe is vol. Hy het nie ’n vrou nodig om hom vervuld te laat leef nie. Sy wyse Ma, Mercia, voel egter anders en sy stel vir hom ’n assistent aan. Bea, wynmaker van formaat, het in Johannesburg se agterstrate grootgeword en sy skrik nie vir koue pampoen nie. Hy kan haar ignoreer of nie, sy gaan nie toelaat dat hy in die pad van haar lewensideaal staan nie. Darius sal sy ma wys, hy gaan nie dat haar gekonkel sy lewe omver werp nie, maar vanaf die dag wat Bea by sy kelder instap, verander alles – hy verander soos handomkeer!
3. Le Fleur se hartebreker: Die aantreklike Gerard Retief breek harte so ver as wat hy gaan en Janneli, Le Fleur se nuwe gastehuisbestuurder, gaan nie in daardie strik trap nie. Hy wed haar egter dat hy haar hart binne ’n kort tydjie gaan verower en maak haar ernstig die hof. Sy skop teen die prikkels, maar haar ongehoorsame hart stem nie saam nie. Sy het egter met voorbedagte rade Franschhoek toe gekom. Wat is die geheim uit haar verlede en hoe kan hul splinternuwe verhouding daardie struikelblok oorkom?
4. Terug na jou: Mercia Retief het nog altyd net gedoen wat die beste vir haar vier seuns is, selfs die liefde van haar lewe prys gegee om vir hulle hul erfenis te verseker. Nou het sy egter die kans om haar eie geluk na te jaag, want Etienne Malan, die biologiese pa van haar jongste twee seuns, is uiteindelik vry om na haar toe te kom. Weereens word sy voor die bittere keuse gestel om die welsyn van haar kinders bo haar eie te stel. Kan sy hulle almal se geluk verseker deur haar geheim bekend te maak? Sal haar hartsmense haar kan vergewe vir die keuses wat sy in die verlede gemaak het?
5. Kolwyntjie: Melani se lewensdroom word waar toe sy haar eie besigheid open. Die enigste vlieg in die salf is die dokter van die praktyk langsaan wat knaend haar pad kruis. Hy en sy tweelingbroer is albei bitter aantreklik en kom ewe dikwels om van haar lekker gebak te koop. Hulle lyk egter uiters bekend. Is dit dan nie die tweeling met wie sy en haar tweelingsuster jare gelede daardie veelbewoë aand baie pret saam gehad het nie? Sy kan hulle mos nie vermy nie en haar hart besluit namens haar dat Lourens die een vir haar is. Sal hy haar bo sy loopbaan verkies, of moet sy liewer van hom vergeet?
6. Altyd die strooimeisie: Zoë Davel verloor haar hart met die eerste fluweelbruin oogopslag op Meyer Malan. Hy is deel van die familie wat sy haar lewe lank al met afguns bejeën. Durf sy hulle vertel wie sy regtig is? Hulle sal haar mos nooit glo nie en nog minder sal hulle haar as een van hulle aanvaar. Die Retiefs is egter nie die hooghartige familie soos sy haar dit altyd voorgestel het nie. Durf sy haar eie geluk aangryp en hul liefde aanvaar?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking