Skrywer van romantiese fiksie.

Super romanses

Die Skakerings reeks speel af op die klein kusdorpie, Fynbos waar werkloosheid aan die orde van die dag is. Hierdie is drie Super Romanzas en is langer en meer verwikkelde verhale as die gewone Romanzas.
Boek 1: Skakerings van Hoop. Anina vlug van ’n man wat haar en haar kind emosioneel verinneweer en gaan soek skuiling in die huis wat sy van haar ouma erf. Haar ouma se vriendin en vennoot in die tuisnywerheid waar hulle wol spin en kleur, neem haar en haar dogtertjie onder haar moederlike vlerk en Anina word stadig maar seker heel. Sy is egter nie voorbereid daarop om haar ou jeugliefde daar raak te loop nie. Hy besit die strandhuis langsaan, maar hy veg teen struikelblokke van sy eie. Hy val vinnig vir haar dogter, maar kan hulle weer hul ou liefde laat herlewe?
Boek 2: Skakerings van Liefde. Nadia is ’n bekroonde ontwerper van gebreide en gehekelde klere. Hoekom kom woon en werk sy dan op Fynbos en help die vroue om hul klein tuisnywerheid uit te bou tot 'n florerende besigheid wat vir baie van hulle nuwe hoop bring? Die nuwe dokter op die dorp vlug Fynbos toe om herinneringe van sy oorlede vrou te ontkom en 'n nuwe lewe vir hom en sy seun te skep. Daar is egter ’n geheim wat Nadia en die dokter met mekaar verbind. Wat kan dit wees en kan hy haar vergewe oor sy dit vir hom wegsteek?
Boek 3: Skakerings van Geluk. Lea Richter is vasgevang op Fynbos, want haar ma het haar daar nodig. Sy probeer haar balans behou deur op lang ritte op haar kragtige motorfiets te gaan en romantiese verhale onder 'n skuilnaam te skryf. Eendag kom haar droomheld in lewende lywe in haar biblioteek ingestap en Lea se lewe kry nuwe kleur. Stef Britz is egter van 'n totaal ander wêreld en sal mos nie in haar belangstel nie. Hy kan egter nie van haar af wegbly nie. Boonop is daar ’n donker geheim tussen hulle twee se families. Hoe kan hulle 'n verhouding maak werk?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking