Skrywer van romantiese fiksie.

Spanningsromanses

Die reeks is nou voltooi. Ek waag hierdie keer my hand aan spanningsromanses. Laat weet my of julle daarvan hou.
Boek 1: Lank, donker en gevaarlik het reeds verskyn. Joe Schoeman, wildveearts en kranige beskermer vir die erg bedreigde renosters van hul omgewing en Lizma Heynz, vryskutskrywer en wildboer is knaend haaks. Lizma se pa het hom gevra om ’n ogie oor haar te hou en sy glo sy kan net so goed na haarself omsien as enige testosteroonoorlaaide mansmens. Lizma se verloofde het haar verneuk met haar beste vriendin en Joe se eks het die pad gevat oor sy nie op ’n plaas wil woon nie. Kan die twee weer iemand van die teenoorgestelde geslag vertrou en lief kry? Dis nou so tussen hul voortdurende gevegte met die renosterstropers en plaasaanvallers deur.
Boek 2: Lank, donker en verleidelik verskyn in Julie 2019. Herman Schoeman, Joe se broer en vennoot in hul wildveearts praktyk, is erg verrinneweer nadat die renosterstropers hom uit weerwraak ontvoer en aangerand het. Suster Tessa Vermaak moet hom in die hospitaal verpleeg. Hy wil egter nie pamperlang wees nie, al raak hy soos ’n klein seuntjie wanneer nagmerries hom ry. Is daar meer aan sy trauma as net die sigbare wonde van sy onlangse trauma? Tessa is ’n versorger en versorg sal sy. Hy wil egter niks weet nie, hy kan sy eie sake reël al laat die mooi sustertjie iets in sy binneste roer!
Boek 3: Lank, donker en dierbaar verskyn in September 2019. Rochelle Benade, maatskaplike werkster en kampvegter vir mishandelde vroue en kinders, kom in die hof te staan teen Zirk Heynz, die prokureur wat sowaar die ouers van die mishandelde kinders verdedig. Hy en die duiwel van die kinderbybel moet sweerlik maats wees en Rochelle vertrou sy motiewe net mooi niks! Maar die aantreklike derduiwel trek telkens haar aandag en sy ouma dink boonop hy is dierbaar. Hoe bring jy die twee bymekaar?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking