Skrywer van romantiese fiksie.

Dinsdag 25 Junie 2019

Lank, donker en gevaarlik

Lizma Heynz wil van verhoudings niks weet nie. Het haar eksverloofde haar dan nie met haar beste vriendin verneuk nie? Joe Schoeman is ’n wildveearts wat elke dag sy lewe waag om renosters teen gewetenlose stropers te bewaar. Hoeveel te meer sal hy nie die vrou wat hy liefgekry het, wil veilig hou nie? Lizma se pa vra hom om na haar en haar ma en ouma om te sien na sy dood, maar sy het geen man nodig om haar teen gevare te beskerm nie, sy kan haarself net so goed soos enige man handhaaf! Maar hoe kan sy haar hart teen die aanslag van die liefde beskerm?

Maandag 24 Junie 2019

Lank, donker en verleidelik

Tessa Vermaak het dit altyd veilig gespeel, voorspelbaar opgetree, maar Herman Schoeman het alles kom verander. Hy verlei haar om uit haar gemaksone te tree en haar loopbaan sowel as haar hart op die spel te plaas. Toe sy die sprong uiteindelik waag, plaas sy ook haar lewe in gevaar. Kan dit vir hulle albei die geluk bring wat hulle begeer?

Vrydag 21 Junie 2019

Koffiekultuur

Al wat leef en sy maat is skielik gaande oor koffie. As jy nie ’n koffieverslaafde is nie, is jy nou heel uit die mode. In die stede maak niemand omtrent meer hul eie koffie nie, dit moet ’n dubbele mokka-chokka-latte-gedoente met pypkaneel of karamel op die koop toe wees. Die sokkermammas kuier van die een koffiewinkel na die ander terwyl hulle wag dat die skool uitkom. Om koffie te kan maak, het jy nou ’n barista sertifikaat nodig. Jy moet daai koffie kan klits, meng, skommel, roer en skink, ou boeta! Boonop moet jy geoefen wees in koffiekuns – dis nou daai prentjies wat jy in die skuim teken. ’n Barista kursus is glo ook nie kinderspeletjies nie. Vir drie dae lank leer jy by die Barista Akademie in Johannesburg alles van koffiemaak vir ’n hele R3 800.
MAAR is koffie dan nie maar net koffie nie? Vra jy wat lippe het! Gewone Boeretroos uit ’n blikbeker bly mos maar die beste, of hoe? Blykbaar nie – dis nou volgens die koffiekenners. Hulle reken daar is baie meer aan koffie maak as net water kook, skink en roer. Jy moet jou koffie KEN!!

Woensdag 19 Junie 2019

Stoepsit is ’n lekker sit.

Onthou julle die ou kinderrympie van Ouma en Oupa sit op die stoep ...? Wel, hier waar ons woon, is ons so bevoorreg om baie stoepe te hê waar ouma en oupa kan sit. Gelukkig laat die Bosveldklimaat stoepsit regdeur die jaar toe. Ons kan tot op die koudste dag van die jaar op die stoep sit en onsself in die sonnetjie se snoesige strale koester. Stoepsit is mos tradisie onder ons mense. Dis waar dinge gewoonlik gebeur. Ons ou klomp is gedurig aan die woel en werskaf om hul stoepe te verbeter en te verfraai, want dis waar ons meestal leef, jy sien. Dis ’n lus vir die oog en ’n plesier om rondom die geboue te stap om almal se stoepe te bewonder. Nuwe braaiplekke word gebou, buitelugkaggels geïnstalleer, vloere geteël en dakke opgesit. Geen geld of moeite word ontsien om jou stoep die mooiste en geselligste kuierplek van die oord te maak nie. Hier in die kompleks is allerhande soorte stoepe: braaistoepe, toegeboude sonstoepe, voorstoepe, agterstoepe en selfs bomas. As jy nie jou stoep benut nie, is jy nie ’n ware Bosvelder nie. Jy kry ons douvoordag op die stoep met ’n beker stomende koffie en ’n stukkie beskuit terwyl die tarentale en bospatryse kom bedel vir ’n paar mieliepitte. Teen elfuur se koers gesels ons ou stukke met die bure oor ’n koppie tee en soetkoekies. Vieruur is dit koffie en melktert. Skemertyd kuier ons weer oor ’n kelkie wyn op die braaistoep terwyl die Bosveld se bloedrooi sonsondergang die wolke pienk verkleur en die braaivleisvuurtjie lustig knetter. Laataand kry jy ons tot watter tyd met bekers warm sjokolade daar by die boma rondom ’n vuurkonka waar baie slim praatjies uitgeruil en malvalekkers gebraai word. Maak nie saak watter tyd van die dag nie – stoepsit, die sit ons!

Saterdag 15 Junie 2019

’n Uittreksel uit Lank, donker en gevaarlik

Hierdie is hoe ek my voorstel Joe en Herman se plaashuis moet lyk. Op daardie stoepe het heelwat van die tonele in die lank en donker reeks afgespeel. Hierdie uittreksel kom uit die eerste boek in die reeks, Lank, donker en gevaarlik.
“Hei, is daar vir my ook ’n bier?” begroet Herman hom en help homself toe Joe na die bier op die stoepmuur wys. “Het jy gehoor die sindikaat het laasnag toegeslaan op ’n plaas nie ver hiervandaan nie?” vra hy toe hy teenoor sy broer met sy rug teen die ander stoeppilaar gaan sit. “Ja, Wildbewaring se manne het my laat weet, maar te laat dat ons iets daaromtrent kon doen. Hierdie keer kon ons die arme diere nie red nie. Het hulle jou uitgeroep na die plaas toe? Is dit waarheen jy so vroeg weg is vanoggend? Hoekom het jy my nie wakkergemaak nie?” “Jip, maar dit was klaar te laat, toe los ek jou maar om liewer nog te slaap. Vandag was immers jou af dag by die praktyk. Ons kon in elk geval niks vir een van die drie diere doen nie. Toe ek daar kom, was hulle reeds dood. Daar het net een kalfie oorgebly. Die boer wil die kalfie nou verniet weggee, hy en sy vrou is in sak en as oor hul renosters wat dood is.” Joe sluk hard aan die gal wat in sy keel opstoot. “Ek wil geen renoster op my grond hê nie, dis net moeilikheid soek.” “Naar, maar waar. Lizma het ook daar opgedaag. Sy ken die mense glo goed. Kan jy glo, sy wou met alle geweld die kalfie huis toe neem en hans grootmaak, maar ek het haar afgeraai. Soos jy sê, dis moeilikheid soek.” “Lizma? Tipies! Ek hoop nie sy doen dit in elk geval nie, daai ene luister na geen goeie raad nie, daarvoor is sy te eiesinnig. Sy dink met haar hart, nie met haar kop nie.” “Vroumense is veronderstel om so te wees. Dis wat hulle anders as ons maak. Ons dink weer met iets heel anders, soos jy, sedert jy ons nuwe buurvrou ontmoet het,” Herman kyk tergend na sy broer. “H’m.” Dit help tog nie hy stry nie, Herman ken hom te goed. “Sy het onlangs baie seergekry toe ’n nikswerd javel haar met haar beste vriendin verneuk het. Sowat van vermetel het ek nog nooit ontmoet nie.” Hy vertel vlugtig wat gebeur het toe hy vir Stefan ontmoet het. “As ek hom weer sien, druk ek so waaragtig sy strot vir hom af,” sluit hy sy vertelling af. Herman lag spottend. “The plot thickens. As jy nou al strotte wil afdruk vir haar, het jy die skoot hoër deur as wat ek gedink het, my broer.” “Sak Sarel. Ek het self ook baie onlangs my vingers lelik verbrand met ’n vroumens. Ek duik nie sommer maklik weer kop eerste in daardie selfde maalkolk nie.” “Onthou dit net wanneer sy jou mouter se revolusies weer hemelhoog opjaag, hoor. Ek het gesien hoe jy na haar kyk die dag toe ons oom Dawid se renosters onthoring het.” “Ja, toe nou maar, kyk is skadeloos, gelukkig kan ek darem nog my mouter beheer. Ek wag vir die dag wat dit met jou gebeur, dan sal jy ’n heel ander deuntjie sing. Gee liewer vir my nog ’n bier aan voor jy vir my ’n strop om die nek beplan. Ek is doodgelukkig met Sofie se kos en al dryf jou geselskap my teen die mure uit, kan ek dit die meeste van die tyd verduur, so ek is gelukkig met die status quo, baie dankie.”

Vrydag 14 Junie 2019

Oggendkoffie op my stoep.

Die heerlikste koffiekuier is daardie eerste koppie koffie in die oggend op my stoep – net ek en my gunsteling koffiebeker vol warm melkkoffie. Dis wanneer almal nog slaap en ek sonder steurnis kan werk aan my stories. Dan is my kop skoon en kan ek lekker werk. Die karakters praat met my terwyl ek nog so tussen slaap en wakker is voordat ek opstaan, vertel my wat hulle vandag gaan aanvang. Dan kan ek nie wag om by my rekenaar uit te kom en te begin werk nie. Maar natuurlik moet ek eers my eerste dosis kafeïn vir die dag in kry. Terwyl die stoompie lui uit my koffie trek, beplan ek die toneel wat ek volgende gaan skryf. Klik op 'comments' as jy saam wil praat. Vertel my van jou eerste koppie koffie in die oggend.

Kom sit gerus saam met my op die stoep en gesels.


Ek is ’n stoepsitter. Ek laat nooit ’n geleentheid verbygaan om op die stoep te kuier saam met vriende nie. Dis die lekkerste plek vir vroegoggend-koffie of laataand-wyn. Dis waar ons kopstukke praat, mekaar leer ken en beter bevriend raak. Hierdie is ’n ope uitnodiging vir my lesers, vriende en familie om saam te kom kuier. Kom sit gerus saam met my op my stoep, laat ons bietjie gesels!