Skrywer van romantiese fiksie.

Woensdag 19 Junie 2019

Stoepsit is ’n lekker sit.

Onthou julle die ou kinderrympie van Ouma en Oupa sit op die stoep ...? Wel, hier waar ons woon, is ons so bevoorreg om baie stoepe te hê waar ouma en oupa kan sit. Gelukkig laat die Bosveldklimaat stoepsit regdeur die jaar toe. Ons kan tot op die koudste dag van die jaar op die stoep sit en onsself in die sonnetjie se snoesige strale koester. Stoepsit is mos tradisie onder ons mense. Dis waar dinge gewoonlik gebeur. Ons ou klomp is gedurig aan die woel en werskaf om hul stoepe te verbeter en te verfraai, want dis waar ons meestal leef, jy sien. Dis ’n lus vir die oog en ’n plesier om rondom die geboue te stap om almal se stoepe te bewonder. Nuwe braaiplekke word gebou, buitelugkaggels geïnstalleer, vloere geteël en dakke opgesit. Geen geld of moeite word ontsien om jou stoep die mooiste en geselligste kuierplek van die oord te maak nie. Hier in die kompleks is allerhande soorte stoepe: braaistoepe, toegeboude sonstoepe, voorstoepe, agterstoepe en selfs bomas. As jy nie jou stoep benut nie, is jy nie ’n ware Bosvelder nie. Jy kry ons douvoordag op die stoep met ’n beker stomende koffie en ’n stukkie beskuit terwyl die tarentale en bospatryse kom bedel vir ’n paar mieliepitte. Teen elfuur se koers gesels ons ou stukke met die bure oor ’n koppie tee en soetkoekies. Vieruur is dit koffie en melktert. Skemertyd kuier ons weer oor ’n kelkie wyn op die braaistoep terwyl die Bosveld se bloedrooi sonsondergang die wolke pienk verkleur en die braaivleisvuurtjie lustig knetter. Laataand kry jy ons tot watter tyd met bekers warm sjokolade daar by die boma rondom ’n vuurkonka waar baie slim praatjies uitgeruil en malvalekkers gebraai word. Maak nie saak watter tyd van die dag nie – stoepsit, die sit ons!

4 opmerkings:

  1. Lyk vir my na die perfekte plekkie vir lekker lees en ontspan Madelie. Ek stem, dis verseker ń groot voorreg om ń stoep te kan hê... veral wanneer die winter son daarin skyn. ń Goeie, boek, koffie en die stilte om jou wat jou wegvoer na eksotiese pkekkies soos ek myself inleef in jou boeke! 🌹

    AntwoordVee uit
  2. Ons is baie bevoorreg en die Bosveldson stel mos nooit teleur nie. Ons leef op ons stoepe.

    AntwoordVee uit
  3. Ditto Madelie. Ek kan skaars wag vir die lente om weer te begin! Koud in Vrydag vandag! 👀🌹

    AntwoordVee uit