Skrywer van romantiese fiksie.

Saterdag 15 Junie 2019

’n Uittreksel uit Lank, donker en gevaarlik

Hierdie is hoe ek my voorstel Joe en Herman se plaashuis moet lyk. Op daardie stoepe het heelwat van die tonele in die lank en donker reeks afgespeel. Hierdie uittreksel kom uit die eerste boek in die reeks, Lank, donker en gevaarlik.
“Hei, is daar vir my ook ’n bier?” begroet Herman hom en help homself toe Joe na die bier op die stoepmuur wys. “Het jy gehoor die sindikaat het laasnag toegeslaan op ’n plaas nie ver hiervandaan nie?” vra hy toe hy teenoor sy broer met sy rug teen die ander stoeppilaar gaan sit. “Ja, Wildbewaring se manne het my laat weet, maar te laat dat ons iets daaromtrent kon doen. Hierdie keer kon ons die arme diere nie red nie. Het hulle jou uitgeroep na die plaas toe? Is dit waarheen jy so vroeg weg is vanoggend? Hoekom het jy my nie wakkergemaak nie?” “Jip, maar dit was klaar te laat, toe los ek jou maar om liewer nog te slaap. Vandag was immers jou af dag by die praktyk. Ons kon in elk geval niks vir een van die drie diere doen nie. Toe ek daar kom, was hulle reeds dood. Daar het net een kalfie oorgebly. Die boer wil die kalfie nou verniet weggee, hy en sy vrou is in sak en as oor hul renosters wat dood is.” Joe sluk hard aan die gal wat in sy keel opstoot. “Ek wil geen renoster op my grond hê nie, dis net moeilikheid soek.” “Naar, maar waar. Lizma het ook daar opgedaag. Sy ken die mense glo goed. Kan jy glo, sy wou met alle geweld die kalfie huis toe neem en hans grootmaak, maar ek het haar afgeraai. Soos jy sê, dis moeilikheid soek.” “Lizma? Tipies! Ek hoop nie sy doen dit in elk geval nie, daai ene luister na geen goeie raad nie, daarvoor is sy te eiesinnig. Sy dink met haar hart, nie met haar kop nie.” “Vroumense is veronderstel om so te wees. Dis wat hulle anders as ons maak. Ons dink weer met iets heel anders, soos jy, sedert jy ons nuwe buurvrou ontmoet het,” Herman kyk tergend na sy broer. “H’m.” Dit help tog nie hy stry nie, Herman ken hom te goed. “Sy het onlangs baie seergekry toe ’n nikswerd javel haar met haar beste vriendin verneuk het. Sowat van vermetel het ek nog nooit ontmoet nie.” Hy vertel vlugtig wat gebeur het toe hy vir Stefan ontmoet het. “As ek hom weer sien, druk ek so waaragtig sy strot vir hom af,” sluit hy sy vertelling af. Herman lag spottend. “The plot thickens. As jy nou al strotte wil afdruk vir haar, het jy die skoot hoër deur as wat ek gedink het, my broer.” “Sak Sarel. Ek het self ook baie onlangs my vingers lelik verbrand met ’n vroumens. Ek duik nie sommer maklik weer kop eerste in daardie selfde maalkolk nie.” “Onthou dit net wanneer sy jou mouter se revolusies weer hemelhoog opjaag, hoor. Ek het gesien hoe jy na haar kyk die dag toe ons oom Dawid se renosters onthoring het.” “Ja, toe nou maar, kyk is skadeloos, gelukkig kan ek darem nog my mouter beheer. Ek wag vir die dag wat dit met jou gebeur, dan sal jy ’n heel ander deuntjie sing. Gee liewer vir my nog ’n bier aan voor jy vir my ’n strop om die nek beplan. Ek is doodgelukkig met Sofie se kos en al dryf jou geselskap my teen die mure uit, kan ek dit die meeste van die tyd verduur, so ek is gelukkig met die status quo, baie dankie.”

1 opmerking:

  1. As jy nog nie Lank, donker en gevaarlik gelees het nie, maak seker jy kry hom voordat Boek 2 binnekort verskyn.

    AntwoordVee uit