Madelie Human se Kuierstoep
Skrywer van romantiese fiksie.
Donderdag 09 Februarie 2023
Proestukkie uit Hoog tyd
Dani druk haar kamerdeur op knip toe Sofia kopskuddend wegstap. Dit sal nie deug om die personeel die eerste dag van hul huwelik reeds iets te gee om oor te skinder nie. Sy gaan tjoepstil net hier bly en in haar eie bed inkruip. Sy is gedaan na al die opwinding van die dag en wil net in die bed kom. Spyt dat sy nie vir Sofia gevra het om haar eers te help uittrek nie, vroetel sy moedeloos met die string piepklein knopies agter haar rug. Dit maak nie saak hoe sy haar arm draai en dwing nie, sy kan dit nie bykom nie. Die kamer is boonop vriesend koud, want die gebruiklike vuur in die kaggel is afwesig vanaand. Die slawe het natuurlik vuur gemaak in die hoofslaapkamer – volgens hul heer en meester se opdrag!
Sy sal liewer vries voor sy gehoor gee aan ’n man wat namens haar besluite neem. Sy steun en kreun, maar moet uiteindelik haar pogings om die knopies los te kry, laat vaar. Miskien moet sy die rok net so oor haar kop trek, die nek is immers wyd genoeg. Sy gryp die soom vas en lig die romp oor haar kop, maar die dun middeltjie weier om oor haar skouers te gaan en steek vas. Dani ruk en pluk, maar sy is vasgevang in die talle lae symateriaal. Sy kry die spulletjie ook nie weer terug na die normale posisie toe gerem nie.
“Kan ek help?” kom haar man se diep stem van die deur se kant af.
Dani hou op stoei. “Nee, gaan weg! Ek kan self regkom, dankie.”
Twee treë bring hom tot by haar. “Dit lyk nie vir my so nie. Ek dink as ek jou nie help nie, mag jy dalk tussen al hierdie pêrels en sy versmoor.”
Dani kan hoor hy is hoogs geamuseerd en dit maak haar net nog meer omgekrap. Sy wou voorgee om onder die kombers vas aan die slaap te wees indien hy haar hier sou kry. Nou staan sy ewe onelegant met haar rok oor haar kop en haar agterstewe in die lug. Hoe vernederend. “Aargh!” grom sy weer en pluk wanhopig aan die rok.
“Pasop, jy gaan die fyn materiaal skeur.” Hy begin om die lae rokke versigtig terug te vou. “Waar op aarde is jy tussen al hierdie lae lap?” Hy lag nou hardop. “Genade, Dani, jy het jouself omtrent vasgeknoop ... aa, daar’s jy!” Hy gee die rok ’n finale plukkie en alles sak na hul oorspronklike posisie toe terug, maar helaas, met die nare geluid van gare wat lostrek en talle knopies wat op die houtvloer spat. “Oeps ... die mense sal dink jou bruidegom was so ongeduldig om jou uit jou klere te kry, dat hy die rok van jou afgeskeur het.” Sy hele lyf skud nou van die lag.
“Dis gladnie snaaks nie,” brom sy en blaas ’n haarlok wat losgekom het, uit haar gesig.
“Hoekom het jy nie gewag totdat ek jou kan help nie en hoekom is jy in jou ou slaapkamer en nie in die hoofslaapkamer waar jy hoort nie?”
Met alles nou weer betaamlik bedek, keer haar bravade terug en sy val hom aan terwyl sy nog stomend kwaad is. “Omdat ek niks weet van enige ander kamer nie omdat jy dit nie met my bespreek het nie, want my opinie tel mos nie.”
“Stadig nou met die verwyte. Salomiena-hulle was die afgelope weke reeds besig om die hoofslaapkamer vir ons gereed te maak. Hoe kan jy sê jy het niks daarvan geweet nie?”
“Want jy het nie ’n enkele woord daaroor teenoor my gerep nie.” Sy is lankal moeg vir mans wat besluite namens haar neem. Sy sal probeer aanpas in hierdie eeu, maar sy gaan nie haar persoonlikheid en identiteit prysgee nie. Sy is nie ’n beteuterde vrou wat ja en amen sê op als wat haar man besluit nie.
Hy vat haar skouers vas en kyk stip in haar oë. “Dani, ek het van die begin af vir jou gesê, indien jy sou instem om met my te trou, dit ’n huwelik in die volle sin van die woord gaan wees. Dit beteken dat ons van nou af ’n slaapkamer sal deel.
Dinsdag 27 Desember 2022
Hoog tyd.
Dani de Villiers transporteer vanuit 2019 na die jaar 1724 in die ou Kaap sonder elektrisiteit, selfone, rekenaars of televisie. Sy is ’n skrywer wat werk lewer aan tydskrifte, ook iets wat nog nie bestaan in die Kaap van Goeie Hoop nie. Hoe op aarde gaan sy oorleef?
Jacques le Roux, eienaar van die wynlandgoed, La Rochelle, se vriend Louis reken dis hoog tyd dat hy trou, maar hy wag vir die regte een ... en toe land sy op sy sitkamermat!
Hoog tyd verskyn in Februarie 2023 en dan is die reeks van drie
voltooi.
Donderdag 03 November 2022
Proestukkie uit Soene onder die Kersboom
“Juffrou Bothma, wat is die betekenis van hierdie e-pos wat ek pas van jou ontvang het?” vra ’n donker stem sonder enige groet of aanhef.
Toe Serina opkyk van waar sy by haar lessenaar in haar graad een klaskamer sit, is dit vas in die ontstuimige kykers van ’n uiters aantreklike lang man in ’n netjiese grys pak. Sy herken hom as een van haar leerders se ouers. Wow, Tiaan se pa tiek al die boksies vir ’n perfekte manlike voorkoms. Een wat hoogs bemoerd is. Kort donker hare, ontstuimige groen oë en ’n sterk ken met ’n effense baard wat alteveel lyk of hy op sy tande staan en kners van verontwaardiging. ’n Vermoede oor wat hom so omgekrap gemaak het, sit om in sekerheid. Jip, sy weet wat het hom so kwaad.
Om sy lengtevoordeel met net so ’n aks te verminder, staan sy op en steek ’n hand uit. “Goeie middag meneer Richter en aangename kennis so op jou seun se laaste dag in my klas.” Sy sit so effens klem op die ‘laaste dag’ sodat hy die boodskap kan kry dat sy deeglik bewus is van sy versuim om vroeër in die jaar te kom kennis maak.
Sy oë (is dit dieselfde besondere olyfgroen as sy seun s’n?) maak ’n draai oor haar voordat hy ook ’n hand uitsteek. “Ek weet nou nie juis hoe aangenaam dit is nie. ’n Verduideliking, asseblief?” Hy lig die slimfoon in sy linkerhand waar die briefie aan Kersvader in sy seun se onseker handskrif op die skerm vertoon soos sy vermoed het.
Sy beduie na ’n stoel voor haar lessenaar waar ’n ander, baie meer dankbare ouer minute gelede gesit het. “Sit asseblief. Is jy nie trots op Tiaan wat, ten spyte van spelfoute, reeds sulke samehangende sinne kan skryf aan die einde van sy eerste skooljaar nie?”
Hy bly egter staan met hande wat op sy heupe rus. “Ek is nie bekommerd oor Tiaan se intelligensie nie, dis die inhoud van die brief wat my pla. Hoeveel daarvan het jy aan hom voorgesê?” Dit lyk of hy elke woord van die laaste sin afbyt en uitspoeg.
Serina sluk ’n vinnige antwoord, byt op haar tande en tel liewer haar woorde versigtig. Die man is reeds omgekrap genoeg oor sy seun sy privaatsake deur middel van sy briefie aan sy klasonderwyseres bekend gemaak het. Sy het juis toe sy Tiaan se brief geskandeer en per e-pos na hom toe aangestuur het, gewonder wat sy enkellopende pa se reaksie daarop sal wees. “Meneer Richter, ek verseker jou dat die inhoud van daardie skrywe suiwer Tiaan se eie werk is. Die skryf van die briewe was deel van my manier om te kyk presies hoeveel ek my leerders deur die loop van die jaar geleer het. Die opdrag was bloot dat hulle ’n brief aan Kersvader moet skryf. Hulle het geen hulp van my gekry daarmee nie. Ek het dit bloot aan die ouers aangestuur sodat julle eerstens hul vordering kan sien en tweedens weet wat jul kinders se hartewense vir Kersfees is. Sou jy dit nie graag wou weet nie?”
“En my seun se hartewens is dat sy eensame pa met sy mooi juffrou moet trou.” Die driftige beweging waarmee hy die foon in sy baadjie se binnesak indruk, wys presies wat hy daarvan dink en verskans die dwars kompliment geheel en al.
Serina voel hoe haar gesig warm word. Die man jaag haar bloeddruk behoorlik op. Of dit is oor hy haar valslik beskuldig, of oor die verleentheid waarin haar gunstelingleerder haar nou plaas, wil sy liewer nie weet nie. “Daardie deel van die brief gaan nie soseer oor sy juffrou nie, maar oor die leemte wat daar in sy lewe bestaan,” probeer sy om redelik te wees. “Ignoreer dit as jy wil en konsentreer dan maar liewer op die laaste sin oor die rooi fiets as materiële dinge vir jou belangriker as jou seun se geluk is,” kry sy ’n steek van haar eie in.
Daar flits iets onheilspellends in sy oë. “Jy sê dus dat ek my seun se versugting om weer ’n mamma te hê, doelbewus ignoreer en dat ek materialisties is?”
“Ja ... nee ... ag, sit net, asseblief, meneer Richter, jou lengte intimideer my.” Hy ontsenu haar geheel en al en Serina Bothma laat haar nie oordonder nie.
Saterdag 01 Oktober 2022
Die fantasie in Afrikaans
Die fantasie vir volwasse lesers is 'n redelike nuutjie in Afrikaans en uitgewers en skrywers soek nog die pad na fantasielesers se verbeeldingswêreld.
’n Vraag wat ek dikwels gevra word, is "Hoekom het jy ’n reeks oor tydreise geskryf? Dis tog immers nie werklik nie." Dit laat my wonder hoekom volwassenes nou skielik so redeneer. Het ons dan nie almal grootgeword op ’n stapeldieet van fantasieverhale oor feetjies, kabouters, hekse en drake nie? Wat is werklik aan die pratende wolf in Rooikappie se storie? Is ons dan nou so blasé dat ons verbeeldings totaal afgestomp is?
Die Romanza druknaam brei uit om meer subgenres in te sluit en die fantasie is een daarvan. Die fantasie leen hom perfek tot die romanse en andersom. Die fantasie sluit ook heelwat verskillende soorte verhale in en tydreise is een daarvan. Ek is ’n groot aanhanger van Diana Gabaldon se werk, veral haar OUTLANDER reeks wat handel oor tydreise in die verlede in. Die reeks bestaan uit nege boeke van meer as 1 000 bladsye elk en ek het elke bladsy daarvan verslind.
Dit het my aan die wonder gesit oor hoe ek sou reageer as ek in ’n ander eeu te lande sou kom en natuurlik moes ek toe so ’n storie skryf.
Boek 1, TYDLOOS, toe Juliette vanaf 1720 met Juli in 2015, plekke geruil het, het binne drie weke uit my uitgevloei en was hope pret om te skryf. TYDLOOS vertel Juli se verhaal van hoe sy gesukkel het om in die agtiende eeu aan te pas.
Boek 2, ONTYDIG, vertel die storie van Juliette in die moderne tyd. Sy het behoorlik aan kultuurskok gely toe sy besef waar sy haar bevind. Luan Beukes moes baie vindingryk raak om haar te help om aan te pas.
Boek 3, HOOG TYD, handel oor Dani de Villiers wat vanaf 2019 na 1724 reis en weier om dit as werklikheid te aanvaar. Jacques le Roux het sy hande vol met haar, maar weier om haar terug na haar eie tyd te laat gaan.
Al drie verhale speel in drie verskillende tydgleuwe op La Rochelle, die le Roux's se familieplaas naby Stellenbosch af.
Ek hoop dat ek met hierdie reeks daarin geslaag het om ’n hele paar romanselesers vir die fantasie genre te werf. Boek 3 verskyn in Februarie 2023.
Saterdag 03 September 2022
Woensdag 27 Julie 2022
Ontydig – Boek 2 van die Romantiese Fantasiereeks.
Juliette land in die een en twintigste eeu nadat sy en Juli, haar nasaat van driehonderd jaar later plekke geruil het. Sy het altyd gedink dat haar oupa se stories, dat sy silwer sakhorlosie oor magiese kragte beskik wat tydreise kan bewerkstellig, sommer versinsels was.
Die legende wil dit hê dat sy slegs weer na haar eie tyd in die agtiende eeu kan terugkeer indien Juli en sy gelyktydig die sakhorlosie se tyd regstel. Juli wil egter nie terugkeer nie, want sy is nou gelukkig getroud met Juliette se eertydse verloofde, Louis Rossouw. Juliette ly behoorlik aan kultuurskok toe sy besef dat sy nou vasgevang is in ’n wêreld wat sy hoegenaamd nie verstaan nie. Dis ’n ramp wat haar so ontydig, twee weke voor haar troue met haar Louis, getref het.
Luan Beukes het sy hande vol met die vrou wat sy aangenome suster se plek kom inneem het. Sy is byna soos ’n kleuter wat alles van nuuts af moet aanleer. Hy ontdek egter dat hy dit geniet om haar touwys te maak in die ingewikkeldhede van die moderne tyd, want hierdie meisie-vrou maak iets in hom wakker wat hy nooit te wagte was nie.
Juliette ontdek op haar beurt weer innerlike krag waaroor sy nie geweet het sy beskik nie en stadig maar seker begin sy aanpas. Boonop leer ken sy nou vir Luan wat haar hart behoorlik by haar nuwe moderne onderklere wil laat uitspring. Louis het haar nooit so laat voel nie! Dalk was die omruiling toe tog nie so ontydig nie.
Vrydag 17 Junie 2022
Jaargety, ’n resensie deur Amanda Claassens
Die inwoners van Groeneweide is teen hierdie vyfde aflewering in die inspirasiereeks reeds ou en geliefde bekendes. Elkeen van die vier seisoene het baie geestelike pitkos gelewer om aan te herkou terwyl held en heldin deur hulle probleme werk om tot die noodwendige vervulde, gelukkige einde te kom.
Jaargety is nie slegs die slim titel van die laaste boek nie, maar ook dié van ‘n goeie preek wat Driaan lewer. ‘n Preek waartydens Zadelle voel dat daar spesifiek tot haar gespreek word. Driaan neem sy gehoor, en dus vir jou, die leser, deur die verskillende seisoene in jou geloofslewe en daag jou sommer in die proses uit om te bepaal in watter seisoen jy jouself bevind. Die geestelike krisisse waarrondom Zadelle se verhaal gebou word, is die van haat, woede en onvergewensgesindheid. Hierdie emosies het haar lewensvreugde gesteel en nou steel dit die moontlikheid om Jacques se liefde te beantwoord. Jacques, wat terloops een van die standvastigste en geduldigste helde is wat ek nog raakgelees het.
Weereens het dit my opgeval en beïndruk dat Madelie Human met goeie insig omgaan met geestelike waarhede, en selfs elemente van pastorale berading met vrug in die storielyn inwerk. Die storielyn kan selfstandig slaag, maar om dit in volgorde te lees is ‘n bonus. Die volgorde is Herfswind, Winternag, Somerson, Lentemelodie en Jaargety.
Ek hoop van harte dat hierdie nie die laaste van die inspirasieromanses sal wees nie, en dat uitgewers soos Luca, die geestelike druknaam van Lapa Uitgewers, vir skrywers soos Madelie Human, die geleentheid sal gee om meer oorspronklike geestelike fiksie in Afrikaans te lewer. Ek voel dat daar ruimte is daarvoor in die Afrikaanse boekemark .
Teken in op:
Plasings (Atom)