Skrywer van romantiese fiksie.

Sondag 29 Desember 2019

Iets nuuts op die horison.

Na ’n bietjie van 'n ruskansie, is ek weer hard aan die werk met my nuwe reeks vir 2020. Dit was tyd vir vernuwing en ek is lus vir ernstiger, maar steeds romantiese verhale. Die nuwe reeks is dus drie inspirasieverhale. Die eerste boek in die reeks, Herfswind, is die storie van Mari en Driaan, die orrelis en die nuwe dominee van Groeneweide, ’n fiktiewe dorpie op die Vrystaatse platteland. Dit verskyn in Februarie 2020 by Lapa Uitgewers.
Mari Pelser is neer teen die grond. Haar ouers is gelyktydig dood in ’n motorongeluk. Sy het nou net een begeerte en dis om weg te kom van haar kleindorpse bestaan op Groeneweide. Die Pelsers het godsdiens in haar keel afgedruk en sy wil niks van hulle soort christenskap weet nie. Sy gaan ook nie die nuwe dominee toelaat om haar te bepreek nie, al maak die mooie man haar knieë lam. Intussen doen sy aansoek vir werk in die stad en leef haar uit in haar musiek as orrelis van die kerk en musiekonderwyseres by die skool. Sy kry egter nie die werk nie en intussen kruip dominee Driaan al dieper in haar hart. Toe ’n geheim wat die Pelsers al die jare vir haar weggesteek het onverwags op die lappe kom, is Mari se lewe weereens omver gewerp. Durf sy op Driaan leun en kan sy leer om te vertrou op die Hemelse Vader wat hy aanbid?

Maandag 02 September 2019

Wat het die Lank-en-donker reeks geïnspireer?

Mense vra dikwels waar my storie-idees vandaan kom. My antwoord is gewoonlik dat dit uit die lewe self kom. Ek woon in die Bosveld tussen wildplase en is omring met stories oor wildbewaring. Op die internet is talle videos oor hoe wildveeartse diere wat in die moeilikheid is, red. Toe kom ek boonop af op die Facebook profiel van dr Evan Antin, 'n veearts en dierekenner wat vroue oor die wêreld se knieë lam maak, en daar het ek die blou-druk vir die helde van my reeks, Joe en Herman Schoeman en Zirk Heynz. Zirk is nou wel nie ’n veearts nie, maar hy is net so lank, donker en aantreklik soos die ander twee. Romanses gaan gewoonlik meer oor die lewe van die heldinne, maar vir my is dit die held wat die stories tonekrullekker maak. Die leser wil saam met die heldin op die man van haar drome verlief raak. Daarom gee ek baie aandag aan die skep van die manlike hoofkarakters van my verhale.

Dinsdag 06 Augustus 2019

e-Poskursus in die skryf van liefdesverhale

Raak jy soms heerlik verlief op die held in die liefdesverhaal wat jy aan die lees is? Wens jy soms dat jy self sulke helde kan skep en tonekrullekker verhale skryf? Jy kan nou in die gerief van jou eie huis 'n bekostigbare, interaktiewe kursus deurloop en by ’n ervare skrywer leer hoe om publiseerbare liefdesverhale te skryf. Ek deel graag met jou die dinge wat ek op die swaar manier moes uitvind. Daag jouself uit en begin 'n splinternuwe, uiters bevredigende loopbaan! Laat jou e-posadres hier onder in ’n opmerking en ek stuur vir jou meer inligting aan.

Donderdag 01 Augustus 2019

'n Lusmakertjie uit Lank, donker en dierbaar

“Die saak is verby en dit sal nie as onprofessioneel beskou kan word as ons openlik saam gesien word nie. Hier is ’n gangbare koffiewinkel by die winkelsentrum net om die hoek.” Hy beduie dat sy voor moet stap. Rochelle kan nie aan nog ’n rede dink om verder te weier nie en val dus maar langs hom in. Koffie is net wat sy nou nodig het om haar op te kikker, saam met die vyand of te nie. Dit was ’n lang dag. “Die Koffiepot se koffie is oukei, ja.” Hulle verlaat die gebou en stap aan op die ongelyk sypaadjie. “Die aanklaer beweer jy het ons bewustelik toegelaat om te wen,” merk sy beskuldigend op. Hy mik ’n vinnige kyk in haar rigting. “Moet dit nie so hard sê nie, ek het ’n reputasie om te handhaaf.” Sy kyk met nuwe oë na hom. Op die oomblik lyk hy byna menslik en nie na die duiwel wat die wrede ouers van mishandelde kindertjies in die hof verdedig nie. “So dis waar?” Hy gaan staan by die koffiewinkel se oop deur en wag dat sy voor stap. “Gee my ’n bietjie krediet vir gesonde oordeel, juffrou Benade. Jannas en Sheila Fourie hoort agter tralies Die arme kinders kan nooit by daardie twee mense terug geplaas word nie, rehabilitasie of te nie.” Hy sê dit asof hy haar effens dom vind. “Dus het jy tog doelbewus jou saak verloor?” hou sy vol. Sy wenkbroue skiet op. “Natuurlik nie, julle het gewen omdat julle ’n sterk saak gehad het en jy jou uiters goed van jou taak gekwyt het, al het ek jou die stryd aangesê.” Hy trek vir haar ’n stoel uit en gaan sit oorkant haar. “Kom, ons stel dit liewer so: geregtigheid het geskied. Dis waaraan ek glo en waarvoor ek staan, anders sou ek nie die beroep gekies het wat ek het nie.” Haar oë vernou. “Maar prokureurs baklei altyd vir hul kliënt se saak, kom wat wil, nie noodwendig vir geregtigheid nie.” Hy skud sy kop. “Jy kyk hopeloos te veel Law and Order op TV, juffrou Benade.” Hy laat dit klink asof dit ’n misdaad is. Sy besluit om die redenasie liefs te laat vaar. “Rochelle.” Hy knik sy kop en kyk af op sy spyskaart. “Rochelle, van watter soort koffie hou jy? Al hierdie baie soorte koffie wat mens deesdae kry, is erg verwarrend. Koffie is mos koffie.” Sy sit haar spyskaart neer sonder om dit te lees. “’n Cappochino met skuim vir my asseblief.” Hy gee die spyskaarte vir die kelner terug. “Wat van ’n stuk koek daarby om jou sukses mee te vier?” Dit klink nie na ’n aanbod nie, maar na ’n soort toets of iets. Rochelle weier om daarvoor te val. Sy gaan nie ’n broodjie breek saam met Bittergal van alle mense nie. Koffie is al wat sy nodig het, dan moet sy terug werk toe. “Nee, dankie. Glo my, daar is baie min om te vier. Ten spyte van wat daardie mense aan hul kinders gedoen het, is hulle die enigste ouers wat die kleingoed ken. Hulle is nog so klein, almal jonger as vyf jaar. Die jongste een huil aanhoudend oor haar ma. Dis hartverskeurend.” Hy frons asof die gedagte aan huilende kinders hom met weersin vul. “Gewone filterkoffie, sterk en swart vir my, asseblief.” Nou, hoe het sy geweet hy verkies sy koffie swart en bitter? As daar ’n heksebrousel op die spyskaart was, sou hy dit seker verkies het, dink sy en onderdruk die sweempie humor. Hy sal nie dink dis snaaks as sy nou giggel nie. “Daardie kinders het al vreeslik swaar gehad in hul kort lewe en hulle het ’n lang, moeilike pad voor.” Nadat die kelner weg is, sit hy effens vorentoe. “Ek het nie so daaraan gedink nie. Gesinsake is nie juis my ding nie. Nou sit jy met die gebakte pere. Jy moet nou die skade ongedaan probeer maak.” Dink hy steeds sy is nie opgewasse vir die taak nie? In daardie geval kan hy gerus maar ’n giftige heksebrousel drink. Rochelle sug en trek haar gedagtes weg van die beeld van hom wat oor ’n swart driepootpot buk. “Jip. Kinders is gelukkig buigbaar en bons maklik terug, maar baie van die skade laat onsigbare littekens wat nooit kan herstel nie.” “Jy vertel my. Ek sien dit alte dikwels in die oë van die gebroke volwassenes met wie ek in kriminele sake te make kry. Die Fouries was self heelwaarskynlik ook mishandel as kinders.” Hy lyk sowaar of hy werklik empatie het met die mense. Dit maak dat Rochelle onmiddellik haar negatiewe gedagtes oor hom staak. Sy moet ophou om die man van allerhande naarhede te verdink. “Miskien is jy tog nie so ’n harde koejawel as wat ek aanvanklik gedink het nie.” ’n Sweempie van ’n glimlag trek aan sy mondhoeke en laat hom weer byna menslik lyk. “Sjj. Ek het jou gesê ek het ’n reputasie om gestand te doen. Maar wanneer dit by kinders kom, is dit ’n ander saak. Ons senior vennoot het my egter geboelie om hierdie saak te neem. Elkeen van ons is veronderstel om ’n sekere aantal pro bono sake per jaar te behartig, seker om ons nederig en eerlik te hou.” Sy kan nie glo dat enigiemand in staat is om hom te kan boelie nie. Sy baas moet formidabel wees. Miskien moet sy hom tog die voordeel van die twyfel gee. “Troos jou daaraan: vandag s’n het jou darem ’n paar punte in my boek laat verdien.” Hy sit gemaklik agteroor, bekyk haar skewekop. “Wat is in daardie punteboek van jou? Is dit jou groot plan om die wêreld van ongure karakters te red?” Sy merk op dat sy donker baard ’n vyfuurskaduwee op sy wange en ken maak. Dit verskaf ’n interessante hoekigheid aan sy gesig. Is dit nou nodig dat haar vyand lank, donker en gevaarlik aantreklik moet wees? Kon hy nie verdomp vet en bles gewees het nie? Rochelle sug innerlik. Sy is nie die mannejagter soort nie, maar mooi was nog nooit lelik nie en sy is immers nie met blindheid geslaan nie. “Toe ek ’n student met sterre in my oë was, was dit miskien my plan om die wêreld te probeer verander, maar na tien jaar in my harde beroep het die wêreld my veel eerder verander. Ek weet nou dat min van die mensdom met wie ek in my werk te doen kry werklik te redde is.” “Sou jy sê jou werk het jou hard gemaak?” “Nie hard nie, net effens ontnugter. Dink jy jou werk het jou verhard?” Hy antwoord nie, bekyk haar net. “Wat?” “Ek wonder hoe daardie lieflike bos rooi hare sal lyk as dit los om jou skouers hang.” Hoor sy reg? Die onverwagsheid van sy kompliment laat haar snak na asem en sy weet sommer dat ’n donker blos teen haar nek aan die opkruip is. Daar is die verrassingselement alweer. Sy kan nooit voorspel wat hy volgende gaan sê nie. Geen wonder hy word beskou as ’n uitstekende prokureur nie. Met daardie silwer tong van hom sal hy enige opposisie onverhoeds kan vang.

Woensdag 24 Julie 2019

Santie van der Merwe kuier saam met my op my stoep.

Madelie: Wat kan ek jou aanbied om te drink terwyl ons die sonsondergang hier van my stoep af bewonder? ’n Wit of ’n rooi wyntjie of dalk ’n glasie sjerrie? Santie: ʼn Glasie sjerrie hier by jou buitelugkaggel sal lekker wees op so ʼn koue wintersdag. M: Ek skink vir ons. So ja, vertel my wat is vir jou die lekkerste deel van skryf? S: Die vrede, en die vryheid. Ek kan dit in my eie huis doen, wat vir my die lekkerste plek op aarde is om te wees. En dan het ek natuurlik ook die vryheid om ʼn storie te laat loop soos dit wil. Ek sal nou nie sê ek laat die storie loop soos ék wil nie, want jy weet self dit neem ʼn eie gedaante aan as jy by jou rekenaar gaan sit. Of gedra jou stories hulle self beter? M: Nope, my karakters foeter ook al om te maak soos hulle wil, maar dit sê vir my dis vlees en bloed karakters wat ek geskep het en dis goed so. Ek hou daarvan om soggens baie vroeg te begin, want ek is ’n oggendmens. Dan is my kwota woorde vir die dag gedoen teen die tyd dat die gewone aktiwiteite van die dag my tref. Wanneer skryf jy gewoonlik? S: Ek sou baie graag ʼn oggendmens wou wees. Ek het dit selfs al probeer fake, maar dit het nie gewerk nie. Ek is geheel en al ʼn nagmens. Wanneer my kop die kussings saans op ʼn verstandige tyd tref, en ek klik die lig af, klik daar ʼn skakelaar in my brein aan. Dan wil ek meubels skuif, ʼn nuwe hekelprojek begin of kaste regpak. En die stories in my kop neem nuwe wendings aan. Nie eens net die een waarmee ek besig is nie. Sug. Oor die stories maak ek dan maar ʼn paar aantekeninge. Maar jy wou weet wanneer ek skryf. Ek probeer om myself voor nege uur uit die bed te sleep, sodat ek teen nege uur by my skryftafel kan wees, en ek skryf dan tot so elf, twaalf uur. Ook maar om die dag se skryfwerk agter die rug te kry, voordat my vingers begin jeuk om iets anders te doen. Jy is ook ʼn kreatiewe mens, jy weet hoe dit is. Maar ek ontknoop en vervleg baie dele van my stories terwyl ek met my hekel of breiwerk besig is. Werk dit vir jou ook so? M: Oeg, ek slaap baie nagte byna niks, met die brein wat nie wil afskakel nie. Dan staan ek maar op en skryf en klim dan dikwels terug in die bed wanneer my man al begin dink aan opstaan. Ek het na 50 nadat ek ophou werk het begin skryf, want vantevore was my lewe te besig om so-iets aan te pak, en jy? S: Ek het kinders grootgemaak, en ek was ʼn baie toegewyde huisvrou. Ek kan nie soos die meeste ander vroue multi-task nie. As ek skryf wemel my gedagtes van woorde en idees, en ek sukkel om op ander dinge te konsentreer. Ek het ʼn paar kortverhale geskryf toe die kinders klein was. En gedigte. Dié skryf ek al my lewe deur. Baie ongefokus. Eers toe my seun universiteit toe is, het ek besluit om ʼn boek te probeer skryf. M: Ek het vir meer as dertig jaar skoolgehou, kinders grootgemaak en sonder ophou gestudeer. Op ’n dag het my man net gesê dis nou tyd dat ek ophou werk en iets net vir myself doen. Die res van die storie ken jy. Ons is blykbaar albei ewe lief vir hekel wanneer ons nie skryf nie. Vertel my meer van jou hekelwerk. Hekel jy net vir plesier, of pak jy soms projekte met ’n spesifieke doel aan? S: Hekel en breiwerk is altyd vir my ʼn plesier. Ek dink dis die hele punt daarvan. As dit nie vir my lekker is nie, kan ek netsowel iets anders met my tyd doen. Dis ook nie meer ekonomies om ʼn deken self te hekel as om een te koop nie, dit gaan vir my oor die plesier om dit te doen. Jy weet hoe duur wol en gare is. Soms pak ek doelgerigte projekte aan, soos die beertjies wat ek brei vir kinders in plekke van veiligheid. En ek gee graag handgemaakte geskenke. Ek dink dis my liefdestaal. M: Hoe het jy op die genre wat jy skryf, besluit? S: Ek het nie regtig besluit nie. Ek het ʼn storie geskryf en gehoop ʼn uitgewer kry ʼn hokkie waarin dit pas. Ek sal sukkel om ʼn Romanza te skryf, ek doen nie goed met baie reëls nie. Dis vir my asof jy ʼn koek moet bak met dieselfde bestanddele, maar dit moet elke keer anders smaak. Ek het baie bewondering vir julle wat dit wel so goed regkry. M: Ai, Santie, dit was nou ’n heerlike kuiertjie. Ek hoop ons kan binnekort weer so maak!

Donderdag 18 Julie 2019

Resensie van Lank, donker en verleidelik deur Amanda Claassens

’n Eerste vir my by amandacl
Madelie Human se nuutse Romanza, Lank, donker en verleidelik, is ’n eerste. Nie vir die skrywer nie, want sy is lankal reeds bekend vir haar romanses. Ook nie vir die huidige reeks nie, want dit volg knap op Lank, donker en gevaarlik wat vroeër vanjaar verskyn het. Die is wel die eerste maal dat ek iets lywiger as 'n novelle op ’n tablet gelees het. ’n Hele gesukkel afgegee voordat ek ’n oulike toep ontdek het wat PDF's kan lees op my redelik antieke iPad. Daarna het dit mooi op dreef gekom en kon ek selfs langs die pad ’n nota invoeg en later sukkel om dit weer op te spoor. ’n splinternuwe leerskool vir my. Terug by die verhaal: hierdie keer is dit die hart van die tweede Schoeman broer, Herman, wat in die gedrang kom wanneer hy verpleeg word deur die oulike, fyn maar vurige Tessa. Ek het gehou van die trant waarteen die verhouding sommer van meets af aan ontwikkel het. Hulle was tog gek oor mekaar en die skrywer sloer nie juis om hulle dit te laat besef nie. Sy behou wel ’n lekker spanningslyn deur die vroeëre seerkry in Herman se lewe nie té gou te deel nie. Die sage met die renosterstropers wat in die eerste boek begin het, duur voort en dra ook lekker by tot ’n romanse met propvol aksie.

Maandag 15 Julie 2019

Lank,donker en dierbaar

Reg en geregtigheid met meer as ʼn tikkie liefde daarby ... Rochelle Benade, maatskaplike werker en kampvegter vir dié wat nie vir hulself kan baklei nie, kom in die hof te staan teenoor die silwertong prokureur, Zirk Heyns. Wat oorreed ʼn intelligente man soos hy om aan die kant van gewetenlose kindermishandelaars te wees? Algaande kom sy agter hy is egter nie die duiwel waarvoor sy hom aansien nie - sy ouma dink selfs hy is dierbaar! Van 'dierbaar' weet sy nie, maar dat hy haar kiewe laat water, is vir seker, al glo sy nie aan romantiese liefde nie. Sy weet dit vervaag en droog baie vinnig op - sy het dit dan self gesien in haar ouers se ongelukkige huwelik. Zirk wil haar beskerm en versorg, terwyl sy verbete veg vir haar onafhanklikheid en dit laat die vonke tussen hulle spat. Toe ʼn ontsnapte misdadiger wraak sweer teen hulle albei en boonop haar lewe bedreig, besef Zirk dat hy enigiets sal doen om haar te red. Lank, donker en dierbaar is die derde boek in die Lank-en-donker reeks en die skrywer slaag daarin om die spanningselement, sowel as die ernstige tema van kindermishandeling suksesvol met dié van die ontwikkelende liefdesverhouding te vermeng sonder om afbreek daaraan te doen of dit te oorheers. Die hoofkarakters van die eerste twee boeke in die reeks speel steeds ʼn rol en help om die reeks suksesvol af te rond. Hierdie boek is skrywer Madelie Human se jongste romanse vir die Romanza handelsmerk. Romanza is LAPA Uitgewers se romansereeks, wat vergelyk kan word met Mills & Boon en Harlequin-romanses.

Dinsdag 25 Junie 2019

Lank, donker en gevaarlik

Lizma Heynz wil van verhoudings niks weet nie. Het haar eksverloofde haar dan nie met haar beste vriendin verneuk nie? Joe Schoeman is ’n wildveearts wat elke dag sy lewe waag om renosters teen gewetenlose stropers te bewaar. Hoeveel te meer sal hy nie die vrou wat hy liefgekry het, wil veilig hou nie? Lizma se pa vra hom om na haar en haar ma en ouma om te sien na sy dood, maar sy het geen man nodig om haar teen gevare te beskerm nie, sy kan haarself net so goed soos enige man handhaaf! Maar hoe kan sy haar hart teen die aanslag van die liefde beskerm?

Maandag 24 Junie 2019

Lank, donker en verleidelik

Tessa Vermaak het dit altyd veilig gespeel, voorspelbaar opgetree, maar Herman Schoeman het alles kom verander. Hy verlei haar om uit haar gemaksone te tree en haar loopbaan sowel as haar hart op die spel te plaas. Toe sy die sprong uiteindelik waag, plaas sy ook haar lewe in gevaar. Kan dit vir hulle albei die geluk bring wat hulle begeer?

Vrydag 21 Junie 2019

Koffiekultuur

Al wat leef en sy maat is skielik gaande oor koffie. As jy nie ’n koffieverslaafde is nie, is jy nou heel uit die mode. In die stede maak niemand omtrent meer hul eie koffie nie, dit moet ’n dubbele mokka-chokka-latte-gedoente met pypkaneel of karamel op die koop toe wees. Die sokkermammas kuier van die een koffiewinkel na die ander terwyl hulle wag dat die skool uitkom. Om koffie te kan maak, het jy nou ’n barista sertifikaat nodig. Jy moet daai koffie kan klits, meng, skommel, roer en skink, ou boeta! Boonop moet jy geoefen wees in koffiekuns – dis nou daai prentjies wat jy in die skuim teken. ’n Barista kursus is glo ook nie kinderspeletjies nie. Vir drie dae lank leer jy by die Barista Akademie in Johannesburg alles van koffiemaak vir ’n hele R3 800.
MAAR is koffie dan nie maar net koffie nie? Vra jy wat lippe het! Gewone Boeretroos uit ’n blikbeker bly mos maar die beste, of hoe? Blykbaar nie – dis nou volgens die koffiekenners. Hulle reken daar is baie meer aan koffie maak as net water kook, skink en roer. Jy moet jou koffie KEN!!

Woensdag 19 Junie 2019

Stoepsit is ’n lekker sit.

Onthou julle die ou kinderrympie van Ouma en Oupa sit op die stoep ...? Wel, hier waar ons woon, is ons so bevoorreg om baie stoepe te hê waar ouma en oupa kan sit. Gelukkig laat die Bosveldklimaat stoepsit regdeur die jaar toe. Ons kan tot op die koudste dag van die jaar op die stoep sit en onsself in die sonnetjie se snoesige strale koester. Stoepsit is mos tradisie onder ons mense. Dis waar dinge gewoonlik gebeur. Ons ou klomp is gedurig aan die woel en werskaf om hul stoepe te verbeter en te verfraai, want dis waar ons meestal leef, jy sien. Dis ’n lus vir die oog en ’n plesier om rondom die geboue te stap om almal se stoepe te bewonder. Nuwe braaiplekke word gebou, buitelugkaggels geïnstalleer, vloere geteël en dakke opgesit. Geen geld of moeite word ontsien om jou stoep die mooiste en geselligste kuierplek van die oord te maak nie. Hier in die kompleks is allerhande soorte stoepe: braaistoepe, toegeboude sonstoepe, voorstoepe, agterstoepe en selfs bomas. As jy nie jou stoep benut nie, is jy nie ’n ware Bosvelder nie. Jy kry ons douvoordag op die stoep met ’n beker stomende koffie en ’n stukkie beskuit terwyl die tarentale en bospatryse kom bedel vir ’n paar mieliepitte. Teen elfuur se koers gesels ons ou stukke met die bure oor ’n koppie tee en soetkoekies. Vieruur is dit koffie en melktert. Skemertyd kuier ons weer oor ’n kelkie wyn op die braaistoep terwyl die Bosveld se bloedrooi sonsondergang die wolke pienk verkleur en die braaivleisvuurtjie lustig knetter. Laataand kry jy ons tot watter tyd met bekers warm sjokolade daar by die boma rondom ’n vuurkonka waar baie slim praatjies uitgeruil en malvalekkers gebraai word. Maak nie saak watter tyd van die dag nie – stoepsit, die sit ons!

Saterdag 15 Junie 2019

’n Uittreksel uit Lank, donker en gevaarlik

Hierdie is hoe ek my voorstel Joe en Herman se plaashuis moet lyk. Op daardie stoepe het heelwat van die tonele in die lank en donker reeks afgespeel. Hierdie uittreksel kom uit die eerste boek in die reeks, Lank, donker en gevaarlik.
“Hei, is daar vir my ook ’n bier?” begroet Herman hom en help homself toe Joe na die bier op die stoepmuur wys. “Het jy gehoor die sindikaat het laasnag toegeslaan op ’n plaas nie ver hiervandaan nie?” vra hy toe hy teenoor sy broer met sy rug teen die ander stoeppilaar gaan sit. “Ja, Wildbewaring se manne het my laat weet, maar te laat dat ons iets daaromtrent kon doen. Hierdie keer kon ons die arme diere nie red nie. Het hulle jou uitgeroep na die plaas toe? Is dit waarheen jy so vroeg weg is vanoggend? Hoekom het jy my nie wakkergemaak nie?” “Jip, maar dit was klaar te laat, toe los ek jou maar om liewer nog te slaap. Vandag was immers jou af dag by die praktyk. Ons kon in elk geval niks vir een van die drie diere doen nie. Toe ek daar kom, was hulle reeds dood. Daar het net een kalfie oorgebly. Die boer wil die kalfie nou verniet weggee, hy en sy vrou is in sak en as oor hul renosters wat dood is.” Joe sluk hard aan die gal wat in sy keel opstoot. “Ek wil geen renoster op my grond hê nie, dis net moeilikheid soek.” “Naar, maar waar. Lizma het ook daar opgedaag. Sy ken die mense glo goed. Kan jy glo, sy wou met alle geweld die kalfie huis toe neem en hans grootmaak, maar ek het haar afgeraai. Soos jy sê, dis moeilikheid soek.” “Lizma? Tipies! Ek hoop nie sy doen dit in elk geval nie, daai ene luister na geen goeie raad nie, daarvoor is sy te eiesinnig. Sy dink met haar hart, nie met haar kop nie.” “Vroumense is veronderstel om so te wees. Dis wat hulle anders as ons maak. Ons dink weer met iets heel anders, soos jy, sedert jy ons nuwe buurvrou ontmoet het,” Herman kyk tergend na sy broer. “H’m.” Dit help tog nie hy stry nie, Herman ken hom te goed. “Sy het onlangs baie seergekry toe ’n nikswerd javel haar met haar beste vriendin verneuk het. Sowat van vermetel het ek nog nooit ontmoet nie.” Hy vertel vlugtig wat gebeur het toe hy vir Stefan ontmoet het. “As ek hom weer sien, druk ek so waaragtig sy strot vir hom af,” sluit hy sy vertelling af. Herman lag spottend. “The plot thickens. As jy nou al strotte wil afdruk vir haar, het jy die skoot hoër deur as wat ek gedink het, my broer.” “Sak Sarel. Ek het self ook baie onlangs my vingers lelik verbrand met ’n vroumens. Ek duik nie sommer maklik weer kop eerste in daardie selfde maalkolk nie.” “Onthou dit net wanneer sy jou mouter se revolusies weer hemelhoog opjaag, hoor. Ek het gesien hoe jy na haar kyk die dag toe ons oom Dawid se renosters onthoring het.” “Ja, toe nou maar, kyk is skadeloos, gelukkig kan ek darem nog my mouter beheer. Ek wag vir die dag wat dit met jou gebeur, dan sal jy ’n heel ander deuntjie sing. Gee liewer vir my nog ’n bier aan voor jy vir my ’n strop om die nek beplan. Ek is doodgelukkig met Sofie se kos en al dryf jou geselskap my teen die mure uit, kan ek dit die meeste van die tyd verduur, so ek is gelukkig met die status quo, baie dankie.”

Vrydag 14 Junie 2019

Oggendkoffie op my stoep.

Die heerlikste koffiekuier is daardie eerste koppie koffie in die oggend op my stoep – net ek en my gunsteling koffiebeker vol warm melkkoffie. Dis wanneer almal nog slaap en ek sonder steurnis kan werk aan my stories. Dan is my kop skoon en kan ek lekker werk. Die karakters praat met my terwyl ek nog so tussen slaap en wakker is voordat ek opstaan, vertel my wat hulle vandag gaan aanvang. Dan kan ek nie wag om by my rekenaar uit te kom en te begin werk nie. Maar natuurlik moet ek eers my eerste dosis kafeïn vir die dag in kry. Terwyl die stoompie lui uit my koffie trek, beplan ek die toneel wat ek volgende gaan skryf. Klik op 'comments' as jy saam wil praat. Vertel my van jou eerste koppie koffie in die oggend.

Kom sit gerus saam met my op die stoep en gesels.


Ek is ’n stoepsitter. Ek laat nooit ’n geleentheid verbygaan om op die stoep te kuier saam met vriende nie. Dis die lekkerste plek vir vroegoggend-koffie of laataand-wyn. Dis waar ons kopstukke praat, mekaar leer ken en beter bevriend raak. Hierdie is ’n ope uitnodiging vir my lesers, vriende en familie om saam te kom kuier. Kom sit gerus saam met my op my stoep, laat ons bietjie gesels!