Skrywer van romantiese fiksie.

Donderdag 01 Augustus 2019

'n Lusmakertjie uit Lank, donker en dierbaar

“Die saak is verby en dit sal nie as onprofessioneel beskou kan word as ons openlik saam gesien word nie. Hier is ’n gangbare koffiewinkel by die winkelsentrum net om die hoek.” Hy beduie dat sy voor moet stap. Rochelle kan nie aan nog ’n rede dink om verder te weier nie en val dus maar langs hom in. Koffie is net wat sy nou nodig het om haar op te kikker, saam met die vyand of te nie. Dit was ’n lang dag. “Die Koffiepot se koffie is oukei, ja.” Hulle verlaat die gebou en stap aan op die ongelyk sypaadjie. “Die aanklaer beweer jy het ons bewustelik toegelaat om te wen,” merk sy beskuldigend op. Hy mik ’n vinnige kyk in haar rigting. “Moet dit nie so hard sê nie, ek het ’n reputasie om te handhaaf.” Sy kyk met nuwe oë na hom. Op die oomblik lyk hy byna menslik en nie na die duiwel wat die wrede ouers van mishandelde kindertjies in die hof verdedig nie. “So dis waar?” Hy gaan staan by die koffiewinkel se oop deur en wag dat sy voor stap. “Gee my ’n bietjie krediet vir gesonde oordeel, juffrou Benade. Jannas en Sheila Fourie hoort agter tralies Die arme kinders kan nooit by daardie twee mense terug geplaas word nie, rehabilitasie of te nie.” Hy sê dit asof hy haar effens dom vind. “Dus het jy tog doelbewus jou saak verloor?” hou sy vol. Sy wenkbroue skiet op. “Natuurlik nie, julle het gewen omdat julle ’n sterk saak gehad het en jy jou uiters goed van jou taak gekwyt het, al het ek jou die stryd aangesê.” Hy trek vir haar ’n stoel uit en gaan sit oorkant haar. “Kom, ons stel dit liewer so: geregtigheid het geskied. Dis waaraan ek glo en waarvoor ek staan, anders sou ek nie die beroep gekies het wat ek het nie.” Haar oë vernou. “Maar prokureurs baklei altyd vir hul kliënt se saak, kom wat wil, nie noodwendig vir geregtigheid nie.” Hy skud sy kop. “Jy kyk hopeloos te veel Law and Order op TV, juffrou Benade.” Hy laat dit klink asof dit ’n misdaad is. Sy besluit om die redenasie liefs te laat vaar. “Rochelle.” Hy knik sy kop en kyk af op sy spyskaart. “Rochelle, van watter soort koffie hou jy? Al hierdie baie soorte koffie wat mens deesdae kry, is erg verwarrend. Koffie is mos koffie.” Sy sit haar spyskaart neer sonder om dit te lees. “’n Cappochino met skuim vir my asseblief.” Hy gee die spyskaarte vir die kelner terug. “Wat van ’n stuk koek daarby om jou sukses mee te vier?” Dit klink nie na ’n aanbod nie, maar na ’n soort toets of iets. Rochelle weier om daarvoor te val. Sy gaan nie ’n broodjie breek saam met Bittergal van alle mense nie. Koffie is al wat sy nodig het, dan moet sy terug werk toe. “Nee, dankie. Glo my, daar is baie min om te vier. Ten spyte van wat daardie mense aan hul kinders gedoen het, is hulle die enigste ouers wat die kleingoed ken. Hulle is nog so klein, almal jonger as vyf jaar. Die jongste een huil aanhoudend oor haar ma. Dis hartverskeurend.” Hy frons asof die gedagte aan huilende kinders hom met weersin vul. “Gewone filterkoffie, sterk en swart vir my, asseblief.” Nou, hoe het sy geweet hy verkies sy koffie swart en bitter? As daar ’n heksebrousel op die spyskaart was, sou hy dit seker verkies het, dink sy en onderdruk die sweempie humor. Hy sal nie dink dis snaaks as sy nou giggel nie. “Daardie kinders het al vreeslik swaar gehad in hul kort lewe en hulle het ’n lang, moeilike pad voor.” Nadat die kelner weg is, sit hy effens vorentoe. “Ek het nie so daaraan gedink nie. Gesinsake is nie juis my ding nie. Nou sit jy met die gebakte pere. Jy moet nou die skade ongedaan probeer maak.” Dink hy steeds sy is nie opgewasse vir die taak nie? In daardie geval kan hy gerus maar ’n giftige heksebrousel drink. Rochelle sug en trek haar gedagtes weg van die beeld van hom wat oor ’n swart driepootpot buk. “Jip. Kinders is gelukkig buigbaar en bons maklik terug, maar baie van die skade laat onsigbare littekens wat nooit kan herstel nie.” “Jy vertel my. Ek sien dit alte dikwels in die oë van die gebroke volwassenes met wie ek in kriminele sake te make kry. Die Fouries was self heelwaarskynlik ook mishandel as kinders.” Hy lyk sowaar of hy werklik empatie het met die mense. Dit maak dat Rochelle onmiddellik haar negatiewe gedagtes oor hom staak. Sy moet ophou om die man van allerhande naarhede te verdink. “Miskien is jy tog nie so ’n harde koejawel as wat ek aanvanklik gedink het nie.” ’n Sweempie van ’n glimlag trek aan sy mondhoeke en laat hom weer byna menslik lyk. “Sjj. Ek het jou gesê ek het ’n reputasie om gestand te doen. Maar wanneer dit by kinders kom, is dit ’n ander saak. Ons senior vennoot het my egter geboelie om hierdie saak te neem. Elkeen van ons is veronderstel om ’n sekere aantal pro bono sake per jaar te behartig, seker om ons nederig en eerlik te hou.” Sy kan nie glo dat enigiemand in staat is om hom te kan boelie nie. Sy baas moet formidabel wees. Miskien moet sy hom tog die voordeel van die twyfel gee. “Troos jou daaraan: vandag s’n het jou darem ’n paar punte in my boek laat verdien.” Hy sit gemaklik agteroor, bekyk haar skewekop. “Wat is in daardie punteboek van jou? Is dit jou groot plan om die wêreld van ongure karakters te red?” Sy merk op dat sy donker baard ’n vyfuurskaduwee op sy wange en ken maak. Dit verskaf ’n interessante hoekigheid aan sy gesig. Is dit nou nodig dat haar vyand lank, donker en gevaarlik aantreklik moet wees? Kon hy nie verdomp vet en bles gewees het nie? Rochelle sug innerlik. Sy is nie die mannejagter soort nie, maar mooi was nog nooit lelik nie en sy is immers nie met blindheid geslaan nie. “Toe ek ’n student met sterre in my oë was, was dit miskien my plan om die wêreld te probeer verander, maar na tien jaar in my harde beroep het die wêreld my veel eerder verander. Ek weet nou dat min van die mensdom met wie ek in my werk te doen kry werklik te redde is.” “Sou jy sê jou werk het jou hard gemaak?” “Nie hard nie, net effens ontnugter. Dink jy jou werk het jou verhard?” Hy antwoord nie, bekyk haar net. “Wat?” “Ek wonder hoe daardie lieflike bos rooi hare sal lyk as dit los om jou skouers hang.” Hoor sy reg? Die onverwagsheid van sy kompliment laat haar snak na asem en sy weet sommer dat ’n donker blos teen haar nek aan die opkruip is. Daar is die verrassingselement alweer. Sy kan nooit voorspel wat hy volgende gaan sê nie. Geen wonder hy word beskou as ’n uitstekende prokureur nie. Met daardie silwer tong van hom sal hy enige opposisie onverhoeds kan vang.

2 opmerkings:

  1. Die storie klink na 'n saak wat ondersteun moet word. Beslis 'n stukkie uit 'n lekker-lees boek. Nou is ek lus vir nog :) Wat gaan word van my werk? ;)

    AntwoordVee uit
  2. Jy sal wel jou werk gedoen kry! Sy verskyn in September.

    AntwoordVee uit