Skrywer van romantiese fiksie.

Saterdag 26 Augustus 2023

Rimpelinge – 'n Proestukkie

Elani Neethling versnel haar pas vir die soveelste keer. Die man wat haar nou al ’n geruime tyd agtervolg, is besig om haar in te haal. Sy kyk benoud op die strand rond, maar sien geen moontlikheid om sy teenwoordigheid te ontsnap nie. Aan haar een kant is die oseaan en aan die ander is onbegaanbare terrein met skerp rotse. “Hei, jy het nie nodig om soos die Road Runner weg te hol nie. Ek is nie ’n bylmoordenaar nie, ek wil net kennis maak,” roep ’n diep stem bo die geruis van die branders uit. “Ja, right. Jy is (hyg) ’n Sondagskoolonderwyser (hyg) en op ander dae help jy ou tannietjies oor die straat. Gaan net (hyg) weg, asseblief!” Elani stop en hang vooroor om asem te skep, nie in staat om ’n enkele tree verder te hardloop nie. As hy haar iets onheiligs wil aandoen, moet hy dit nou maar doen, haar gô is uit. Hy kom sak langs haar op die sand neer en neem ’n rukkie om self ook sy asem onder beheer te kry. Elani loer uit skrefiesoë verblind deur sweet na hom. Hy lyk darem nie te wreedaardig nie en is duidelik te uitgeput om haar enige leed aan te doen. Sweet drup ook uit sy donker hare en kleef aan baardstoppels. ’n T-hemp klou deurweek aan breë skouers en welgevormde spiere. Die man se voorkoms is dié van ’n model uit ’n tydskrif vir jong sportlui. Hy boer seker in die gim. As sy nou so verlief op die liefde was soos haar woonstelmaat, kon sy hierdie situasie miskien as ’n romantiese ontmoeting beskou, maar sy bly immer versigtig. ʼn Mens weet nooit. Hulle sê mos reeksmoordenaars lyk gewoonlik doodnormaal. “Daai mooi bene van jou kan nogal beweeg, hoor,” verklaar hy asemrig. “Ek kon skaars byhou.” “Seriously? Jy sê jy is nie ’n bylmoordenaar nie, maar hoe moes ek dit nou weet? Ek het gedink ek vlug vir my lewe.” Hy lag en vee sweet uit sy oë. “Hier op Bietjiebaai gee ons mekaar nog die voordeel van die twyfel, weet jy?” Elani kan nie help om die speling van spiere in sy sterk voorarm te bewonder toe hy sy arm lig nie. “Nou vir wat jaag jy my dan?” Sy vang sy waarderende blik op haar bene. “Ek sê mos ek wou jou inhaal om nader kennis te maak. Jimmel, julle stadsjapies is flippen agterdogtig.” Elani vryf oor haar borsbeen, daar waar haar longe steeds van die inspanning brand. “Hoe weet jy ek kom van die stad af?” “Jou ouma sê so. Jy het gistermiddag laat met ’n ou skedonkie hier by ouma Janie se huis gearriveer.” Sy mooi oë terg haar. “Skedonkie nogal? Dorothy sal in haar eer gekrenk wees. Sy is ’n waardige, klassieke ou dame. En jy weet daarvan omdat …?” Haar stem styg van verontwaardiging. Die kar wat sy van haar oupa geërf het, lê haar na aan die hart. Sy laat haar erfstuk nie uitskel vir ’n skedonkie nie. ’n Vinnige glimlag verhelder sy hele gesig. “Askies tog. Dorothy. Ek vra opreg om verskoning.” Hy vee sy regterhand aan sy sweetpakbroek af en hou dit na haar toe uit. “Ek is Rick Bekker, ouma Janie se buurman, en jy is haar kleindogter wat kom help het om haar huis op te pak voordat sy oor ses weke aftreeoord toe trek. Elani, nie waar nie?”