Skrywer van romantiese fiksie.

Sondag 21 November 2021

Ligte leesstof vir die feesseisoen. Proe net hier ...

By die voordeur toet ’n voertuig. Dis seker nou Bernadette. Sy het reeds laat weet sy is op pad. Sy gooi die voordeur oop. “Ek is gereed. Meeubaai, hier kom ons! Laai solank my leesstof in, ek kry net my tas,” sê sy terwyl sy agterstewe eerste die sak boeke by die deur uitsleep en gaan dadelik weer in om die tas ook te gaan haal sonder om op te kyk. Toe sy met haar tas op die stoep uitkom en die voordeur sluit, begroet ’n vreemde gesig haar. In die rypad voor die stoep staan, nie Bernadette se motor nie, maar ’n monsterbakkie met oorgroot wiele. Daar is ’n branderplank op die dakrak en haar sak boeke steek op die bak onder ’n bonkige seil uit. Teen die kant van die bakkie leun ’n lang man met ’n vuilbaard en ’n sonbril. Sy donker kuif val oor sy voorkop en hy lyk allesbehalwe vriendelik. “Ek dog dis ’n volwassene wat ek moet saamneem Meeubaai toe? Wie is jy?” Hy bekyk haar skraal figuur in haar vakansieklere wat bestaan uit ’n denim kortbroek en T-hemp van haar poniestert tot by haar tone in visplakkies en weer terug. Waarvan praat die man? “Daar moet ’n misverstand wees. Ek ry saam met my tante see toe. Ons gaan na ons strandhuis toe vir die vakansie. Wie is jy?” “Ryno Viljoen. Ek moet professor Bernadette Erasmus van die Marine Research Institute se niggie hier oplaai.” Berna frons en haal haar selfoon uit haar rugsakkie. “Bernadette? Ek is haar niggie. Wag, ek bel haar gou.” Bernadette antwoord feitlik onmiddellik asof sy die oproep te wagte was. “Berna! Ek is so jammer. Ek het baie meer werk as wat ek gedink het. Dit gaan dalk ’n paar dae neem om af te handel. Ry asseblief solank saam met Ryno. Hy gaan toevallig vandag ook Meeubaai toe en ek vertrou hom volkome. Jy sal veilig wees saam met hom.” “Maar ek sal wag tot jy kan wegkom, ek hoef mos nou nie vandag al te gaan nie,” maak Berna kapsie. Toevallig se voet. Sy ken vir Bernadette, alles word deeglik beplan en niks gebeur per toeval nie. “Nee, nee, nee. Ry jy solank en gaan geniet die son en see. Ek kom sodra ek kan. Ek het klaar gereël dat die skoonmaakdienste die huis oopmaak en skoonmaak. Alles sal gereed wees wanneer julle daar kom, die nodigste voorrade in die yskas ook. Baai, ek moet gaan.” Sy sit summier die foon neer. Berna hap na lug en bekyk die foon asof dit haar dilemma veroorsaak het. Dan kyk sy op na die grimmige man wat steeds met sy bene by die enkels gekruis teen sy onooglike bakkie leun. “Sy sê ek moet saam met jou ry.” “Dis mos wat ek ook gesê het. Nou toe, kom. Die see wag.” Hy stoot homself van die voertuig af weg en kom vat haar tas uit haar hand. “Maar ...” Sy gryp nog na die tas, maar hy spring rats op die bak, druk dit saam met die ander goed onder die seil in en maak dit met ’n rekband vas. Berna maak ’n gromgeluid in haar keel. “Antie Bernadette, ek gaan jou doodmaak vir hierdie slap riem. Ek sien dwarsdeur jou plannetjies,” brom sy onderlangs terwyl sy die deur aan die passasierskant van die hoë bakkie oop pluk. Moedeloos kyk sy na die trap en die sitplek wat albei te hoog vir haar kort bene is. Hoe klim iemand wat nie so lank soos die lummel met die sonbril is nie, hier in? Wie ry in elk geval met ’n gedoente wat lyk of dit op die filmstel van Monster Trucks hoort? “Wag, ek sal jou kom help.” Hy spring van die bak af om haar ’n hupstootjie by die deur in te kom gee. Hy plaas sy hande op haar middel, hys haar met haar rugsak en al op en deponeer haar op die sitplek asof sy niks weeg nie. Berna voel hoe haar gesig vuurwarm word. Genugtig, het sy hande vir ’n oomblik of twee onder haar kort T-hemp ingegly, of het sy haar dit verbeel? As haar studente haar nou moes sien! “H’m. Dankie.” Sy haak haar rugsakkie se bande van haar skouers af en sit dit by haar voete neer. Berna sug gefrustreerd. As haar eie ma haar nie in die verleentheid stel nie, plaas haar tante haar in ’n onmoontlike situasie waar sy nie kan uitkom nie. Wat is dit met die vorige geslag van Erasmus vroue dat hulle alewig haar wat Berna is, se lewe so versuur? “Buckle up,” gee hy opdrag toe hy inklim. Sy wil haar eers vererg, maar besluit dan dis nie die moeite werd nie. “Vir seker. Hierdie ding gooi mens seker rond soos ’n bul by ’n rodeo as jy nie vasgemaak is nie,” antwoord sy snipperig en voldoen aan sy opdrag. Hy lag en skakel die voertuig aan. “Sulke klein outjies soos jy? Vir seker. Maak jou gereed om so deurmekaargeskud soos melkskommel te wees wanneer ons oor ’n uur by Meeubaai arriveer.” Met ’n gebrul trek hulle weg. Berna knyp haar oë toe en sê ’n skietgebedjie op. Vandag gaan sy sowaar haar Heiland leer ken.