Skrywer van romantiese fiksie.

Saterdag 19 Junie 2021

Tydloos – ’n Resensie deur Louise van der Merwe

Tydloos - Romanza (Fantasie)
Madelie Human - LAPA Uitgewers Ek het lanklaas ʼn boek so geniet soos wat ek Tydloos vandag geniet het! Hierdie skrywer het met haar debuut in volwasse Afrikaanse fantasie enige en almal se pogings tot dusver uitgestof en staan met ʼn blink vyf sterre heel bo op die troon! Madelie Human se ervaring en ondervinding van oor die 36 publikasies is tasbaar in hierdie Romanza opgesluit. Sy kry dit maklik reg om die held en heldin se karakter moeiteloos en geloofwaardig deur die storie vas te hou. Ek het halsoorkop verlief geraak op die held Louis Rousseau, sy korrekte taalgebruik en ouderwetse grotman maniertjies het sy sjarme tot kookpunt gedryf en Juli, ons heldin, se aanpassing tussen die tye en gesukkel om haar taal suiwer te hou- en om haar asem lank genoeg op te hou vir daai korsette!- kon mens amper tussen die blaaie van hierdie tydsreis fantasie proe. En dan word ons nog bederf met ʼn hele paar vuurwarm vrysessies ook 🙂 Die karakterontwikkeling was uitstekend en boei jou tot die laaste bladsy, elkeen se verwarring en skrik wat die gebeure voortbring is eg, suiwer en geloofwaardig. Dit het my laat wonder hoe ek sal optree as ek wakker word in ʼn ander eeu! Juli se verontwaardigheid oor vroueregte en net algemeen menseregte word komies benader en ook net genoeg voor jy jou vir die held wil wip! ʼn Paar sêgoed wat die storie so mooi ondersteun en aangevul het, is goedjies soos: kniediep in die jêm, gedorie waar, by die lyf wees, kierankies braai. Hierdie is ʼn briljante stukkie werk uit ʼn gevestigde en geliefde skrywer se pen en ek kan dit met oortuiging aan enigeen aanbeveel wat, soos ek, nog altyd net fantasie in Engels kon lees en geniet. Madelie ek hoop ons kry sommer binnekort ʼn opvolg op hierdie prag Romanza van jou, want ek wonder benoud hoe dit met arme Juli se naamgenoot, Juliette gaan wat nou vassit in die 21ste eeu!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking