Skrywer van romantiese fiksie.

Woensdag 19 Mei 2021

Tydloos – die heel eerste tydreisromanse in Afrikaans,

Is die Afrikaanse lesers gereed vir Fantasie? Ek was onlangs in Bargain Books en JA ’n yslike deel van die winkel is vol met rakke en rakke gepak met Engelse fantasieverhale. Wie koop en lees dit? Suid Afrikaners wat meestal Afrikaanssprekend is. Lapa het ons gevra om te waag en hier is my eerste poging in die genre – ’n Tydreisromanse. Dis steeds ’n lekkerleesromanse, NIE wetenskapfiksie nie! My getroue lesers sal nie teleurgesteld wees nie, dis ’n gewone romanse met die tydreis slegs as agtergrond: Moet sy teruggaan na haar eie tyd of haar hart volg? Juli le Roux word wakker in haar sitkamer, maar vind tot haar skok uit dis driehonderd jaar in die verlede tyd. Sy het op 'n geheimsinnige wyse plekke geruil met haar identiese oorgrootjie wie se naam sy dra. Om alles te kroon, erf sy nie net die vrou se identiteit nie, maar ook haar verloofde. Sy moet met Louis Rousseau trou om haar familie se erfenis te red. Louis Rousseau is bereid om sy belofte wat hy langs sy ou vriend se sterfbed gemaak het, na te kom, maar hy sien op na 'n leeftyd saam met Juliette vir wie hy niks voel nie. Die Juli wat hy egter nou leer ken, is allesbehalwe die vervelige meisie saam met wie hy grootgeword het. Sy is pure vrou, vol lewe en vurig van geaardheid. Juli het 'n groot besluit om te maak: Moet sy probeer teruggaan na haar eie tyd, of bly by die man op wie sy halsoorkop verlief is? Tydloos is Romanza se eerste tydreisverhaal. Dit speel af in twee tydsones in Stellenbosch. Dit is 'n stomende verhaal met 'n paar unieke liefdestonele.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking