Skrywer van romantiese fiksie.

Dinsdag 09 Maart 2021

Skryf is baie soos hekel

Ek is net so lief vir skryf as vir hekel. Gewoonlik is ek met albei so om die beurt besig. Wanneer jy ‘n boek beplan, begin jy met ‘n storie-idee. Om iets te hekel, het jy ook ‘n idee nodig van watter projek jy wil aanpak. Vir jou storie het jy ‘n plot nodig en vir jou hekelwerk ‘n patroon. Nou moet jy dit inkleur: vir jou hekelprojek kies jy die wol. Ha! Nou begin die pret, want ek kan mos nie ‘n bol wol weerstaan nie, so ek loop geen wolwinkel verby nie en nou het ek boonop inkopies op die internet ontdek. Ugh! Eina, my beursie!! Vir my is die lekkerste deel van die projek die beplanning en die rondspeel met idees en kleur. Vir skryf is dit feitlik dieselfde. Nou besluit jy op die karakters en die agtergrond van jou storie. Hier kan jy jou verbeelding vrye teuels gee en maak nes jy smaak!! MAAR nou begin die groot werk, nou moet jy met jou boude op ‘n stoel gaan sit en jou wolkombersie steek vir steek of jou storie woord vir woord neerpen. Hierdie is die gedeelte waar vasbyt die enigste moontlikheid is, anders gaan jou projek onder in ‘n laai beland. Uiteindelik is die laaste woord/steek gedoen en jy sug verlig. Daar is ‘n klop aan die voordeur en dis niemand anders nie as SKOONMA wat kom kuier en sy is ‘n ekspert haak-en-steker. Natuurlik mik sy reguit vir jou hekelmandjie, pluk jou harde werk onseremonieel daaruit en bekyk dit skreefogig en met pruimlippe. Sy vertel jou jy kon ‘n beter kleurskema gekies het en boonop is die wol nie geskik vir hierdie patroon nie. Sy verseker jou lostrek is die enigste uitweg en broodnodig as jy jou kombersie hoegenaamd wil red. Jy voel lus en gooi die ding in die asblik die oomblik wat sy haar rug draai. Jy doen dit ook en probeer van jou mislukking vergeet. Jou skryfwerk is intussen uitgewers toe en lê vir maande by die keurders voordat jy iets hoor. Jy begin twyfel aan jou vermoë en kan sweer jy gaan nooit weer jou hand op die sleutelbord van ‘n rekenaar lê nie! Uiteindelik kom die verslag – BLOEDROOI van gemerkte foute en propvol kommentare oor hoe jy jou powere poginkie kan verbeter om dit enigsins aanvaarbaar te maak. Geen woord word gerep oor jou wonderlike taalgebruik of oulike openingstoneel nie, o nee, maar als wat jy verkeerd gedoen het word breedvoerig bespreek. Jy krimp ineen. Nou is jy DOODSEKER jy was mal om te dink dat jy ooit sal kan skryf. Dis nou hier waar die ware hekelaars en die goeie skrywers van die wannabe’s geskei word: Dis einste hier waar jy tussen die vloer en die politoer uitkruip (met behulp van ‘n glas rooiwyn en ‘n vloermoer of twee) jou ego afstof, jou hekelwerk uit die asblik opdiep, jou storie weer ‘n keer oorlees en die spulletjie van voor af aandurf. Jy trek jou harde werk steek vir steek los en jy delete jou wonderlike poëtiese woorde een vir een terwyl jy kla teenoor almal wat wil (meestal die wat nie wil nie) luister en jy DOEN OOR. Met bloed en met sweet. Met tandegekners en met trane. Uiteindelik is jy klaar en moet erken: Jou skoonma/verhaleredakteur weet seker wat hulle doen, want die eindproduk is … uhm … sowaar beter.

3 opmerkings:

  1. Daar is nogal 'n goeie korrelasie tussen die hekel en skryf! Jy verwoord dit uitstekend, Madelie! Sy bly jy het die delete-ding gedoen en weer probeer

    AntwoordVee uit