Vrydag 30 Julie 2021
Proestukkie uit Lentemelodie
Sondagoggend is Ali vroeg op en aan die gang. Sy druk dou voor dag reeds die skaapboud wat sy met knoffel gestop het in die oond. Gelukkig het sy gistermiddag reeds die malvapoeding gebak en die kan net later opgewarm word. Die groente is geskil en staan in skottels water gereed voordat sy met haar beker stomende oggendkoffie op die stoep gaan sit.
“Vir wat staan jy so vroeg op? Het jy die bed natgemaak?” kom Jason gaap-gaap uit die huis met sy eie koffie in die hand. Ali sluk byna haar tong in toe sy sien hy het net ’n rugbybroekie sonder ’n hemp aan. Haar oë bly vasgenael op die goedgedefinieerde spiere van sy borskas en breë rug. Geen wonder Clarissa is agter sy lyf aan nie.
Sy kom agter hy wag op ’n antwoord en ruk haarself met mening reg. “Ons het gaste vir ete, het jy vergeet?”
“Nee, maar hulle kom eers na kerk, so teen half twaalf se kant.” Hy gaan sit op die stoeptrappie met sy rug teen ’n pilaar, skynbaar totaal onbewus van haar oë op hom.
“’n Skaapboud het ’n hele paar ure in die oond nodig om lekker sag te wees,” praat sy met ’n droë tong wat alweer sukkel om te werk. Na Saterdagaand is sy akuut bewus van hom.
Hy neem ’n versigtige slukkie van sy warm swart koffie en glimlag stadig. “Jy kook soos ’n veteraan. Gisteraand se pizza was uit die boeke, nes die wat ek in Italië geproe het en nogal met ’n regte brooddeegkors. Jy sal maak dat ek jou hier in my kombuis vasketting.”
Ali lag met ’n beeld van haar aan hierdie Adonis vasgeketting in ’n omhelsing op die kombuistafel. Jikes! Van wanneer af het Alida-Mari Greyling sulke gewaagde gedagtes dat sy sukkel om by te hou met hul gesprek? “Ek moet jou waarsku, my dienste is peperduur, jong.”
“Ek het gepraat van vasketting soos in slawearbeid, nie teen betaling nie, maar vir koningskos soos joune sal ’n man sekerlik baie betaal.”
En daar is die kettingbeeld weer terug! “H’m. Jy is nie ryk genoeg nie, meneer Vermeulen. Jy kan nie eens bekostig om ’n cougar eenkant aan te hou nie.”
Sy mond vol koffie trek met ’n boog oor die grasperk, Lulu spring op vanwaar sy met een oog oop lê en dut het, blaf opgewonde en gaan ruik aan die koffiedruppels op die gras. Jason vee sy mond met die agterkant van sy hand af. “Ha! Jy is heeltemal reg. Cougars vreet aan ’n man se sak. Ek sal my maar liewer by beroemde sangeresse bepaal. Ek dink juis ek het ’n sterk ketting daar in die motorhuis.”
Ali blaas oor haar koffie. Sy geniet die ligte geskerts tussen hulle twee veel meer as wat sy teenoor hom sal erken. Hoe sal dit wees om getroud te wees met ’n man soos Jason? Ugh, sy sien sy kaal bolyf en sy dink onmiddellik aan trou? So byna-byna is dit haar beurt om te verstik. Stop die lorrie net daar. Trou lê jare ver in die verskiet van haar toekoms.
“Ali?”
“H’m?” Haar kop hou aan ompaaie loop met haar vanoggend. Sedert die skaamtelose man sonder hemp hier opgedaag het.
“Ek vra of daar iets is waarmee ek kan help. Dis nie nodig dat jy alles alleen doen nie.”
“O. Alles is onder beheer in die kombuis, dankie. Miskien kan jy help om die tafel te dek.” Gaan trek net klere aan voordat ek my vergryp, dink sy desperaat.
“Oukei. Dis maklik genoeg.” Hy sluk sy laaste koffie af en staan op.
“Onthou om glase ook uit te haal vir die wyn wat ons gekoop het,” kry sy uiteindelik weer haar gedagtes bymekaar en syg teen die leuning van haar stoel terug toe hy met ’n wuif by die huis in verdwyn.
Teken in op:
Plaas opmerkings (Atom)
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking