Skrywer van romantiese fiksie.

Donderdag 03 November 2022

Proestukkie uit Soene onder die Kersboom

“Juffrou Bothma, wat is die betekenis van hierdie e-pos wat ek pas van jou ontvang het?” vra ’n donker stem sonder enige groet of aanhef. Toe Serina opkyk van waar sy by haar lessenaar in haar graad een klaskamer sit, is dit vas in die ontstuimige kykers van ’n uiters aantreklike lang man in ’n netjiese grys pak. Sy herken hom as een van haar leerders se ouers. Wow, Tiaan se pa tiek al die boksies vir ’n perfekte manlike voorkoms. Een wat hoogs bemoerd is. Kort donker hare, ontstuimige groen oë en ’n sterk ken met ’n effense baard wat alteveel lyk of hy op sy tande staan en kners van verontwaardiging. ’n Vermoede oor wat hom so omgekrap gemaak het, sit om in sekerheid. Jip, sy weet wat het hom so kwaad. Om sy lengtevoordeel met net so ’n aks te verminder, staan sy op en steek ’n hand uit. “Goeie middag meneer Richter en aangename kennis so op jou seun se laaste dag in my klas.” Sy sit so effens klem op die ‘laaste dag’ sodat hy die boodskap kan kry dat sy deeglik bewus is van sy versuim om vroeër in die jaar te kom kennis maak. Sy oë (is dit dieselfde besondere olyfgroen as sy seun s’n?) maak ’n draai oor haar voordat hy ook ’n hand uitsteek. “Ek weet nou nie juis hoe aangenaam dit is nie. ’n Verduideliking, asseblief?” Hy lig die slimfoon in sy linkerhand waar die briefie aan Kersvader in sy seun se onseker handskrif op die skerm vertoon soos sy vermoed het. Sy beduie na ’n stoel voor haar lessenaar waar ’n ander, baie meer dankbare ouer minute gelede gesit het. “Sit asseblief. Is jy nie trots op Tiaan wat, ten spyte van spelfoute, reeds sulke samehangende sinne kan skryf aan die einde van sy eerste skooljaar nie?” Hy bly egter staan met hande wat op sy heupe rus. “Ek is nie bekommerd oor Tiaan se intelligensie nie, dis die inhoud van die brief wat my pla. Hoeveel daarvan het jy aan hom voorgesê?” Dit lyk of hy elke woord van die laaste sin afbyt en uitspoeg. Serina sluk ’n vinnige antwoord, byt op haar tande en tel liewer haar woorde versigtig. Die man is reeds omgekrap genoeg oor sy seun sy privaatsake deur middel van sy briefie aan sy klasonderwyseres bekend gemaak het. Sy het juis toe sy Tiaan se brief geskandeer en per e-pos na hom toe aangestuur het, gewonder wat sy enkellopende pa se reaksie daarop sal wees. “Meneer Richter, ek verseker jou dat die inhoud van daardie skrywe suiwer Tiaan se eie werk is. Die skryf van die briewe was deel van my manier om te kyk presies hoeveel ek my leerders deur die loop van die jaar geleer het. Die opdrag was bloot dat hulle ’n brief aan Kersvader moet skryf. Hulle het geen hulp van my gekry daarmee nie. Ek het dit bloot aan die ouers aangestuur sodat julle eerstens hul vordering kan sien en tweedens weet wat jul kinders se hartewense vir Kersfees is. Sou jy dit nie graag wou weet nie?” “En my seun se hartewens is dat sy eensame pa met sy mooi juffrou moet trou.” Die driftige beweging waarmee hy die foon in sy baadjie se binnesak indruk, wys presies wat hy daarvan dink en verskans die dwars kompliment geheel en al. Serina voel hoe haar gesig warm word. Die man jaag haar bloeddruk behoorlik op. Of dit is oor hy haar valslik beskuldig, of oor die verleentheid waarin haar gunstelingleerder haar nou plaas, wil sy liewer nie weet nie. “Daardie deel van die brief gaan nie soseer oor sy juffrou nie, maar oor die leemte wat daar in sy lewe bestaan,” probeer sy om redelik te wees. “Ignoreer dit as jy wil en konsentreer dan maar liewer op die laaste sin oor die rooi fiets as materiële dinge vir jou belangriker as jou seun se geluk is,” kry sy ’n steek van haar eie in. Daar flits iets onheilspellends in sy oë. “Jy sê dus dat ek my seun se versugting om weer ’n mamma te hê, doelbewus ignoreer en dat ek materialisties is?” “Ja ... nee ... ag, sit net, asseblief, meneer Richter, jou lengte intimideer my.” Hy ontsenu haar geheel en al en Serina Bothma laat haar nie oordonder nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking