Skrywer van romantiese fiksie.

Vrydag 06 Mei 2022

’n Onlangse gesprek met Amanda Claassens oor my insirasiereeks.

Madelie Human is bekend en geliefd onder lesers van romantiese fiksie. Sy het ingewillig om ’n paar vrae te beantwoord. Haar antwoorde was besonder insiggewend.
V: Hoe lank skryf jy al voltyds, en wat het jy voorheen gedoen? A: Ek het veertien jaar gelede ophou werk as kollegelektor in sakekommunikasie en toe voltyds begin skryf. V: Hoeveel Romanzas het jy al gepubliseer? A: Ek het altesaam 40 gepubliseerde liefdesverhale wat Romanzas en drie Super Romanzas plus ’n paar ander boeke insluit. Ek probeer drie of vier per jaar produseer, maar publikasiegeleenthede is min omdat Lapa slegs 48 Romanzas per jaar uitgee en daar is meer as 70 skrywers wat om plekke moet meeding. V: Buiten jou skryfwerk, bied jy ook ’n kursus aan vir voornemende romanseskrywers. Hoe belangrik ag jy opleiding alvorens ‘n skrywer ’n manuskrip aanpak? A: Romanses is nie letterkundige werke nie, maar is hoegenaamd nie so maklik om te skryf as wat mense dink nie. Opleiding is nie noodsaaklik nie, maar enigiemand wat ernstig is oor skryf, moet deeglike navorsing doen oor die genre waarin jy wil skryf voordat jy begin. Jy moet jou ook vergewis van die vereistes wat uitgewers vir daardie genre daarstel. Ek het myself “opgelei” deur alles waarop ek my hande kon lê oor die romanse, te bestudeer. Die geite van uitgewers moes ek op die swaar manier leer. My kursus is ’n opsomming van alles wat ek met bloedsweet geleer het. Toe ek begin het, sou ek wat wou gee vir so ’n handleiding. Dit help ook ontsettend baie as jy kan begin onder die leiding van ’n ervare skrywer wat jou touwys kan maak oor die werkinge van die boekebedryf in Afrikaans en jou boonop deeglike terugvoer gee oor jou skryfwerk. V: Daar het al verskeie reekse uit jou pen verskyn. Waaraan skryf jy die lekkerste: losstaande titels, of reekse? A: Die romanse is gewoonlik kort en verskaf min ruimte en tyd vir karakterontwikkeling. Die reeks bied die skrywer die geleentheid om dieper te delf in die mense en hul probleme. Ek verkies reekse, want die karakters word later vir my so bekend dat ek presies weet hoe hulle sal optree en wat hulle in sekere situasies sal sê. Ek het vroeg in my loopbaan my hand aan ‘n reeks, Wilde Hawer, gewaag en dit baie geniet. Daarna het ek ook die Skakeringsreeks, die Heldereeks, die Le Fleurreeks, die Lank en Donkerreeks, die Inspirasiereeks en nou ook die Tydreisreeks die lig laat sien. Ek skryf wel soms nog losstaande boeke soos die kersverhale wat Lapa sedert verlede jaar Desember publiseer. V: Ek wil spesifiek gesels oor die Inspirasiereekds, die Groeneweide-sage, waarvan die laaste aflewering eersdaags gaan verskyn. Lapa uitgewers en Romanza het die sub-genre, Inspirasie verhale, geskep waaronder ’n skrywer die vryheid het om te skryf vanuit ’n Christelike oogpunt. Vier titels het alreeds verskyn: Herfswind, Winternag, Somerson en Lentemelodie. In elkeen van hierdie stories is daar baie duidelike geestelike aspekte waarmee die karakters worstel. Hoe het jy hierdie stories benader: eers die karakters geskep, of eers ’n bepaalde geestelike waarheid geïdentifiseer waarrondom jy die storielyn wou bou? A: Soos altyd begin ek met die karakters, hul agtergrond en hul beroepe en besluit dan op die insident wat hul spesifieke innerlike konflik wat die storie gaan dryf, veroorsaak. Soos die verhaal ontwikkel, duik probleme op wat hul geestelike lewe beïnvloed en dan probeer ek dit aanspreek. Ek is geen teoloog of geestelike leier nie, maar delf uit my eie en die mense rondom my se lewenservaring om my daarmee te help. Ek het in ’n Christelike huis grootgeword en was nog altyd kerkvas. Die Bybel is my handleiding en boonop het ek ’n Alwyse Raadgewer wat my lei om te weet wat die karakter nodig het om te leer. V: Die stories getuig deur die bank van goeie insig en kennis van die Woord, suksesvol verweef met mooi liefdesverhale. Jy het glad nie in die slaggat van prekerigheid getrap nie. Was dit vir jou ’n groot uitdaging om hierdie balans te vind en te behou deur vyf storielyne? A: Ek self hou nie van godsdienstige dwepery nie en probeer net op ’n eerlike manier omgaan met my karakters en hul geestelike groei. Die inspirerende romanse bly hoofsaaklik ’n romanse wat fokus op die ontwikkellende liefdesverhouding tussen die held en heldin. Die karakter se geestelike groei behandel ek slegs as deel van karaktergroei. Dit oorheers dus nie die verhaal soos in die Christelike romans wat LUCA en Lux Verbi uitgee nie. Ek vind dat Romanzalesers hierdie onderskeid waardeer en meer verteerbaar vind as ’n streng Christelike aanslag. Hulle bly immers by uitstek romanselesers wat ’n lekker liefdesverhaal soek. V: Met al vier die seisoene gebruik, het jy ’n innoverende titel gekies vir die vyfde aflewering wat in Junie 2022 verskyn, Jaargety. Ek wil lesers aanraai om sommer vroegtydig die vorige vier boeke te probeer lees of herlees, maar ek skat dit sal darem nie fataal wees as dit nie kan gebeur nie? A: Jaargety staan, soos al my boeke wat deel van reekse uitmaak, ook op eie voete en kan afsonderlik gelees word. Ek glo lesers sal, wanneer hulle van die vorige stories se hoofkarakters in boek 5 ontmoet, wel nuuskierig raak oor die vorige stories. Bargain Books het nog etlike van die eerste vier boeke in voorraad, maar die wat uit druk is, kan natuurlik op enige e-boekplatform verkry word. V: Jy skroom nie om ’n nuwe uitdaging aan te durf nie. Soos met die Inspirasie verhale, het jy ook ’n baie suksesvolle bydrae gelewer onder die ander nuwe Romanza sub-genre, Fantasie. Waar het jy die inspirasie gekry vir Tydloos? A: Tydloos is ’n tydreisverhaal en ek lees self bitter graag goeie tydreisverhale. Dit fassineer my om uit te vind hoe mense van ander eeue geleef het en wat is nou beter as om dit deur een van jou eie karakters se ervaringe te beleef? Boek 2 in die tydreisreeks, Ontydig, verskyn in September en Boek 3, Hoogtyd, in Februarie 2023. In hierdie reeks ruil karakters uit verskillende eeue om en moet dan in die ander tydgleuf aanpas en ’n nuwe lewe probeer maak ten spyte van sosiale en ander verskille. Soms moet hulle selfs ’n ander taal aanleer. Tydloos is baie goed deur lesers ontvang en hulle vertel my hulle kan nie wag vir die opvolgstories nie. V: Waarna kan lesers uitsien? Nog ’n reeks, nog inspirasieverhale? A: Amanda, weet jy dat daar meer as ’n 100 subgenres van die romanse wêreldwyd gelees word? Lapa is opgewonde om nuwe subgenres in die Romanzareeks op te neem en ek geniet die nuwe uitdagings en sien uit daarna om meer van hulle te probeer. Voorlopig beplan ek nog ’n reeks van elk van die Inspirerende en die Tydreis verhale, want die uitgewer het gevra vir meer. Daarna … wie weet? Daar is heelwat van daardie subgenres wat my en my skryfmaats laat wens ’n dag het meer as 24 uur gehad en dat Lapa vir ons sommer tien Romanzas per maand wil publiseer!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking