Skrywer van romantiese fiksie.

Dinsdag 10 Mei 2022

Proestukkie uit Jaargety

Zadelle
sien uit om tuis te kom en op die sagte rusbank saam met haar kat te ontspan. By die ouerige huis met die spreekkamers langsaan wag daar egter ’n onwelkome gesig op haar. Reg voor haar erf staan ’n ellelange beestrok met sleepwa, albei vol bulkende beeste. “Jissie, wat gaan nou hier aan?” vra sy kliphard toe sy besef die trok versper die ingang na haar huis toe. Sy parkeer aan die oorkant van die straat en klim uit. Onder die neus van die lorrie loer ’n paar stofbesmeerde bene in denim en nerf-af stewels uit. Sy skop teen die een stewel. “Haai, hoekom parkeer jy voor my hek? Hoe moet ek nou by my erf inkom?” ’n Grom en ’n gemompel is al antwoord wat sy kry. Sy hoor ’n gewerskaf onder die ingewande van die trok, maar geen antwoord nie. Haar hele lyf ruk soos sy skrik en sy staan vinnig tru toe ’n bees hier reg by haar bulk dat jy hom waar kan hoor. Versigtig loer sy onder die trok in na waar ’n figuur in die stof lê. “Hei, verwyder asseblief jou wa met beeste en al, ek wil my kar intrek. Jy kan jou herstelwerk op ’n ander plek gaan doen.” Die stewels skop vas en ’n groot man skuur ruggelings op die stofpad onder die voertuig uit. “Kan jy nie sien ek het ’n probleem nie?” kom hy orent. “Dit beteken nie jy moet jou probleem myne maak ...” in daardie oomblik herken sy hom. Dis niemand anders nie, as Jacques Greyling, haar beste vriendin se broer. Die man wat sy nou al vir maande vermy sedert die aand wat hulle strooimeisie en -jonker op Ali en Jason se troue was. “Tipies vroumens. Kan jy nie insien dis vir my onmoontlik nie?” Hy probeer die stof uit sy reeds vuil klere uitslaan. Al waarin hy egter slaag, is om walms daarvan te veroorsaak wat dreig om hulle albei te laat verstik. Briesend waai Zadelle die stof voor haar gesig weg. “Luister hier, ek het nou oorgenoeg gehad van julle dorp se mans wat dink dat almal wat vroulik is, minder intelligent en onbekwaam is. Verwyder jou trok, of ek laat sleep die ding deur die polisie hier weg.” Hy lag sinies. “Ek wil nog die polisievoertuig sien wat hierdie vrag van my kan sleep. Bel hulle gerus. As jy hulle so ver kan kry om die foon te beantwoord, of selfs enigsins te reageer, is jy welkom om te probeer. Los my net in vrede dat ek die ding padwaardig kan kry, dan sal ek gee pad hier. Dis nie asof ek verkies het om hier in die hoofstraat voor jou deur gestrand te wees nie.” Zadelle wil hom nog verder aanvat, maar besluit dan om liewer die hasepad te kies. Dit sal sekerlik baie veiliger wees. Hierdie man krap haar om en Zadelle Swart word nie maklik van stryk gebring nie. Dit het jare se selfdissipline en baie maande se diens in die noodgevalle afdeling by ’n besige hospitaal in die stad haar geleer. Dis baie beter om hom te vermy soos sy besluit het die aand na haar beste vriendin se troue. Sy gaan haal dus haar sakke met kosvoorraad uit die kattebak, sluit haar kar en stap aan huis toe asof hy nie bestaan nie. “Ek kan aanbied om jou te help dra, maar aangesien jy nou so ’n intelligente en bekwame vrou is, dra dit gerus maar self,” draal hy met ’n skewe glimlag voor hy weer onder die lorrie inkruip. Zadelle sis net soos ’n slang vir hom, hys die een sak wat dreig om uit haar hand te gly, weer op en stap aan voordeur toe. Sy het jare gelede besluit geen man is haar tyd of aandag werd nie. Haar eie pa het die pad gevat kort na haar geboorte en na wat haar stiefpa haar aangedoen het, was haar besluit finaal. Niemand van die manlike spesie sal ooit weer die kans kry om haar seer te maak nie. Hierdie een, wat hier in die stof voor haar huis lê, het die afgelope maande na Ali se troue reeds baie meer van haar gedagtes opgeneem as wat goed is vir haar sielevrede.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking