Dinsdag 18 Februarie 2020
Resensie oor Herfswind.
Amanda Claassens skryf op Penpunt die volgende:
In 2018 verskyn Lang pad na liefde, deur Cynthia Robertson. Dit was die eerste Romanza wat Lapa Uitgewers se “Inspirasieverhaal” stempel gedra het. Ek kan nie onthou dat daar sederdien weer een verskyn het nie. Nou het ervare en geliefde skrywer, Madelie Human, die sprong gewaag om die liefdesverhaal en geestelike fiksie te verweef, en met groot sukses. Ek skroom nie om hierdie romanse te skaar by goeie geestelike fiksie wat ek al gelees het nie.
Die kwessies waarmee die karakters worstel, is realisties en eerlik. Daar is byvoorbeeld die eng en wettiese predikant wat vir jare in die gemeente dien en niemand waag om hom in enige opsig te bevraagteken nie. Ek is telkens tot introspeksie gedaag, onder andere oor gebed: bid ek om my sin te kry of bid ek om die Here se wil te laat geskied in my lewe? Dit is die vraag waarmee Mari gekonfronteer word (Bl. 89), en waarop sy nie dadelik ’n antwoord het nie. Haar diepgewortelde vooroordele en bitterheid toon krake, onder die wyse leiding van die nuwe leraar op die dorp; een wat bely dat hy nie al die antwoorde het nie, maar ’n Wyse Raadgewer het.
Die skrywer raak heelparty geestelike gesprekspunte aan, soos vergifnis, geloofsgroei, en swaarkry. Ek kan nie fout vind met haar aanbieding van die onderwerpe nie. Dit getuig van kennis en goeie insig, sonder om prekerig oor te kom.
Dankie, Lapa, dat julle aan skrywers wat so geroepe voel, hierdie geleentheid gee om te skryf vanuit ’n Christelike oogpunt, sonder dat hulle ’n ander uitgewer hoef te nader. Ek wag gretig op ’n volgende aflewering in die Groeneweide-sage.
Teken in op:
Plaas opmerkings (Atom)
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking