Madelie Human se Kuierstoep

Skrywer van romantiese fiksie.

Woensdag 22 November 2023

'n Nuwe reeks skop af: Die mense van ’n dorpie op die platteland in die Bosveld.

Boek 1: ’n Bruid voor Kersfees (Desember 2023)
Marli Botes is gelukkig soos sy is; ’n weduwee met drie volwasse kinders. Haar buurvrou reken egter dat enige veel jonger vrou sal sukkel om by haar kers vas te hou en voorspel dat die argitek wat haar huis gaan restoureer meer as net haar huis nog voor Kersfees gaan 'regsien'. Is Wickus dan nie die man wat op skool reeds haar hart gesteel het nie? Boek 2: Die dokter langsaan (Februarie 2024)
Bea Botes en haar twee beste vriendinne is pas klaar studeer, maar kan nêrens werk kry nie. Hulle besluit om saam ’n Boek- en Koffiewinkel in Bea se ma se ou huis te begin. Die huis langsaan is verkoop aan niemand anders as Dr Luke Roux, wat Bea reeds op kampus raakgesien het nie. Hy is ’n gepoleerde rykmanskind en sy het geen ooghare vir diesulkes wat op hul ouers se rykdomme staatmaak om iets te bereik nie. Kan hy homself aan haar bewys? Boek 3: Liefde kan roes. (Julie 2024) Schalk Botes keer terug van Nieu Seeland nadat hy saam met sy verloofde soontoe geëmigreer het vier jaar gelede. Met sy verlowing nou van die baan sweer hy nooit weer nie, maar sy stiefsussie Karien het al die jare sedert sy in matriek was ’n crush op hom en weier om te aanvaar dat hy nooit weer iemand sal liefhê nie. Kan sy sy hart wen? Boek 4: Eerste keuse. (Oktober 2024) Jaco Botes is sy ma se sensitiewe seun, maar hy het as prokureur in die harde korporatiewe wêreld sukses behaal en weet hoe om op sy regte te staan. Mia Roux, Luke se tweelingsussie, laat klim sy mouter se rewolusies hemelhoog. Sy is gesofistikeerd en effens hovaardig, maar hy sien haar weerlose kant raak en bring die pretliefhebber in haar na vore. Is hulle bedoel om saam te wees?

Woensdag 06 September 2023

Proestukkie uit Eggo's van die hart

Sy oog val op ’n eensame figuur op ’n rots daar naby. Dis sowaar sy flerrie van ’n buurvrou wat daar sit. Vir ’n verandering is sy nie besig om met die een of ander man ’n flirtasie aan te knoop nie. Dit lyk of sy sit en skryf. Nee, die lang hale van haar potlood oor die bladsy van ’n tekenblok lyk meer of sy skets. Sy is mos ’n kunstenaar. Nou is sy belangstelling geprikkel. Sonder om te dink, stap hy nader. Impulsief lig hy sy kamera om haar beeld te verewig. Met haar los hare, wat die seebriesie om haar kop laat wapper, lyk sy soos ’n meermin daar op die rots. Die klikgeluid van sy kamera toe hy naby haar kom, laat haar gesteurd opkyk. “Hei, wat maak jy?” vra sy. “Ek kiek meerminne,” antwoord hy ongeërg. Sy maak haar hare bymekaar en glip ’n rekkie van haar pols af om dit in ’n poniestert agter in haar nek vas te bind. “Meerminne woon onder die see in Atlantis, nie hier nie.” Nou is haar hoë wangbene en mooi seegroen oë net meer prominent en sy vinger druk onwillekeurig weer en weer die knoppie van die kamera. Is die kyk wat sy in sy rigting mik agterdogtig? Seker oor sy snaakse optrede laasweek toe hy die hekpaal verwoes het. Hy moet meer selfbeheersing toepas. Maar die terugflitse en nagmerries is buite sy beheer, die weet hy mos. Die psigiater het gesê dit sal tyd neem om te vervaag. Sy draai haar kop weg. “Vra jy nie mense se toestemming voor jy hulle afneem nie?” “Nie die van flerries wat enigiets doen om mans se aandag te trek nie.” Hy hou sy kamera gereed vir haar reaksie en word nie teleurgestel nie. Haar kop ruk op en haar mond val oop. “W ... wat sê jy daar?” Hy verkneukel hom in die stilligheid. Daardie giftige kyk sal ’n man se velle kan afskil. Hy grinnik selfvoldaan en hou aan foto’s neem. “Dit werk elke keer. Eerlike, spontane reaksie maak die heel beste foto’s.” “Stop dit!” Sy vlieg op en begin kop onderstebo om haar sketsblok en potlode in die sak wat sy by haar het, te druk. “Relax. Kameraskote is nie geweerskote nie.” “Daar waar jy vandaan kom, gaan die twee hand aan hand, nie waar nie?” Sy haak haar rugsak se bande oor haar skouers. “Jy is vroeg hier onder,” verander hy veiligheidshalwe die onderwerp. “Is kunstenaars nie veronderstel om lui wesens te wees wat laat slaap nie?” “Nie so lui soos kameramanne wat soos kluisenaars lewe nie. Ek is verbaas om jou buite te sien,” snip sy terug. Nie op haar bek geval nie, né? “Touché.” “Wat neem jy af, behalwe vroue met vissterte? Wat ek, terloops, nie het nie.” Sy lig ’n kaal voet met toonnaels wat soos pienk, blou, pers, groen en geel skulpies lyk. Elkeen is sowaar ’n ander pastelkleur geverf! Hy glimlag, mik en druk vir nog ’n foto of twee van haar bont tone. “Hoekom dra jy verflenterde jeans? Kry kunstenaars deesdae so swaar?” vra hy met sy oë op haar knieë wat tussen flenters uitloer. “Dis nie verflenter nie, dis ontwerpersjeans.” Verontwaardiging laat haar oë blits. ’n Vonk daarvan resoneer in hom. “Genade, wat sal julle generasie nou nog uitdink?” Sy lyk vir hom nogal oulik daarmee.

Saterdag 26 Augustus 2023

Rimpelinge – 'n Proestukkie

Elani Neethling versnel haar pas vir die soveelste keer. Die man wat haar nou al ’n geruime tyd agtervolg, is besig om haar in te haal. Sy kyk benoud op die strand rond, maar sien geen moontlikheid om sy teenwoordigheid te ontsnap nie. Aan haar een kant is die oseaan en aan die ander is onbegaanbare terrein met skerp rotse. “Hei, jy het nie nodig om soos die Road Runner weg te hol nie. Ek is nie ’n bylmoordenaar nie, ek wil net kennis maak,” roep ’n diep stem bo die geruis van die branders uit. “Ja, right. Jy is (hyg) ’n Sondagskoolonderwyser (hyg) en op ander dae help jy ou tannietjies oor die straat. Gaan net (hyg) weg, asseblief!” Elani stop en hang vooroor om asem te skep, nie in staat om ’n enkele tree verder te hardloop nie. As hy haar iets onheiligs wil aandoen, moet hy dit nou maar doen, haar gô is uit. Hy kom sak langs haar op die sand neer en neem ’n rukkie om self ook sy asem onder beheer te kry. Elani loer uit skrefiesoë verblind deur sweet na hom. Hy lyk darem nie te wreedaardig nie en is duidelik te uitgeput om haar enige leed aan te doen. Sweet drup ook uit sy donker hare en kleef aan baardstoppels. ’n T-hemp klou deurweek aan breë skouers en welgevormde spiere. Die man se voorkoms is dié van ’n model uit ’n tydskrif vir jong sportlui. Hy boer seker in die gim. As sy nou so verlief op die liefde was soos haar woonstelmaat, kon sy hierdie situasie miskien as ’n romantiese ontmoeting beskou, maar sy bly immer versigtig. ʼn Mens weet nooit. Hulle sê mos reeksmoordenaars lyk gewoonlik doodnormaal. “Daai mooi bene van jou kan nogal beweeg, hoor,” verklaar hy asemrig. “Ek kon skaars byhou.” “Seriously? Jy sê jy is nie ’n bylmoordenaar nie, maar hoe moes ek dit nou weet? Ek het gedink ek vlug vir my lewe.” Hy lag en vee sweet uit sy oë. “Hier op Bietjiebaai gee ons mekaar nog die voordeel van die twyfel, weet jy?” Elani kan nie help om die speling van spiere in sy sterk voorarm te bewonder toe hy sy arm lig nie. “Nou vir wat jaag jy my dan?” Sy vang sy waarderende blik op haar bene. “Ek sê mos ek wou jou inhaal om nader kennis te maak. Jimmel, julle stadsjapies is flippen agterdogtig.” Elani vryf oor haar borsbeen, daar waar haar longe steeds van die inspanning brand. “Hoe weet jy ek kom van die stad af?” “Jou ouma sê so. Jy het gistermiddag laat met ’n ou skedonkie hier by ouma Janie se huis gearriveer.” Sy mooi oë terg haar. “Skedonkie nogal? Dorothy sal in haar eer gekrenk wees. Sy is ’n waardige, klassieke ou dame. En jy weet daarvan omdat …?” Haar stem styg van verontwaardiging. Die kar wat sy van haar oupa geërf het, lê haar na aan die hart. Sy laat haar erfstuk nie uitskel vir ’n skedonkie nie. ’n Vinnige glimlag verhelder sy hele gesig. “Askies tog. Dorothy. Ek vra opreg om verskoning.” Hy vee sy regterhand aan sy sweetpakbroek af en hou dit na haar toe uit. “Ek is Rick Bekker, ouma Janie se buurman, en jy is haar kleindogter wat kom help het om haar huis op te pak voordat sy oor ses weke aftreeoord toe trek. Elani, nie waar nie?”

Donderdag 09 Februarie 2023

Proestukkie uit Hoog tyd

Dani druk haar kamerdeur op knip toe Sofia kopskuddend wegstap. Dit sal nie deug om die personeel die eerste dag van hul huwelik reeds iets te gee om oor te skinder nie. Sy gaan tjoepstil net hier bly en in haar eie bed inkruip. Sy is gedaan na al die opwinding van die dag en wil net in die bed kom. Spyt dat sy nie vir Sofia gevra het om haar eers te help uittrek nie, vroetel sy moedeloos met die string piepklein knopies agter haar rug. Dit maak nie saak hoe sy haar arm draai en dwing nie, sy kan dit nie bykom nie. Die kamer is boonop vriesend koud, want die gebruiklike vuur in die kaggel is afwesig vanaand. Die slawe het natuurlik vuur gemaak in die hoofslaapkamer – volgens hul heer en meester se opdrag! Sy sal liewer vries voor sy gehoor gee aan ’n man wat namens haar besluite neem. Sy steun en kreun, maar moet uiteindelik haar pogings om die knopies los te kry, laat vaar. Miskien moet sy die rok net so oor haar kop trek, die nek is immers wyd genoeg. Sy gryp die soom vas en lig die romp oor haar kop, maar die dun middeltjie weier om oor haar skouers te gaan en steek vas. Dani ruk en pluk, maar sy is vasgevang in die talle lae symateriaal. Sy kry die spulletjie ook nie weer terug na die normale posisie toe gerem nie. “Kan ek help?” kom haar man se diep stem van die deur se kant af. Dani hou op stoei. “Nee, gaan weg! Ek kan self regkom, dankie.” Twee treë bring hom tot by haar. “Dit lyk nie vir my so nie. Ek dink as ek jou nie help nie, mag jy dalk tussen al hierdie pêrels en sy versmoor.” Dani kan hoor hy is hoogs geamuseerd en dit maak haar net nog meer omgekrap. Sy wou voorgee om onder die kombers vas aan die slaap te wees indien hy haar hier sou kry. Nou staan sy ewe onelegant met haar rok oor haar kop en haar agterstewe in die lug. Hoe vernederend. “Aargh!” grom sy weer en pluk wanhopig aan die rok. “Pasop, jy gaan die fyn materiaal skeur.” Hy begin om die lae rokke versigtig terug te vou. “Waar op aarde is jy tussen al hierdie lae lap?” Hy lag nou hardop. “Genade, Dani, jy het jouself omtrent vasgeknoop ... aa, daar’s jy!” Hy gee die rok ’n finale plukkie en alles sak na hul oorspronklike posisie toe terug, maar helaas, met die nare geluid van gare wat lostrek en talle knopies wat op die houtvloer spat. “Oeps ... die mense sal dink jou bruidegom was so ongeduldig om jou uit jou klere te kry, dat hy die rok van jou afgeskeur het.” Sy hele lyf skud nou van die lag. “Dis gladnie snaaks nie,” brom sy en blaas ’n haarlok wat losgekom het, uit haar gesig. “Hoekom het jy nie gewag totdat ek jou kan help nie en hoekom is jy in jou ou slaapkamer en nie in die hoofslaapkamer waar jy hoort nie?” Met alles nou weer betaamlik bedek, keer haar bravade terug en sy val hom aan terwyl sy nog stomend kwaad is. “Omdat ek niks weet van enige ander kamer nie omdat jy dit nie met my bespreek het nie, want my opinie tel mos nie.” “Stadig nou met die verwyte. Salomiena-hulle was die afgelope weke reeds besig om die hoofslaapkamer vir ons gereed te maak. Hoe kan jy sê jy het niks daarvan geweet nie?” “Want jy het nie ’n enkele woord daaroor teenoor my gerep nie.” Sy is lankal moeg vir mans wat besluite namens haar neem. Sy sal probeer aanpas in hierdie eeu, maar sy gaan nie haar persoonlikheid en identiteit prysgee nie. Sy is nie ’n beteuterde vrou wat ja en amen sê op als wat haar man besluit nie. Hy vat haar skouers vas en kyk stip in haar oë. “Dani, ek het van die begin af vir jou gesê, indien jy sou instem om met my te trou, dit ’n huwelik in die volle sin van die woord gaan wees. Dit beteken dat ons van nou af ’n slaapkamer sal deel.

Dinsdag 27 Desember 2022

Hoog tyd.

Dani de Villiers transporteer vanuit 2019 na die jaar 1724 in die ou Kaap sonder elektrisiteit, selfone, rekenaars of televisie. Sy is ’n skrywer wat werk lewer aan tydskrifte, ook iets wat nog nie bestaan in die Kaap van Goeie Hoop nie. Hoe op aarde gaan sy oorleef? Jacques le Roux, eienaar van die wynlandgoed, La Rochelle, se vriend Louis reken dis hoog tyd dat hy trou, maar hy wag vir die regte een ... en toe land sy op sy sitkamermat! Hoog tyd verskyn in Februarie 2023 en dan is die reeks van drie voltooi.

Donderdag 03 November 2022

Proestukkie uit Soene onder die Kersboom

“Juffrou Bothma, wat is die betekenis van hierdie e-pos wat ek pas van jou ontvang het?” vra ’n donker stem sonder enige groet of aanhef. Toe Serina opkyk van waar sy by haar lessenaar in haar graad een klaskamer sit, is dit vas in die ontstuimige kykers van ’n uiters aantreklike lang man in ’n netjiese grys pak. Sy herken hom as een van haar leerders se ouers. Wow, Tiaan se pa tiek al die boksies vir ’n perfekte manlike voorkoms. Een wat hoogs bemoerd is. Kort donker hare, ontstuimige groen oë en ’n sterk ken met ’n effense baard wat alteveel lyk of hy op sy tande staan en kners van verontwaardiging. ’n Vermoede oor wat hom so omgekrap gemaak het, sit om in sekerheid. Jip, sy weet wat het hom so kwaad. Om sy lengtevoordeel met net so ’n aks te verminder, staan sy op en steek ’n hand uit. “Goeie middag meneer Richter en aangename kennis so op jou seun se laaste dag in my klas.” Sy sit so effens klem op die ‘laaste dag’ sodat hy die boodskap kan kry dat sy deeglik bewus is van sy versuim om vroeër in die jaar te kom kennis maak. Sy oë (is dit dieselfde besondere olyfgroen as sy seun s’n?) maak ’n draai oor haar voordat hy ook ’n hand uitsteek. “Ek weet nou nie juis hoe aangenaam dit is nie. ’n Verduideliking, asseblief?” Hy lig die slimfoon in sy linkerhand waar die briefie aan Kersvader in sy seun se onseker handskrif op die skerm vertoon soos sy vermoed het. Sy beduie na ’n stoel voor haar lessenaar waar ’n ander, baie meer dankbare ouer minute gelede gesit het. “Sit asseblief. Is jy nie trots op Tiaan wat, ten spyte van spelfoute, reeds sulke samehangende sinne kan skryf aan die einde van sy eerste skooljaar nie?” Hy bly egter staan met hande wat op sy heupe rus. “Ek is nie bekommerd oor Tiaan se intelligensie nie, dis die inhoud van die brief wat my pla. Hoeveel daarvan het jy aan hom voorgesê?” Dit lyk of hy elke woord van die laaste sin afbyt en uitspoeg. Serina sluk ’n vinnige antwoord, byt op haar tande en tel liewer haar woorde versigtig. Die man is reeds omgekrap genoeg oor sy seun sy privaatsake deur middel van sy briefie aan sy klasonderwyseres bekend gemaak het. Sy het juis toe sy Tiaan se brief geskandeer en per e-pos na hom toe aangestuur het, gewonder wat sy enkellopende pa se reaksie daarop sal wees. “Meneer Richter, ek verseker jou dat die inhoud van daardie skrywe suiwer Tiaan se eie werk is. Die skryf van die briewe was deel van my manier om te kyk presies hoeveel ek my leerders deur die loop van die jaar geleer het. Die opdrag was bloot dat hulle ’n brief aan Kersvader moet skryf. Hulle het geen hulp van my gekry daarmee nie. Ek het dit bloot aan die ouers aangestuur sodat julle eerstens hul vordering kan sien en tweedens weet wat jul kinders se hartewense vir Kersfees is. Sou jy dit nie graag wou weet nie?” “En my seun se hartewens is dat sy eensame pa met sy mooi juffrou moet trou.” Die driftige beweging waarmee hy die foon in sy baadjie se binnesak indruk, wys presies wat hy daarvan dink en verskans die dwars kompliment geheel en al. Serina voel hoe haar gesig warm word. Die man jaag haar bloeddruk behoorlik op. Of dit is oor hy haar valslik beskuldig, of oor die verleentheid waarin haar gunstelingleerder haar nou plaas, wil sy liewer nie weet nie. “Daardie deel van die brief gaan nie soseer oor sy juffrou nie, maar oor die leemte wat daar in sy lewe bestaan,” probeer sy om redelik te wees. “Ignoreer dit as jy wil en konsentreer dan maar liewer op die laaste sin oor die rooi fiets as materiële dinge vir jou belangriker as jou seun se geluk is,” kry sy ’n steek van haar eie in. Daar flits iets onheilspellends in sy oë. “Jy sê dus dat ek my seun se versugting om weer ’n mamma te hê, doelbewus ignoreer en dat ek materialisties is?” “Ja ... nee ... ag, sit net, asseblief, meneer Richter, jou lengte intimideer my.” Hy ontsenu haar geheel en al en Serina Bothma laat haar nie oordonder nie.