Skrywer van romantiese fiksie.

Sondag 10 Mei 2020

’n Pa vir Moedersdag

’n Pa vir Moedersdag
Lisa skuif vir die soveelste keer haar sonrok se skouerbande reg en loer na die ander mense in die koffiewinkel wat rustig sit en gesels. Sy moes liewer iets anders aangetrek het. Sou ’n langbroek nie beter gewees het nie? Die rok is wel nie kort nie, maar die skouers is bietjie kaal. Sy drapeer haar krulle oor haar skouers sodat dit nie so erg kaal lyk nie. Miskien hou hy nie van haar rooi hare nie. Die kinders het haar op skool meer as genoeg daaroor geterg. Sy gooi die swaar lokke weer na agter. Wat maak dit tog saak? Dis nie asof sy ’n goeie indruk op hom wil maak nie. Sy druk die papierservet krampagtig tussen haar vingers vas tot haar hand daarvan pyn. Sê nou ... ’n Bekende sakeman kom by die deur in en kyk rond. As dit maar hy kon wees, dan sou sy bly wees, maar haar biologiese pa sal veel eerder een van sy laer klas werknemers wees. Dirk Bredenhann is nie die soort man wat sy verantwoordelikhede opsy sal skuif soos wat haar sogenaamde pa gemaak het nie. Hy is hoog aangeskrewe in die distrik en staan bekend as ’n regverdige en vrygewige man wat sy werknemers goed behandel. Lisa weet, want haar ma is sy persoonlike assistent vir so lank as wat sy maar kan onthou. Sy self het tydens skoolvakansies by sy firma gewerk om sakgeld te verdien en daar het sy gesien sy werknemers het een en almal die grootste respek en waardering vir hom. Sy kyk deur die venster in die straat af. Wanneer kom hy dan? Dis nou presies vieruur, die tyd van die afspraak wat haar ma gereël het. Tipies van die soort man wat hy is, sal hy sekerlik laat wees of glad nie opdaag nie. Haar ma het haar belowe dat sy op haar agtiende verjaardag haar biologiese pa mag ontmoet en vandag is die dag waarop sy so lank gewag het. Haar toespraak is goed voorberei om die man wat haar en haar ma in die steek gelaat het byna negentien jaar gelede mooi te vertel presies hoe min sy van hom dink! Watter soort man sou haar mooi, saggeaarde ma in die steek laat juis toe sy hom die nodigste gehad het? Net iemand met ’n uiters swak karakter sou so-iets doen. Sy is bly dat hy nie deel van haar lewe is nie, sy wil hom net ontmoet om te weet wie hy is en hom te vertel hoe laag haar opinie van hom is. Daarna wil sy hom nooit weer sien nie. Dirk Bredenhann gesels so in die verbygaan met almal wat hy ken en Lisa hou hom dop. Dis altyd so. Almal wil graag ’n woordjie met hom wissel. Die mense van die omgewing bewonder hom vir die manier waarop hy al die jare vir sy oorlede vrou, wat sedert haar skooldae aan ’n rolstoel gekluister was, gesorg het. Ten spyte van die feit dat hy een van die aantreklikste mans in die dorp is, was hy nooit ontrou aan sy sieklike vrou nie. Hy kom in haar rigting. “Hallo, Lisa.” Hy kom by haar tafel tot stilstand. “Middag, meneer Bredenhann.” Sy glimlag skamerig vir hom. Hy is effens intimiderend, maar sy weet uit ondervinding dat hy altyd vriendelik en gaaf teenoor almal optree. Sy loer vinnig deur se kant toe. Miskien moes haar ma die afspraak in ’n minder publieke plek gereël het. Sê nou haar pa kom in en maak ’n spektakel van homself voor meneer Bredenhann? “Mag ek sit?” vra hy en beduie na die stoel oorkant haar. Sy kyk verskrik op. “E ... eintlik wag ek vir iemand anders,” waag sy dit. Sy skaam haar morsdood as hierdie man moet uitvind wat die rede is hoekom sy hier op iemand sit en wag. Weet hy dat haar ma en pa nooit getroud was nie, of het haar ma dit vir haar werkgewer geheim gehou? “Ek dink nie so nie. My afspraak om vieruur hier in die koffiewinkel is met jou, Lisa.” Lisa hap na lug en sluk swaar. Wat? “Daar moet ’n fout wees ... dis nie moontlik nie ... dis ...” Lisa se woorde laat haar in die steek. Dit kan eenvoudig nie wees nie. Sy stem bly onverstoord. “Dit is waar, Lisa, jy is my enigste dogter, my eie vlees en bloed.” Lisa kyk op in sy oë, ’n deurskynende ligblou nes hare. Die laatmiddagson glinster in sy rooi krulle, ook net soos haar eie. Hoekom het sy dit nog nooit opgemerk nie? Sy skud haar kop. “Dis nie waar nie!” Haar stoel val kletterend om toe sy opspring. Sy moet hier wegkom. Hoe? Wat? Hoekom? Sy kom uitasem tot stilstand by haar pienk bromponie wat sy vir haar sestiende verjaardag gekry het. Sy moet onmiddellik so ver as moontlik hiervandaan weg kom. Sy grawe in haar rugsak vir haar sleutel en skop teen die stut wat die bromponie regop hou sodat sy kan wegtrek. ’n Groot hand kom op die stuurstang te lande. “O nee, jy gaan nêrens heen op hierdie ding terwyl jy so ontsteld is nie.” Hy vat haar liggies aan die arm. “Kom, ons kan meer privaat in my motor gesels.” Hy beduie met sy kop na die luukse motor wat daar naby geparkeer is. Lisa huiwer en knyp haar oë toe. ’n Magdom vrae warrel deur haar brein. Vrae wat net hy of haar ma kan beantwoord. Sy haal diep asem en blaas dit stadig weer uit. Miskien moet sy tog na sy kant van die saak luister. Vanaand is dit haar ma se beurt om te verduidelik. Hoekom het hulle haar vir agtien jaar in die duister gehou? Nee, hoekom het hulle haar lewe lank vir haar gelieg? Toe sy as kind vrae gevra het oor haar pa, het haar ma altyd ontwykend geantwoord. Om iets te verswyg is mos net so erg soos ’n leuen. Later het sy haar met die belofte dat sy op haar agtiende verjaardag al die antwoorde kan kry, gepaai. Hulle skuld haar ’n verduideliking en dit beter ’n baie goeie een wees! Onwillig maak sy weer haar fiets staan en volg hom na waar hy reeds die motordeur vir haar oop hou. Toe hulle albei sit, draai hy na haar toe. “Ek weet jy het baie vrae en jy het beslis rede om ontsteld te wees, maar ek vra dat jy na my luister. Daarna kan jy my slegsê soveel as wat jy wil.” Lisa wring haar hande op haar skoot saam, maar antwoord nie. Hy steek ’n hand na haar toe uit, maar toe sy terugdeins, sug hy en trek dit terug. “Ek weet ek het baie om te verduidelik, so luister asseblief.” Lisa kyk na ’n by wat heen en weer teen die buitekant van die motorvenster beweeg, soekend na iets. Waar sou die res van die swerm wees? Voel die eensame by op hierdie oomblik net so verlore en afgesonder soos sy? “Ek en jou ma en my oorlede vrou was klasmaats. Jou ma en tannie Rina was beste maats van graad een af. Jou ma en ek was op hoërskool meer as net maats, ons was gekys van standerd agt af,” begin hy vertel. Lisa frons. “Ge-wat?” “Gekys. Ons was kêrel en nooi. Hoe noem julle dit deesdae ... boyfriend and girlfriend.” Lisa snuif. “Ons het alles saam gedoen. Ons was oortuig ons is geesgenote, bedoel om altyd saam te wees.” Sy kan aan sy stemtoon hoor hy dink nou ver terug. “Nou, hoekom het julle dan nooit getrou nie, veral nie nadat ...” Hy sug swaar. “Die aand van ons matriekafskeid, wat die wonderlikste aand van ons skooljare moes wees, het in ’n nagmerrie ontaard. Toe ek na die funksie ons maats met my pa se kar by hul huise gaan aflaai het, het ek my met die skerp draai daar buite die dorp misgis en die kar het gerol.” Hy sidder. “Ons was almal oukei, behalwe Rina wat uitgeval en kwaai rugbeserings opgedoen het.” Lisa trek ’n skerp asem in. “Is dit hoekom sy verlam was?” “Ja. Die hele dorp se mense het my natuurlik verkwalik, veral haar ouers. Hulle was oud en kon haar nie versorg of dit bekostig om vir verpleegsorg te betaal nie.” “En toe?” Sy kneukels vertoon wit soos hy die stuurwiel vasklem. “My pa was ’n baie streng en regverdige man. Hy het gevoel dis my plig om na haar om te sien. Hy en haar pa het my verplig om my planne om universiteit toe te gaan, te laat vaar en met haar te trou.” “Maar dis nie regverdig teenoor jou nie,” bars dit uit haar uit. “Julle was nog so jonk!” Hy sug weer. “Ons het ook so gedink, maar my pa het voet by stuk gehou en ek en Rina is daar in die hospitaal getroud op dieselfde dag wat jou ma uitgevind het sy is swanger met jou.” Lisa sit haar hand oor haar mond om die kreet wat uit haar keel ontsnap, te probeer stuit. Hoe aaklig. “Ek weet nie wat vir my die moeilikste was om te aanvaar nie – die feit dat ek en Rina in ’n liefdelose huwelik gedwing was, of dat ek en jou ma nie sou kon trou en jou saam grootmaak soos ons so bitter graag wou nie. Ons was in sak en as, maar die koeël was deur die kerk, ek was reeds getroud.” “Kon julle dan niks daaraan doen nie? Kon die huwelik met tannie Rina nie ontbind word nie?” “Ek wou dit met alle geweld doen, maar jou ma het my gekeer. Sy het gesê ons durf nie ons geluk op iemand anders se ongeluk bou nie en ek moes dit maar laat vaar. Dis wie sy is, sy stel altyd ander se geluk bo haar eie.” Lisa blaas ’n rukkerige asem uit. “Ja, dis my ma daai. Die mense het in elk geval geskinder en ek was maar altyd as buite-egtelik beskou.” “Natuurlik het hulle, maar jy het as klein kind gelukkig van niks geweet nie. Jou arme ma het sterk gebly en by haar voorneme gehou om jou alleen groot te maak. Gelukkig het jou ouma en oupa haar bygestaan deur die moeilike jare, dit weet jy tog.” “En ... jy?” Wat moet sy hom noem? Oom? Meneer Bredenhann? “Daardie eerste jare was vir my die moeilikste. Ek moes werk, saans studeer en boonop snags ’n hulpelose invalide versorg. Gelukkig het my pa vir Rina se verpleging bedags betaal, maar ek moes baie dinge self ook doen. Intussen wou my hart breek oor jou en jou ma se swaarkry. Ek was letterlik aan twee geskeur.” “Na Oupa se dood moes Ma gaan werk en toe het sy by julle as kantoorassistent begin. Gelukkig was ek darem toe al op skool.” “Dit was vir my wonderlik dat sy toe nader aan my kon wees. Ons moes maar tevrede wees net met die wete dat ons mekaar elke dag kon sien.” “Het julle nooit ’n verhouding oorweeg nie?” “Natuurlik nie. Jy ken jou ma mos beter as dit. Sy en Rina het vriendinne gebly tot met Rina se dood. Anders as Rina, het jou ma nie een enkele keer oor haar lot gekla nie.” “Dis waar. My ma is ’n baie positiewe mens. Het tannie Rina geweet van my?” “Uit die aard van die saak het sy, maar ons het nooit gepraat oor wie jou pa is nie. Ek het later besef dat sy al die jare heimlik op my verlief was. Dit was sy wat haar pa aangehits het om my te verplig om met haar te trou, al het sy geweet dat my liefde vir jou ma nooit ophou bestaan het nie.” Lisa kyk hom nou reguit in die oë. “Tot vandag toe?” “Vir altyd. Lisa, jy is, afgesien van omstandighede, uit die suiwerste liefde gebore, moet dit nooit vergeet nie. Ek het jou vordering van jou geboortedag af op ’n afstand fyn dopgehou, my pragtige rooikopmeisiekind. Die skoolvakansies wat jy by ons kom werk het en ek jou van nader kon leer ken, was vir my baie kosbaar.” Hy sug en kyk weer weg. “Rina het ook uitgevind dat ek maandeliks ekstra geld by jou ma se salaris voeg om haar finansieel te ondersteun, maar sy het nooit gewaag om dit te meld nie. Sy het gemaak asof dit nie bestaan nie.” ’n Lig gaan vir Lisa op. Haar pa het dus nie sy verantwoordelikheid teenoor haar misken nie, maar al die jare van ver af voorsiening gemaak vir haar. “Dis dan waar die geld vir al die ekstras vandaan gekom het. Ek het gewonder hoe Ma sekere goed kon bekostig – die bromponie en ons vakansies by die see elke jaar, geld vir my om universiteit toe te gaan volgende jaar.” Hy glimlag vir die eerste keer. “Die pienk fietsie was jou geskenk van my af. Ek sou graag veel meer wou doen, saam met julle see toe gaan byvoorbeeld, maar ek kon nie. Van nou af gaan dinge egter anders wees.” “Omdat tannie Rina ... weg is?” “Jip, ek is nou ’n vry man. Ons drie het lank genoeg swaar gekry. As dit jou goedkeuring wegdra, gaan ek haar binnekort vra om met my te trou, iets wat ek twee dekades gelede al moes gedoen het.” Hy bring ’n ringdosie uit sy binnesak te voorskyn en knip dit oop. “Dink jy sy sal hiervan hou?” Lisa se oë rek en sy snak na asem. “Wag ’n bietjie. Dis crazy – too much!” Sy gesig val en hy klap die ringdosie toe. “Jammer, ek moes geweet het ...” Lisa sit haar hand op sy baadjiemou. “Ek bedoel nie ek wil dit nie hê nie, Oom, dis eintlik meer as oukei, dis net baie om op een slag in te neem.” Hy lag. “Ek kom agter jy weet nie eintlik wat om my te noem nie. Op die oomblik is Oom heel goed, maar ek hoop natuurlik dat jy dit eendag sal regkry om my Pa of Pappa te noem soos ek al die jare begeer het.” Vir die eerste keer vanmiddag sien sy onsekerheid op sy gesig. Lisa voel hoe haar hart lig. Vanmiddag het begin met bitter gedagtes teenoor die pa wat sy al die jare gedink het haar versaak het. Nou weet sy dat hy ’n baie goeie rede gehad het en dit was nie omdat hy haar en haar ma nie wou hê nie. “Dit sal nie baie moeilik wees nie. Kan ek weer die ring sien?” Hy glimlag en gee die ring aan. “Ek hoop sy sal daarvan hou. Ek skuld haar baie meer as net ’n diamantring.” Sy vat liggies aan die skitterende diamant. “Sjoe, dis cool. Ek is seker sy sal mal wees daaroor. Miskien moet Oom haar Sondag vra.” “Hoekom Sondag?” vra hy met ’n frons. Sy maak die motordeur oop en klim uit, maar draai terug en buk om hom in die oë te kyk. “Sondag is Moedersdag en as sy enigiets vir haarself kan wens, dink ek dit sal dit wees.” Hy glimlag en fyn kreukels vorm langs sy oë. “Slim meisiekind. Dis die perfekte dag vir ons drie om uiteindelik ’n gesin te word. Ek neem julle twee uit vir ’n baie spesiale ete in die stad. Ek sal dit met haar reël. Moet eers niks sê oor die ring nie.” “My lips are sealed.” Sy maak ’n zipbeweging oor haar mond. “Sorg vir blomme en vonkelwyn. My ma verdien dit,” dring sy aan. “Van nou af sal daar altyd met spesiale geleenthede blomme en vonkelwyn wees vir my twee meisies. Ons het baie jare om in te haal,” belowe hy en blaas vir haar ’n soentjie voordat hy stadig wegtrek. Met ’n juigkreet skakel Lisa haar bromponie aan en waai vir haar pa toe hy by haar verbyry. Haar ma gaan die wonderlikste verrassing vir moedersdag kry.

1 opmerking:

  1. Ongelukkig laat die blog nie toe vir paragrafering nie. Jammer daaroor.

    AntwoordVee uit