Skrywer van romantiese fiksie.

Maandag 31 Augustus 2020

Sal die wêreld ’n beter plek wees na die pandemie?

Baie gou na die instelling van die grendelstaat was dit reeds duidelik dat dinge nie gou weer na normaal sou terugkeer nie. Om die waarheid te sê, daar was reeds fundamentele veranderinge wat permanent van aard blyk te wees. Wanneer hierdie gesondheidskrisis die wyk neem, gaan ons in ’n nuwe wêreld woon. Hoe anders gaan dit wees? Hoe het die pandemie ons almal beïnvloed? • Verbruikers word aangemoedig om plaaslike besighede te ondersteun, eerder as om na oorsese verskaffers te kyk. Help jou eie mense om te herstel na swaar verliese. Selfs groot besighede sal plaaslik belê eerder as oorsee. • Baie van ons moes vinnig leer om eerder aanlyn te gaan soek vir werksgeleenthede, inkopies en selfs vermaak. Dit het vir sommiges nuwe wêrelde oopgemaak. Besighede moes aanpas hierby en aanlynplatforms of -winkels oopmaak. Onderwysers en dosente moes leer om klasse aanlyn aan te bied. Predikante moes vinnig leer hoe om hul preke en Bybelstudies digitaal te versprei. • Die van ons wat ‘tegnologies gestremd’ is, raak dus al verder agter. As jy nie rekenaarvaardighede het nie en nie toegang het tot die internet nie, gaan jy ver agter bly. Mense wat nie in staat is om aanlyn te werk nie, gaan vir seker werksgeleenthede verloor en ekonomies agter raak. • Omdat baie meer mense in die toekoms permanent van die huis af gaan werk, sal hulle kan woon waar hulle wil en die ontvolking van stede en dorpe sal mettertyd gebeur. Verkeer en besoedeling verminder dus drasties. • Die pandemie het niemand ontsien nie: ryk en arm is ewe veel deur die siekte geraak. Gesondheidsorg vir almal het dus onder die vergroot-glas gekom en sal beslis in die toekoms groter aandag geniet. • Werkloosheid bestaan nie net meer onder sekere groepe nie, maar het ’n werklikheid geword vir ons almal. Baie gesinne wat vantevore welaf was, is nou sonder inkomste en moet vinnig aanpas en nuwe maniere soek om ’n lewe te maak. • Oorsese reise en bootvaarte is skielik ’n groot gesondheidsrisiko. Dit gaan lank neem voordat mense weer die vrymoedigheid sal hê om die vreemde aan te durf. • Die mens is egter in staat tot herstel en dis ’n histories bewese feit dat na ’n groot krisis soos ’n natuurlike ramp of oorlog, daar gewoonlik ’n tydperk van herbou en groei plaasvind. Daar is reeds planne in plek vir die rekonstruksie van die ekonomie en die onderwysstelsel. Daar is ’n nuwe energie en mense jeuk om weer kreatief te wees en nuwe dinge te aan te pak. Mense is opgewonde om terug te keer na ‘normaal’, om weer te kan rondry, kuier en inkopies te doen.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking