Dinsdag 01 September 2020
Proestukkie uit Winternag
Toe Belinda die deur vir hom oopmaak, kan hy sien sy is omgekrap. Alweer. Hy sal wat wil gee om haar onbevange te hoor lag vir ’n verandering. “Hallo, Belinda. Wat is fout?” vra hy.
“Hallo, Jaco. Kom in.” Sy staan opsy dat hy kan verbykom. “Ek wou die kaggelvuur aansteek, maar ek is bevrees van vuurmaak weet ek minder as niks. My strandhuis het elektriese kaggels. Al waarin ek slaag, is om die hele plek toe onder die rook te kry. Ek is nou spyt ek het nooit by die voortrekkers aangesluit toe ek op skool was nie.”
Jaco lag. “Jy lyk vir my allesbehalwe na ’n voortrekker.” Hy druk die bottel sjerrie in haar hande en gaan reguit na die kaggel toe. “Geen wonder jy sukkel nie, jy het hopeloos te veel hout ingepak en dit sonder dun houtjies om die lot aan die gang te kry. Die vuur sal net rook en smoor.” Hy kniel op die mat, haal al die hout uit en begin die vuur van voor af aanpak.
“Nou dink jy regtig ek is ’n hulpelose vroumens.”
“Glad nie. Niemand verwag immers van ’n verhoogkunstenaar om te kan vuurmaak nie.”
“Miskien verwag sy dit van haarself.”
Hy gee haar ’n berekende kyk. Dit word vir hom al duideliker dat sy werklik hard probeer om aan te pas by haar nuwe, eenvoudiger lewe hier op die platteland, nou dat sy haar suksesvolle sangloopbaan prysgegee het om naby Mari te wees. Hy moet haar seker krediet gee daarvoor. “Jy verbaas my telkens, Belinda, jy is baie anders as wat ek my voorgestel het toe jy hier op Groeneweide aangekom het.”
Haar wenkbroue lig. “Mens sou dit nooit sê nie. Jy behandel my steeds asof ek die Belinda Behrens is wat die media so beskinder.”
“Is jy dan nie?” terg hy.
Sy klik haar tong vir hom. “Jy weet, jy herinner my aan die skoolseuns wat my hare getrek het op laerskool.”
Hy snork. “Miskien trek ek ook net jou hare. Het jy ooit gewonder hoekom hulle dit gedoen het?”
“Omdat hulle net so gemeen was soos jy.”
’n Blaasgeluid ontsnap deur sy neus. “Nee, die teenoorgestelde. Dis omdat hulle aangetrokke tot jou was en nie geweet het hoe om dit te hanteer nie.”
Haar wenkbroue lig. “Jy is ... wat ... vyf en veertig of meer; beslis nie meer op laerskool nie.”
“Agt en veertig en ek kan net so min met my gevoelens vir jou maak as wat daardie laerskoolseuns kon.”
Sy trek haar asem skerp in en dis ’n hele paar tellings voor sy iets uitkry. “Hoekom?”
“Maak die somme, Belinda. Ek is ’n wewenaar met twee tienerkinders, op die rand van bankrotskap na die uitmergelende droogte van die afgelope jare. Jy, in teenstelling, is beeldskoon, beroemd en duidelik baie welaf.” Hy kyk om hom na die klein, maar smaakvol gemeubileerde woonkamer met onmiskenbare tekens van welvaart in die duur persiese mat en oorspronklike skilderye teen die muur. “Wat het ek om jou, of enige vrou te bied? Die antwoord van die som: ek kan nie bekostig om meer te doen as om net jou hare te trek nie.”
Sy kyk hom net stom aan en hy besluit om liewer op die taak op hande te fokus voordat hy hopeloos te veel sê. Hy draai terug na die kaggel toe. “Kyk net hoe ek dit doen, dis nie ingewikkeld nie.” Hy stapel die hout behendig op en steek dit aan. Die vlamme lek-lek aan die dun houtjies en binne enkele minute brand die vuur gesellig. “Volgende keer sal jy nie weer sukkel nie. Waar is Driaan en Mari?” Hy hou sy stem doelbewus lig, vee sy hande aan sy jeans se sitvlak af en staan op.
Teken in op:
Plaas opmerkings (Atom)
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking