Skrywer van romantiese fiksie.

Dinsdag 15 September 2020

Resensie deur Amanda Claassens oor my bydrae tot die Nostalgiereeks

Gistermiddag was nou een maal dat beurtkrag my glad nie gepla het nie. Op ’n koue en triesterige lentedag, het ek myself summier onder ’n kombers gaan toetrek en met mening gelees aan die eerste van Lapa se Romanza Nostalgie reeks. Twee van Madelie Human se ouer Romanzas is in hierdie bundel vervat, en belowe ’n besondere lekkerlees ervaring vir liefhebbers van romantiese fiksie. Die guitige dame op die buiteblad herinner nou nie eintlik aan enige van die tersaaklike heldinne nie, maar pas goed by die nostalgie konsep. Optelgoed is hougoed het ek al voorheen gelees en nou weer terdeë geniet. Jy is die een was ’n nuwe vir my. In beide verhale kry die helde ook kans om te fokaliseer, wat baie bydra tot die sukses van die storielyne. Hulle het raakpunte wat betref hulle siening van die vroulike geslag in dat hulle sku is om betrokke te raak, bang is om hulle ware emosies te erken, maar om verskillende redes. Sonder om uit hulle eie gesigspunt te lees, sou die leser hulle optrede nie begryp het nie. Die heldinne is uiteenlopend, maar het ’n selfstandige streep in gemeen. Verlief raak en trou was nie op die agenda nie, maar die liefde laat hom mos nie voorskryf nie. As jy soos ek redeneer, is dit byna riskant om hierdie eerste Romanza Nostalgie aan te skaf, want dit belowe om ’n reeks te wees wat ’n versamelstuk kan word. Maar met ’n kranige liefdesverhaalskrywer soos Madelie Human, kan mens mos nie anders nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking