Vrydag 06 Mei 2022
’n Onlangse gesprek met Amanda Claassens oor my insirasiereeks.
Madelie Human is bekend en geliefd onder lesers van romantiese fiksie. Sy het ingewillig om ’n paar vrae te beantwoord. Haar antwoorde was besonder insiggewend.
V: Hoe lank skryf jy al voltyds, en wat het jy voorheen gedoen?
A: Ek het veertien jaar gelede ophou werk as kollegelektor in sakekommunikasie en toe voltyds begin skryf.
V: Hoeveel Romanzas het jy al gepubliseer?
A: Ek het altesaam 40 gepubliseerde liefdesverhale wat Romanzas en drie Super Romanzas plus ’n paar ander boeke insluit. Ek probeer drie of vier per jaar produseer, maar publikasiegeleenthede is min omdat Lapa slegs 48 Romanzas per jaar uitgee en daar is meer as 70 skrywers wat om plekke moet meeding.
V: Buiten jou skryfwerk, bied jy ook ’n kursus aan vir voornemende romanseskrywers. Hoe belangrik ag jy opleiding alvorens ‘n skrywer ’n manuskrip aanpak?
A: Romanses is nie letterkundige werke nie, maar is hoegenaamd nie so maklik om te skryf as wat mense dink nie. Opleiding is nie noodsaaklik nie, maar enigiemand wat ernstig is oor skryf, moet deeglike navorsing doen oor die genre waarin jy wil skryf voordat jy begin. Jy moet jou ook vergewis van die vereistes wat uitgewers vir daardie genre daarstel. Ek het myself “opgelei” deur alles waarop ek my hande kon lê oor die romanse, te bestudeer. Die geite van uitgewers moes ek op die swaar manier leer. My kursus is ’n opsomming van alles wat ek met bloedsweet geleer het. Toe ek begin het, sou ek wat wou gee vir so ’n handleiding. Dit help ook ontsettend baie as jy kan begin onder die leiding van ’n ervare skrywer wat jou touwys kan maak oor die werkinge van die boekebedryf in Afrikaans en jou boonop deeglike terugvoer gee oor jou skryfwerk.
V: Daar het al verskeie reekse uit jou pen verskyn. Waaraan skryf jy die lekkerste: losstaande titels, of reekse?
A: Die romanse is gewoonlik kort en verskaf min ruimte en tyd vir karakterontwikkeling. Die reeks bied die skrywer die geleentheid om dieper te delf in die mense en hul probleme. Ek verkies reekse, want die karakters word later vir my so bekend dat ek presies weet hoe hulle sal optree en wat hulle in sekere situasies sal sê. Ek het vroeg in my loopbaan my hand aan ‘n reeks, Wilde Hawer, gewaag en dit baie geniet. Daarna het ek ook die Skakeringsreeks, die Heldereeks, die Le Fleurreeks, die Lank en Donkerreeks, die Inspirasiereeks en nou ook die Tydreisreeks die lig laat sien. Ek skryf wel soms nog losstaande boeke soos die kersverhale wat Lapa sedert verlede jaar Desember publiseer.
V: Ek wil spesifiek gesels oor die Inspirasiereekds, die Groeneweide-sage, waarvan die laaste aflewering eersdaags gaan verskyn. Lapa uitgewers en Romanza het die sub-genre, Inspirasie verhale, geskep waaronder ’n skrywer die vryheid het om te skryf vanuit ’n Christelike oogpunt. Vier titels het alreeds verskyn: Herfswind, Winternag, Somerson en Lentemelodie. In elkeen van hierdie stories is daar baie duidelike geestelike aspekte waarmee die karakters worstel. Hoe het jy hierdie stories benader: eers die karakters geskep, of eers ’n bepaalde geestelike waarheid geïdentifiseer waarrondom jy die storielyn wou bou?
A: Soos altyd begin ek met die karakters, hul agtergrond en hul beroepe en besluit dan op die insident wat hul spesifieke innerlike konflik wat die storie gaan dryf, veroorsaak. Soos die verhaal ontwikkel, duik probleme op wat hul geestelike lewe beïnvloed en dan probeer ek dit aanspreek. Ek is geen teoloog of geestelike leier nie, maar delf uit my eie en die mense rondom my se lewenservaring om my daarmee te help. Ek het in ’n Christelike huis grootgeword en was nog altyd kerkvas. Die Bybel is my handleiding en boonop het ek ’n Alwyse Raadgewer wat my lei om te weet wat die karakter nodig het om te leer.
V: Die stories getuig deur die bank van goeie insig en kennis van die Woord, suksesvol verweef met mooi liefdesverhale. Jy het glad nie in die slaggat van prekerigheid getrap nie. Was dit vir jou ’n groot uitdaging om hierdie balans te vind en te behou deur vyf storielyne?
A: Ek self hou nie van godsdienstige dwepery nie en probeer net op ’n eerlike manier omgaan met my karakters en hul geestelike groei. Die inspirerende romanse bly hoofsaaklik ’n romanse wat fokus op die ontwikkellende liefdesverhouding tussen die held en heldin. Die karakter se geestelike groei behandel ek slegs as deel van karaktergroei. Dit oorheers dus nie die verhaal soos in die Christelike romans wat LUCA en Lux Verbi uitgee nie. Ek vind dat Romanzalesers hierdie onderskeid waardeer en meer verteerbaar vind as ’n streng Christelike aanslag. Hulle bly immers by uitstek romanselesers wat ’n lekker liefdesverhaal soek.
V: Met al vier die seisoene gebruik, het jy ’n innoverende titel gekies vir die vyfde aflewering wat in Junie 2022 verskyn, Jaargety. Ek wil lesers aanraai om sommer vroegtydig die vorige vier boeke te probeer lees of herlees, maar ek skat dit sal darem nie fataal wees as dit nie kan gebeur nie?
A: Jaargety staan, soos al my boeke wat deel van reekse uitmaak, ook op eie voete en kan afsonderlik gelees word. Ek glo lesers sal, wanneer hulle van die vorige stories se hoofkarakters in boek 5 ontmoet, wel nuuskierig raak oor die vorige stories. Bargain Books het nog etlike van die eerste vier boeke in voorraad, maar die wat uit druk is, kan natuurlik op enige e-boekplatform verkry word.
V: Jy skroom nie om ’n nuwe uitdaging aan te durf nie. Soos met die Inspirasie verhale, het jy ook ’n baie suksesvolle bydrae gelewer onder die ander nuwe Romanza sub-genre, Fantasie. Waar het jy die inspirasie gekry vir Tydloos?
A: Tydloos is ’n tydreisverhaal en ek lees self bitter graag goeie tydreisverhale. Dit fassineer my om uit te vind hoe mense van ander eeue geleef het en wat is nou beter as om dit deur een van jou eie karakters se ervaringe te beleef? Boek 2 in die tydreisreeks, Ontydig, verskyn in September en Boek 3, Hoogtyd, in Februarie 2023. In hierdie reeks ruil karakters uit verskillende eeue om en moet dan in die ander tydgleuf aanpas en ’n nuwe lewe probeer maak ten spyte van sosiale en ander verskille. Soms moet hulle selfs ’n ander taal aanleer. Tydloos is baie goed deur lesers ontvang en hulle vertel my hulle kan nie wag vir die opvolgstories nie.
V: Waarna kan lesers uitsien? Nog ’n reeks, nog inspirasieverhale?
A: Amanda, weet jy dat daar meer as ’n 100 subgenres van die romanse wêreldwyd gelees word? Lapa is opgewonde om nuwe subgenres in die Romanzareeks op te neem en ek geniet die nuwe uitdagings en sien uit daarna om meer van hulle te probeer. Voorlopig beplan ek nog ’n reeks van elk van die Inspirerende en die Tydreis verhale, want die uitgewer het gevra vir meer. Daarna … wie weet? Daar is heelwat van daardie subgenres wat my en my skryfmaats laat wens ’n dag het meer as 24 uur gehad en dat Lapa vir ons sommer tien Romanzas per maand wil publiseer!
Maandag 18 April 2022
Jaargety
Die nuwe dokter op Groeneweide is nie net bekwaam nie, maar deksels mooi ook. Sy is egter afsydig en die jong manne van die omgewing loop hulle rieme styf as hulle gaan vlerksleep by die huis langs die spreekkamers. Jacques Greyling is nie so maklik om van ontslae te raak nie. As hy sy kop op iets gesit het, byt hy vas en hy wil vir Zadelle hê. Sy het ’n donker geheim wat maak dat sy mans ten alle koste vermy. ’n Traumatiese gebeurtenis in haar verlede het haar lewe verwoes, maar sy het met harde werk en deursettingsvermoë haarself deur die universitei gesit en haar lewensdroom om geneesheer te word, bewaarheid. Jacques se probleem is nou om deur haar skanse te breek en haar hart te wen. Dis egter nie so maklik nie, want sy het haarself afgesny van enige verhoudings. Om haar probleem te oorkom, het sy terapie nodig en wie is beter om haar te help as Groeneweide se geliefde leraar, dominee Driaan? Hy lei haar om haar pad na geloof terug te vind en so haar vertroue in die mensdom te herstel. Kan dit haar ook help om die verlede te verwerk en haar hart oop te maak vir die liefde wat Jacques haar bied?
Vrydag 25 Februarie 2022
Sondag 12 Desember 2021
Inspirasie vir die held van my kersverhaal.
Toe My Octopus Teacher ’n Oscar wen vir beste dokumentêre film, moes ek dit eenvoudig sien. Ek was verstom, nie net oor die verhaal wat ontvou het nie, maar alles omtrent die film het my beïndruk. Net daar besluit ek toe dat ek dit in een van my boeke moes gebruik en natuurlik was die held van my volgende boek, Ryno Viljoen, ’n marinebioloog wat navorsing oor seekatte doen.
Sondag 21 November 2021
Ligte leesstof vir die feesseisoen. Proe net hier ...
By die voordeur toet ’n voertuig. Dis seker nou Bernadette. Sy het reeds laat weet sy is op pad. Sy gooi die voordeur oop. “Ek is gereed. Meeubaai, hier kom ons! Laai solank my leesstof in, ek kry net my tas,” sê sy terwyl sy agterstewe eerste die sak boeke by die deur uitsleep en gaan dadelik weer in om die tas ook te gaan haal sonder om op te kyk.
Toe sy met haar tas op die stoep uitkom en die voordeur sluit, begroet ’n vreemde gesig haar. In die rypad voor die stoep staan, nie Bernadette se motor nie, maar ’n monsterbakkie met oorgroot wiele. Daar is ’n branderplank op die dakrak en haar sak boeke steek op die bak onder ’n bonkige seil uit.
Teen die kant van die bakkie leun ’n lang man met ’n vuilbaard en ’n sonbril. Sy donker kuif val oor sy voorkop en hy lyk allesbehalwe vriendelik. “Ek dog dis ’n volwassene wat ek moet saamneem Meeubaai toe? Wie is jy?” Hy bekyk haar skraal figuur in haar vakansieklere wat bestaan uit ’n denim kortbroek en T-hemp van haar poniestert tot by haar tone in visplakkies en weer terug.
Waarvan praat die man? “Daar moet ’n misverstand wees. Ek ry saam met my tante see toe. Ons gaan na ons strandhuis toe vir die vakansie. Wie is jy?”
“Ryno Viljoen. Ek moet professor Bernadette Erasmus van die Marine Research Institute se niggie hier oplaai.”
Berna frons en haal haar selfoon uit haar rugsakkie. “Bernadette? Ek is haar niggie. Wag, ek bel haar gou.”
Bernadette antwoord feitlik onmiddellik asof sy die oproep te wagte was. “Berna! Ek is so jammer. Ek het baie meer werk as wat ek gedink het. Dit gaan dalk ’n paar dae neem om af te handel. Ry asseblief solank saam met Ryno. Hy gaan toevallig vandag ook Meeubaai toe en ek vertrou hom volkome. Jy sal veilig wees saam met hom.”
“Maar ek sal wag tot jy kan wegkom, ek hoef mos nou nie vandag al te gaan nie,” maak Berna kapsie. Toevallig se voet. Sy ken vir Bernadette, alles word deeglik beplan en niks gebeur per toeval nie.
“Nee, nee, nee. Ry jy solank en gaan geniet die son en see. Ek kom sodra ek kan. Ek het klaar gereël dat die skoonmaakdienste die huis oopmaak en skoonmaak. Alles sal gereed wees wanneer julle daar kom, die nodigste voorrade in die yskas ook. Baai, ek moet gaan.” Sy sit summier die foon neer.
Berna hap na lug en bekyk die foon asof dit haar dilemma veroorsaak het. Dan kyk sy op na die grimmige man wat steeds met sy bene by die enkels gekruis teen sy onooglike bakkie leun. “Sy sê ek moet saam met jou ry.”
“Dis mos wat ek ook gesê het. Nou toe, kom. Die see wag.” Hy stoot homself van die voertuig af weg en kom vat haar tas uit haar hand.
“Maar ...” Sy gryp nog na die tas, maar hy spring rats op die bak, druk dit saam met die ander goed onder die seil in en maak dit met ’n rekband vas. Berna maak ’n gromgeluid in haar keel. “Antie Bernadette, ek gaan jou doodmaak vir hierdie slap riem. Ek sien dwarsdeur jou plannetjies,” brom sy onderlangs terwyl sy die deur aan die passasierskant van die hoë bakkie oop pluk. Moedeloos kyk sy na die trap en die sitplek wat albei te hoog vir haar kort bene is. Hoe klim iemand wat nie so lank soos die lummel met die sonbril is nie, hier in? Wie ry in elk geval met ’n gedoente wat lyk of dit op die filmstel van Monster Trucks hoort?
“Wag, ek sal jou kom help.” Hy spring van die bak af om haar ’n hupstootjie by die deur in te kom gee. Hy plaas sy hande op haar middel, hys haar met haar rugsak en al op en deponeer haar op die sitplek asof sy niks weeg nie.
Berna voel hoe haar gesig vuurwarm word. Genugtig, het sy hande vir ’n oomblik of twee onder haar kort T-hemp ingegly, of het sy haar dit verbeel? As haar studente haar nou moes sien! “H’m. Dankie.” Sy haak haar rugsakkie se bande van haar skouers af en sit dit by haar voete neer.
Berna sug gefrustreerd. As haar eie ma haar nie in die verleentheid stel nie, plaas haar tante haar in ’n onmoontlike situasie waar sy nie kan uitkom nie. Wat is dit met die vorige geslag van Erasmus vroue dat hulle alewig haar wat Berna is, se lewe so versuur?
“Buckle up,” gee hy opdrag toe hy inklim.
Sy wil haar eers vererg, maar besluit dan dis nie die moeite werd nie. “Vir seker. Hierdie ding gooi mens seker rond soos ’n bul by ’n rodeo as jy nie vasgemaak is nie,” antwoord sy snipperig en voldoen aan sy opdrag.
Hy lag en skakel die voertuig aan. “Sulke klein outjies soos jy? Vir seker. Maak jou gereed om so deurmekaargeskud soos melkskommel te wees wanneer ons oor ’n uur by Meeubaai arriveer.”
Met ’n gebrul trek hulle weg. Berna knyp haar oë toe en sê ’n skietgebedjie op. Vandag gaan sy sowaar haar Heiland leer ken.
Dinsdag 31 Augustus 2021
Nogtans sal ek jou liefhê, deur Magdaleen Walters – ’n resensie
Die romantiese fantasie is ’n splinternuwe subgenre wat Romanza onlangs vir die eerste keer aangepak het. Hierdie verhaal is die derde een en puik uitgevoer deur Magdaleen Walters. Sy het haar eerste fantasie oor die lewe van ’n weerwolf uitstekend in ’n heerlike romanse verweef.
Ek hou van Magdaleen se skryfstyl wat die heldin van die Victoriaanse tyd se gedagtewêreld en gedrag geloofwaardig verwoord het. Die held word sterk, maar tog uiters sensitief, uitgebeeld en is genoeg om enige romanseleser se hart te laat vermurwe.
Die verhaal het my aandag tot die laaste bladsy gehou en ek het elkeen met afwagting omgeblaai. Welgedaan, Magdaleen.
Lesers wat oor ’n verbeelding beskik en oop is vir vernuwing in die Afrikaanse ontspanningslektuur, sal dit beslis ook geniet!
Vrydag 30 Julie 2021
Proestukkie uit Lentemelodie
Sondagoggend is Ali vroeg op en aan die gang. Sy druk dou voor dag reeds die skaapboud wat sy met knoffel gestop het in die oond. Gelukkig het sy gistermiddag reeds die malvapoeding gebak en die kan net later opgewarm word. Die groente is geskil en staan in skottels water gereed voordat sy met haar beker stomende oggendkoffie op die stoep gaan sit.
“Vir wat staan jy so vroeg op? Het jy die bed natgemaak?” kom Jason gaap-gaap uit die huis met sy eie koffie in die hand. Ali sluk byna haar tong in toe sy sien hy het net ’n rugbybroekie sonder ’n hemp aan. Haar oë bly vasgenael op die goedgedefinieerde spiere van sy borskas en breë rug. Geen wonder Clarissa is agter sy lyf aan nie.
Sy kom agter hy wag op ’n antwoord en ruk haarself met mening reg. “Ons het gaste vir ete, het jy vergeet?”
“Nee, maar hulle kom eers na kerk, so teen half twaalf se kant.” Hy gaan sit op die stoeptrappie met sy rug teen ’n pilaar, skynbaar totaal onbewus van haar oë op hom.
“’n Skaapboud het ’n hele paar ure in die oond nodig om lekker sag te wees,” praat sy met ’n droë tong wat alweer sukkel om te werk. Na Saterdagaand is sy akuut bewus van hom.
Hy neem ’n versigtige slukkie van sy warm swart koffie en glimlag stadig. “Jy kook soos ’n veteraan. Gisteraand se pizza was uit die boeke, nes die wat ek in Italië geproe het en nogal met ’n regte brooddeegkors. Jy sal maak dat ek jou hier in my kombuis vasketting.”
Ali lag met ’n beeld van haar aan hierdie Adonis vasgeketting in ’n omhelsing op die kombuistafel. Jikes! Van wanneer af het Alida-Mari Greyling sulke gewaagde gedagtes dat sy sukkel om by te hou met hul gesprek? “Ek moet jou waarsku, my dienste is peperduur, jong.”
“Ek het gepraat van vasketting soos in slawearbeid, nie teen betaling nie, maar vir koningskos soos joune sal ’n man sekerlik baie betaal.”
En daar is die kettingbeeld weer terug! “H’m. Jy is nie ryk genoeg nie, meneer Vermeulen. Jy kan nie eens bekostig om ’n cougar eenkant aan te hou nie.”
Sy mond vol koffie trek met ’n boog oor die grasperk, Lulu spring op vanwaar sy met een oog oop lê en dut het, blaf opgewonde en gaan ruik aan die koffiedruppels op die gras. Jason vee sy mond met die agterkant van sy hand af. “Ha! Jy is heeltemal reg. Cougars vreet aan ’n man se sak. Ek sal my maar liewer by beroemde sangeresse bepaal. Ek dink juis ek het ’n sterk ketting daar in die motorhuis.”
Ali blaas oor haar koffie. Sy geniet die ligte geskerts tussen hulle twee veel meer as wat sy teenoor hom sal erken. Hoe sal dit wees om getroud te wees met ’n man soos Jason? Ugh, sy sien sy kaal bolyf en sy dink onmiddellik aan trou? So byna-byna is dit haar beurt om te verstik. Stop die lorrie net daar. Trou lê jare ver in die verskiet van haar toekoms.
“Ali?”
“H’m?” Haar kop hou aan ompaaie loop met haar vanoggend. Sedert die skaamtelose man sonder hemp hier opgedaag het.
“Ek vra of daar iets is waarmee ek kan help. Dis nie nodig dat jy alles alleen doen nie.”
“O. Alles is onder beheer in die kombuis, dankie. Miskien kan jy help om die tafel te dek.” Gaan trek net klere aan voordat ek my vergryp, dink sy desperaat.
“Oukei. Dis maklik genoeg.” Hy sluk sy laaste koffie af en staan op.
“Onthou om glase ook uit te haal vir die wyn wat ons gekoop het,” kry sy uiteindelik weer haar gedagtes bymekaar en syg teen die leuning van haar stoel terug toe hy met ’n wuif by die huis in verdwyn.
Teken in op:
Plasings (Atom)



