Skrywer van romantiese fiksie.

Dinsdag 01 September 2020

Proestukkie uit Winternag

Toe Belinda die deur vir hom oopmaak, kan hy sien sy is omgekrap. Alweer. Hy sal wat wil gee om haar onbevange te hoor lag vir ’n verandering. “Hallo, Belinda. Wat is fout?” vra hy. “Hallo, Jaco. Kom in.” Sy staan opsy dat hy kan verbykom. “Ek wou die kaggelvuur aansteek, maar ek is bevrees van vuurmaak weet ek minder as niks. My strandhuis het elektriese kaggels. Al waarin ek slaag, is om die hele plek toe onder die rook te kry. Ek is nou spyt ek het nooit by die voortrekkers aangesluit toe ek op skool was nie.” Jaco lag. “Jy lyk vir my allesbehalwe na ’n voortrekker.” Hy druk die bottel sjerrie in haar hande en gaan reguit na die kaggel toe. “Geen wonder jy sukkel nie, jy het hopeloos te veel hout ingepak en dit sonder dun houtjies om die lot aan die gang te kry. Die vuur sal net rook en smoor.” Hy kniel op die mat, haal al die hout uit en begin die vuur van voor af aanpak. “Nou dink jy regtig ek is ’n hulpelose vroumens.” “Glad nie. Niemand verwag immers van ’n verhoogkunstenaar om te kan vuurmaak nie.” “Miskien verwag sy dit van haarself.” Hy gee haar ’n berekende kyk. Dit word vir hom al duideliker dat sy werklik hard probeer om aan te pas by haar nuwe, eenvoudiger lewe hier op die platteland, nou dat sy haar suksesvolle sangloopbaan prysgegee het om naby Mari te wees. Hy moet haar seker krediet gee daarvoor. “Jy verbaas my telkens, Belinda, jy is baie anders as wat ek my voorgestel het toe jy hier op Groeneweide aangekom het.” Haar wenkbroue lig. “Mens sou dit nooit sê nie. Jy behandel my steeds asof ek die Belinda Behrens is wat die media so beskinder.” “Is jy dan nie?” terg hy. Sy klik haar tong vir hom. “Jy weet, jy herinner my aan die skoolseuns wat my hare getrek het op laerskool.” Hy snork. “Miskien trek ek ook net jou hare. Het jy ooit gewonder hoekom hulle dit gedoen het?” “Omdat hulle net so gemeen was soos jy.” ’n Blaasgeluid ontsnap deur sy neus. “Nee, die teenoorgestelde. Dis omdat hulle aangetrokke tot jou was en nie geweet het hoe om dit te hanteer nie.” Haar wenkbroue lig. “Jy is ... wat ... vyf en veertig of meer; beslis nie meer op laerskool nie.” “Agt en veertig en ek kan net so min met my gevoelens vir jou maak as wat daardie laerskoolseuns kon.” Sy trek haar asem skerp in en dis ’n hele paar tellings voor sy iets uitkry. “Hoekom?” “Maak die somme, Belinda. Ek is ’n wewenaar met twee tienerkinders, op die rand van bankrotskap na die uitmergelende droogte van die afgelope jare. Jy, in teenstelling, is beeldskoon, beroemd en duidelik baie welaf.” Hy kyk om hom na die klein, maar smaakvol gemeubileerde woonkamer met onmiskenbare tekens van welvaart in die duur persiese mat en oorspronklike skilderye teen die muur. “Wat het ek om jou, of enige vrou te bied? Die antwoord van die som: ek kan nie bekostig om meer te doen as om net jou hare te trek nie.” Sy kyk hom net stom aan en hy besluit om liewer op die taak op hande te fokus voordat hy hopeloos te veel sê. Hy draai terug na die kaggel toe. “Kyk net hoe ek dit doen, dis nie ingewikkeld nie.” Hy stapel die hout behendig op en steek dit aan. Die vlamme lek-lek aan die dun houtjies en binne enkele minute brand die vuur gesellig. “Volgende keer sal jy nie weer sukkel nie. Waar is Driaan en Mari?” Hy hou sy stem doelbewus lig, vee sy hande aan sy jeans se sitvlak af en staan op.

Maandag 31 Augustus 2020

Sal die wêreld ’n beter plek wees na die pandemie?

Baie gou na die instelling van die grendelstaat was dit reeds duidelik dat dinge nie gou weer na normaal sou terugkeer nie. Om die waarheid te sê, daar was reeds fundamentele veranderinge wat permanent van aard blyk te wees. Wanneer hierdie gesondheidskrisis die wyk neem, gaan ons in ’n nuwe wêreld woon. Hoe anders gaan dit wees? Hoe het die pandemie ons almal beïnvloed? • Verbruikers word aangemoedig om plaaslike besighede te ondersteun, eerder as om na oorsese verskaffers te kyk. Help jou eie mense om te herstel na swaar verliese. Selfs groot besighede sal plaaslik belê eerder as oorsee. • Baie van ons moes vinnig leer om eerder aanlyn te gaan soek vir werksgeleenthede, inkopies en selfs vermaak. Dit het vir sommiges nuwe wêrelde oopgemaak. Besighede moes aanpas hierby en aanlynplatforms of -winkels oopmaak. Onderwysers en dosente moes leer om klasse aanlyn aan te bied. Predikante moes vinnig leer hoe om hul preke en Bybelstudies digitaal te versprei. • Die van ons wat ‘tegnologies gestremd’ is, raak dus al verder agter. As jy nie rekenaarvaardighede het nie en nie toegang het tot die internet nie, gaan jy ver agter bly. Mense wat nie in staat is om aanlyn te werk nie, gaan vir seker werksgeleenthede verloor en ekonomies agter raak. • Omdat baie meer mense in die toekoms permanent van die huis af gaan werk, sal hulle kan woon waar hulle wil en die ontvolking van stede en dorpe sal mettertyd gebeur. Verkeer en besoedeling verminder dus drasties. • Die pandemie het niemand ontsien nie: ryk en arm is ewe veel deur die siekte geraak. Gesondheidsorg vir almal het dus onder die vergroot-glas gekom en sal beslis in die toekoms groter aandag geniet. • Werkloosheid bestaan nie net meer onder sekere groepe nie, maar het ’n werklikheid geword vir ons almal. Baie gesinne wat vantevore welaf was, is nou sonder inkomste en moet vinnig aanpas en nuwe maniere soek om ’n lewe te maak. • Oorsese reise en bootvaarte is skielik ’n groot gesondheidsrisiko. Dit gaan lank neem voordat mense weer die vrymoedigheid sal hê om die vreemde aan te durf. • Die mens is egter in staat tot herstel en dis ’n histories bewese feit dat na ’n groot krisis soos ’n natuurlike ramp of oorlog, daar gewoonlik ’n tydperk van herbou en groei plaasvind. Daar is reeds planne in plek vir die rekonstruksie van die ekonomie en die onderwysstelsel. Daar is ’n nuwe energie en mense jeuk om weer kreatief te wees en nuwe dinge te aan te pak. Mense is opgewonde om terug te keer na ‘normaal’, om weer te kan rondry, kuier en inkopies te doen.

Sondag 10 Mei 2020

’n Pa vir Moedersdag

’n Pa vir Moedersdag
Lisa skuif vir die soveelste keer haar sonrok se skouerbande reg en loer na die ander mense in die koffiewinkel wat rustig sit en gesels. Sy moes liewer iets anders aangetrek het. Sou ’n langbroek nie beter gewees het nie? Die rok is wel nie kort nie, maar die skouers is bietjie kaal. Sy drapeer haar krulle oor haar skouers sodat dit nie so erg kaal lyk nie. Miskien hou hy nie van haar rooi hare nie. Die kinders het haar op skool meer as genoeg daaroor geterg. Sy gooi die swaar lokke weer na agter. Wat maak dit tog saak? Dis nie asof sy ’n goeie indruk op hom wil maak nie. Sy druk die papierservet krampagtig tussen haar vingers vas tot haar hand daarvan pyn. Sê nou ... ’n Bekende sakeman kom by die deur in en kyk rond. As dit maar hy kon wees, dan sou sy bly wees, maar haar biologiese pa sal veel eerder een van sy laer klas werknemers wees. Dirk Bredenhann is nie die soort man wat sy verantwoordelikhede opsy sal skuif soos wat haar sogenaamde pa gemaak het nie. Hy is hoog aangeskrewe in die distrik en staan bekend as ’n regverdige en vrygewige man wat sy werknemers goed behandel. Lisa weet, want haar ma is sy persoonlike assistent vir so lank as wat sy maar kan onthou. Sy self het tydens skoolvakansies by sy firma gewerk om sakgeld te verdien en daar het sy gesien sy werknemers het een en almal die grootste respek en waardering vir hom. Sy kyk deur die venster in die straat af. Wanneer kom hy dan? Dis nou presies vieruur, die tyd van die afspraak wat haar ma gereël het. Tipies van die soort man wat hy is, sal hy sekerlik laat wees of glad nie opdaag nie. Haar ma het haar belowe dat sy op haar agtiende verjaardag haar biologiese pa mag ontmoet en vandag is die dag waarop sy so lank gewag het. Haar toespraak is goed voorberei om die man wat haar en haar ma in die steek gelaat het byna negentien jaar gelede mooi te vertel presies hoe min sy van hom dink! Watter soort man sou haar mooi, saggeaarde ma in die steek laat juis toe sy hom die nodigste gehad het? Net iemand met ’n uiters swak karakter sou so-iets doen. Sy is bly dat hy nie deel van haar lewe is nie, sy wil hom net ontmoet om te weet wie hy is en hom te vertel hoe laag haar opinie van hom is. Daarna wil sy hom nooit weer sien nie. Dirk Bredenhann gesels so in die verbygaan met almal wat hy ken en Lisa hou hom dop. Dis altyd so. Almal wil graag ’n woordjie met hom wissel. Die mense van die omgewing bewonder hom vir die manier waarop hy al die jare vir sy oorlede vrou, wat sedert haar skooldae aan ’n rolstoel gekluister was, gesorg het. Ten spyte van die feit dat hy een van die aantreklikste mans in die dorp is, was hy nooit ontrou aan sy sieklike vrou nie. Hy kom in haar rigting. “Hallo, Lisa.” Hy kom by haar tafel tot stilstand. “Middag, meneer Bredenhann.” Sy glimlag skamerig vir hom. Hy is effens intimiderend, maar sy weet uit ondervinding dat hy altyd vriendelik en gaaf teenoor almal optree. Sy loer vinnig deur se kant toe. Miskien moes haar ma die afspraak in ’n minder publieke plek gereël het. Sê nou haar pa kom in en maak ’n spektakel van homself voor meneer Bredenhann? “Mag ek sit?” vra hy en beduie na die stoel oorkant haar. Sy kyk verskrik op. “E ... eintlik wag ek vir iemand anders,” waag sy dit. Sy skaam haar morsdood as hierdie man moet uitvind wat die rede is hoekom sy hier op iemand sit en wag. Weet hy dat haar ma en pa nooit getroud was nie, of het haar ma dit vir haar werkgewer geheim gehou? “Ek dink nie so nie. My afspraak om vieruur hier in die koffiewinkel is met jou, Lisa.” Lisa hap na lug en sluk swaar. Wat? “Daar moet ’n fout wees ... dis nie moontlik nie ... dis ...” Lisa se woorde laat haar in die steek. Dit kan eenvoudig nie wees nie. Sy stem bly onverstoord. “Dit is waar, Lisa, jy is my enigste dogter, my eie vlees en bloed.” Lisa kyk op in sy oë, ’n deurskynende ligblou nes hare. Die laatmiddagson glinster in sy rooi krulle, ook net soos haar eie. Hoekom het sy dit nog nooit opgemerk nie? Sy skud haar kop. “Dis nie waar nie!” Haar stoel val kletterend om toe sy opspring. Sy moet hier wegkom. Hoe? Wat? Hoekom? Sy kom uitasem tot stilstand by haar pienk bromponie wat sy vir haar sestiende verjaardag gekry het. Sy moet onmiddellik so ver as moontlik hiervandaan weg kom. Sy grawe in haar rugsak vir haar sleutel en skop teen die stut wat die bromponie regop hou sodat sy kan wegtrek. ’n Groot hand kom op die stuurstang te lande. “O nee, jy gaan nêrens heen op hierdie ding terwyl jy so ontsteld is nie.” Hy vat haar liggies aan die arm. “Kom, ons kan meer privaat in my motor gesels.” Hy beduie met sy kop na die luukse motor wat daar naby geparkeer is. Lisa huiwer en knyp haar oë toe. ’n Magdom vrae warrel deur haar brein. Vrae wat net hy of haar ma kan beantwoord. Sy haal diep asem en blaas dit stadig weer uit. Miskien moet sy tog na sy kant van die saak luister. Vanaand is dit haar ma se beurt om te verduidelik. Hoekom het hulle haar vir agtien jaar in die duister gehou? Nee, hoekom het hulle haar lewe lank vir haar gelieg? Toe sy as kind vrae gevra het oor haar pa, het haar ma altyd ontwykend geantwoord. Om iets te verswyg is mos net so erg soos ’n leuen. Later het sy haar met die belofte dat sy op haar agtiende verjaardag al die antwoorde kan kry, gepaai. Hulle skuld haar ’n verduideliking en dit beter ’n baie goeie een wees! Onwillig maak sy weer haar fiets staan en volg hom na waar hy reeds die motordeur vir haar oop hou. Toe hulle albei sit, draai hy na haar toe. “Ek weet jy het baie vrae en jy het beslis rede om ontsteld te wees, maar ek vra dat jy na my luister. Daarna kan jy my slegsê soveel as wat jy wil.” Lisa wring haar hande op haar skoot saam, maar antwoord nie. Hy steek ’n hand na haar toe uit, maar toe sy terugdeins, sug hy en trek dit terug. “Ek weet ek het baie om te verduidelik, so luister asseblief.” Lisa kyk na ’n by wat heen en weer teen die buitekant van die motorvenster beweeg, soekend na iets. Waar sou die res van die swerm wees? Voel die eensame by op hierdie oomblik net so verlore en afgesonder soos sy? “Ek en jou ma en my oorlede vrou was klasmaats. Jou ma en tannie Rina was beste maats van graad een af. Jou ma en ek was op hoërskool meer as net maats, ons was gekys van standerd agt af,” begin hy vertel. Lisa frons. “Ge-wat?” “Gekys. Ons was kêrel en nooi. Hoe noem julle dit deesdae ... boyfriend and girlfriend.” Lisa snuif. “Ons het alles saam gedoen. Ons was oortuig ons is geesgenote, bedoel om altyd saam te wees.” Sy kan aan sy stemtoon hoor hy dink nou ver terug. “Nou, hoekom het julle dan nooit getrou nie, veral nie nadat ...” Hy sug swaar. “Die aand van ons matriekafskeid, wat die wonderlikste aand van ons skooljare moes wees, het in ’n nagmerrie ontaard. Toe ek na die funksie ons maats met my pa se kar by hul huise gaan aflaai het, het ek my met die skerp draai daar buite die dorp misgis en die kar het gerol.” Hy sidder. “Ons was almal oukei, behalwe Rina wat uitgeval en kwaai rugbeserings opgedoen het.” Lisa trek ’n skerp asem in. “Is dit hoekom sy verlam was?” “Ja. Die hele dorp se mense het my natuurlik verkwalik, veral haar ouers. Hulle was oud en kon haar nie versorg of dit bekostig om vir verpleegsorg te betaal nie.” “En toe?” Sy kneukels vertoon wit soos hy die stuurwiel vasklem. “My pa was ’n baie streng en regverdige man. Hy het gevoel dis my plig om na haar om te sien. Hy en haar pa het my verplig om my planne om universiteit toe te gaan, te laat vaar en met haar te trou.” “Maar dis nie regverdig teenoor jou nie,” bars dit uit haar uit. “Julle was nog so jonk!” Hy sug weer. “Ons het ook so gedink, maar my pa het voet by stuk gehou en ek en Rina is daar in die hospitaal getroud op dieselfde dag wat jou ma uitgevind het sy is swanger met jou.” Lisa sit haar hand oor haar mond om die kreet wat uit haar keel ontsnap, te probeer stuit. Hoe aaklig. “Ek weet nie wat vir my die moeilikste was om te aanvaar nie – die feit dat ek en Rina in ’n liefdelose huwelik gedwing was, of dat ek en jou ma nie sou kon trou en jou saam grootmaak soos ons so bitter graag wou nie. Ons was in sak en as, maar die koeël was deur die kerk, ek was reeds getroud.” “Kon julle dan niks daaraan doen nie? Kon die huwelik met tannie Rina nie ontbind word nie?” “Ek wou dit met alle geweld doen, maar jou ma het my gekeer. Sy het gesê ons durf nie ons geluk op iemand anders se ongeluk bou nie en ek moes dit maar laat vaar. Dis wie sy is, sy stel altyd ander se geluk bo haar eie.” Lisa blaas ’n rukkerige asem uit. “Ja, dis my ma daai. Die mense het in elk geval geskinder en ek was maar altyd as buite-egtelik beskou.” “Natuurlik het hulle, maar jy het as klein kind gelukkig van niks geweet nie. Jou arme ma het sterk gebly en by haar voorneme gehou om jou alleen groot te maak. Gelukkig het jou ouma en oupa haar bygestaan deur die moeilike jare, dit weet jy tog.” “En ... jy?” Wat moet sy hom noem? Oom? Meneer Bredenhann? “Daardie eerste jare was vir my die moeilikste. Ek moes werk, saans studeer en boonop snags ’n hulpelose invalide versorg. Gelukkig het my pa vir Rina se verpleging bedags betaal, maar ek moes baie dinge self ook doen. Intussen wou my hart breek oor jou en jou ma se swaarkry. Ek was letterlik aan twee geskeur.” “Na Oupa se dood moes Ma gaan werk en toe het sy by julle as kantoorassistent begin. Gelukkig was ek darem toe al op skool.” “Dit was vir my wonderlik dat sy toe nader aan my kon wees. Ons moes maar tevrede wees net met die wete dat ons mekaar elke dag kon sien.” “Het julle nooit ’n verhouding oorweeg nie?” “Natuurlik nie. Jy ken jou ma mos beter as dit. Sy en Rina het vriendinne gebly tot met Rina se dood. Anders as Rina, het jou ma nie een enkele keer oor haar lot gekla nie.” “Dis waar. My ma is ’n baie positiewe mens. Het tannie Rina geweet van my?” “Uit die aard van die saak het sy, maar ons het nooit gepraat oor wie jou pa is nie. Ek het later besef dat sy al die jare heimlik op my verlief was. Dit was sy wat haar pa aangehits het om my te verplig om met haar te trou, al het sy geweet dat my liefde vir jou ma nooit ophou bestaan het nie.” Lisa kyk hom nou reguit in die oë. “Tot vandag toe?” “Vir altyd. Lisa, jy is, afgesien van omstandighede, uit die suiwerste liefde gebore, moet dit nooit vergeet nie. Ek het jou vordering van jou geboortedag af op ’n afstand fyn dopgehou, my pragtige rooikopmeisiekind. Die skoolvakansies wat jy by ons kom werk het en ek jou van nader kon leer ken, was vir my baie kosbaar.” Hy sug en kyk weer weg. “Rina het ook uitgevind dat ek maandeliks ekstra geld by jou ma se salaris voeg om haar finansieel te ondersteun, maar sy het nooit gewaag om dit te meld nie. Sy het gemaak asof dit nie bestaan nie.” ’n Lig gaan vir Lisa op. Haar pa het dus nie sy verantwoordelikheid teenoor haar misken nie, maar al die jare van ver af voorsiening gemaak vir haar. “Dis dan waar die geld vir al die ekstras vandaan gekom het. Ek het gewonder hoe Ma sekere goed kon bekostig – die bromponie en ons vakansies by die see elke jaar, geld vir my om universiteit toe te gaan volgende jaar.” Hy glimlag vir die eerste keer. “Die pienk fietsie was jou geskenk van my af. Ek sou graag veel meer wou doen, saam met julle see toe gaan byvoorbeeld, maar ek kon nie. Van nou af gaan dinge egter anders wees.” “Omdat tannie Rina ... weg is?” “Jip, ek is nou ’n vry man. Ons drie het lank genoeg swaar gekry. As dit jou goedkeuring wegdra, gaan ek haar binnekort vra om met my te trou, iets wat ek twee dekades gelede al moes gedoen het.” Hy bring ’n ringdosie uit sy binnesak te voorskyn en knip dit oop. “Dink jy sy sal hiervan hou?” Lisa se oë rek en sy snak na asem. “Wag ’n bietjie. Dis crazy – too much!” Sy gesig val en hy klap die ringdosie toe. “Jammer, ek moes geweet het ...” Lisa sit haar hand op sy baadjiemou. “Ek bedoel nie ek wil dit nie hê nie, Oom, dis eintlik meer as oukei, dis net baie om op een slag in te neem.” Hy lag. “Ek kom agter jy weet nie eintlik wat om my te noem nie. Op die oomblik is Oom heel goed, maar ek hoop natuurlik dat jy dit eendag sal regkry om my Pa of Pappa te noem soos ek al die jare begeer het.” Vir die eerste keer vanmiddag sien sy onsekerheid op sy gesig. Lisa voel hoe haar hart lig. Vanmiddag het begin met bitter gedagtes teenoor die pa wat sy al die jare gedink het haar versaak het. Nou weet sy dat hy ’n baie goeie rede gehad het en dit was nie omdat hy haar en haar ma nie wou hê nie. “Dit sal nie baie moeilik wees nie. Kan ek weer die ring sien?” Hy glimlag en gee die ring aan. “Ek hoop sy sal daarvan hou. Ek skuld haar baie meer as net ’n diamantring.” Sy vat liggies aan die skitterende diamant. “Sjoe, dis cool. Ek is seker sy sal mal wees daaroor. Miskien moet Oom haar Sondag vra.” “Hoekom Sondag?” vra hy met ’n frons. Sy maak die motordeur oop en klim uit, maar draai terug en buk om hom in die oë te kyk. “Sondag is Moedersdag en as sy enigiets vir haarself kan wens, dink ek dit sal dit wees.” Hy glimlag en fyn kreukels vorm langs sy oë. “Slim meisiekind. Dis die perfekte dag vir ons drie om uiteindelik ’n gesin te word. Ek neem julle twee uit vir ’n baie spesiale ete in die stad. Ek sal dit met haar reël. Moet eers niks sê oor die ring nie.” “My lips are sealed.” Sy maak ’n zipbeweging oor haar mond. “Sorg vir blomme en vonkelwyn. My ma verdien dit,” dring sy aan. “Van nou af sal daar altyd met spesiale geleenthede blomme en vonkelwyn wees vir my twee meisies. Ons het baie jare om in te haal,” belowe hy en blaas vir haar ’n soentjie voordat hy stadig wegtrek. Met ’n juigkreet skakel Lisa haar bromponie aan en waai vir haar pa toe hy by haar verbyry. Haar ma gaan die wonderlikste verrassing vir moedersdag kry.

Woensdag 22 April 2020

e-Boekpakette as leesstof vir die grendeltyd

Lapa stel twee van my reekse vry as e-boekpakette om lesers te help om die grendeltyd genotvol te verwyl. Hier is die eerste een daarvan:
Te koop by: https://lapa.co.za/catalog/product/view/id/4552/s/helde-reeks-eboeke/category/22/

Dinsdag 18 Februarie 2020

Resensie oor Herfswind.

Amanda Claassens skryf op Penpunt die volgende:
In 2018 verskyn Lang pad na liefde, deur Cynthia Robertson. Dit was die eerste Romanza wat Lapa Uitgewers se “Inspirasieverhaal” stempel gedra het. Ek kan nie onthou dat daar sederdien weer een verskyn het nie. Nou het ervare en geliefde skrywer, Madelie Human, die sprong gewaag om die liefdesverhaal en geestelike fiksie te verweef, en met groot sukses. Ek skroom nie om hierdie romanse te skaar by goeie geestelike fiksie wat ek al gelees het nie. Die kwessies waarmee die karakters worstel, is realisties en eerlik. Daar is byvoorbeeld die eng en wettiese predikant wat vir jare in die gemeente dien en niemand waag om hom in enige opsig te bevraagteken nie. Ek is telkens tot introspeksie gedaag, onder andere oor gebed: bid ek om my sin te kry of bid ek om die Here se wil te laat geskied in my lewe? Dit is die vraag waarmee Mari gekonfronteer word (Bl. 89), en waarop sy nie dadelik ’n antwoord het nie. Haar diepgewortelde vooroordele en bitterheid toon krake, onder die wyse leiding van die nuwe leraar op die dorp; een wat bely dat hy nie al die antwoorde het nie, maar ’n Wyse Raadgewer het. Die skrywer raak heelparty geestelike gesprekspunte aan, soos vergifnis, geloofsgroei, en swaarkry. Ek kan nie fout vind met haar aanbieding van die onderwerpe nie. Dit getuig van kennis en goeie insig, sonder om prekerig oor te kom. Dankie, Lapa, dat julle aan skrywers wat so geroepe voel, hierdie geleentheid gee om te skryf vanuit ’n Christelike oogpunt, sonder dat hulle ’n ander uitgewer hoef te nader. Ek wag gretig op ’n volgende aflewering in die Groeneweide-sage.

Sondag 29 Desember 2019

Iets nuuts op die horison.

Na ’n bietjie van 'n ruskansie, is ek weer hard aan die werk met my nuwe reeks vir 2020. Dit was tyd vir vernuwing en ek is lus vir ernstiger, maar steeds romantiese verhale. Die nuwe reeks is dus drie inspirasieverhale. Die eerste boek in die reeks, Herfswind, is die storie van Mari en Driaan, die orrelis en die nuwe dominee van Groeneweide, ’n fiktiewe dorpie op die Vrystaatse platteland. Dit verskyn in Februarie 2020 by Lapa Uitgewers.
Mari Pelser is neer teen die grond. Haar ouers is gelyktydig dood in ’n motorongeluk. Sy het nou net een begeerte en dis om weg te kom van haar kleindorpse bestaan op Groeneweide. Die Pelsers het godsdiens in haar keel afgedruk en sy wil niks van hulle soort christenskap weet nie. Sy gaan ook nie die nuwe dominee toelaat om haar te bepreek nie, al maak die mooie man haar knieë lam. Intussen doen sy aansoek vir werk in die stad en leef haar uit in haar musiek as orrelis van die kerk en musiekonderwyseres by die skool. Sy kry egter nie die werk nie en intussen kruip dominee Driaan al dieper in haar hart. Toe ’n geheim wat die Pelsers al die jare vir haar weggesteek het onverwags op die lappe kom, is Mari se lewe weereens omver gewerp. Durf sy op Driaan leun en kan sy leer om te vertrou op die Hemelse Vader wat hy aanbid?

Maandag 02 September 2019

Wat het die Lank-en-donker reeks geïnspireer?

Mense vra dikwels waar my storie-idees vandaan kom. My antwoord is gewoonlik dat dit uit die lewe self kom. Ek woon in die Bosveld tussen wildplase en is omring met stories oor wildbewaring. Op die internet is talle videos oor hoe wildveeartse diere wat in die moeilikheid is, red. Toe kom ek boonop af op die Facebook profiel van dr Evan Antin, 'n veearts en dierekenner wat vroue oor die wêreld se knieë lam maak, en daar het ek die blou-druk vir die helde van my reeks, Joe en Herman Schoeman en Zirk Heynz. Zirk is nou wel nie ’n veearts nie, maar hy is net so lank, donker en aantreklik soos die ander twee. Romanses gaan gewoonlik meer oor die lewe van die heldinne, maar vir my is dit die held wat die stories tonekrullekker maak. Die leser wil saam met die heldin op die man van haar drome verlief raak. Daarom gee ek baie aandag aan die skep van die manlike hoofkarakters van my verhale.