Skrywer van romantiese fiksie.

Dinsdag 01 Oktober 2024

Die afsluiting van ’n reeks – Eerste keuse

Die laaste in die reeks oor liefde in die Bosveld verskyn vandeesmaand. Eerste keuse is die verhaal van Jaco en Mia. Nie een van hulle twee stel belang in ’n langtermyn romantiese verhouding nie, maar is die feit dat hulle uiters aanpasbaar is tussen die lakens en dat hulle ander gemeensskaplike belangstellings deel, nie ’n aanduiding dat meer as seks moontlik is nie?

Woensdag 22 November 2023

'n Nuwe reeks skop af: Die mense van ’n dorpie op die platteland in die Bosveld.

Boek 1: ’n Bruid voor Kersfees (Desember 2023)
Marli Botes is gelukkig soos sy is; ’n weduwee met drie volwasse kinders. Haar buurvrou reken egter dat enige veel jonger vrou sal sukkel om by haar kers vas te hou en voorspel dat die argitek wat haar huis gaan restoureer meer as net haar huis nog voor Kersfees gaan 'regsien'. Is Wickus dan nie die man wat op skool reeds haar hart gesteel het nie? Boek 2: Die dokter langsaan (Februarie 2024)
Bea Botes en haar twee beste vriendinne is pas klaar studeer, maar kan nêrens werk kry nie. Hulle besluit om saam ’n Boek- en Koffiewinkel in Bea se ma se ou huis te begin. Die huis langsaan is verkoop aan niemand anders as Dr Luke Roux, wat Bea reeds op kampus raakgesien het nie. Hy is ’n gepoleerde rykmanskind en sy het geen ooghare vir diesulkes wat op hul ouers se rykdomme staatmaak om iets te bereik nie. Kan hy homself aan haar bewys?
Boek 3: Liefde kan roes. (Julie 2024) Schalk Botes keer terug van Nieu Seeland nadat hy saam met sy verloofde soontoe geëmigreer het vier jaar gelede. Met sy verlowing nou van die baan sweer hy nooit weer nie, maar sy stiefsussie Karien het al die jare sedert sy in matriek was ’n crush op hom en weier om te aanvaar dat hy nooit weer iemand sal liefhê nie. Kan sy sy hart wen?
< Boek 4: Eerste keuse. (Oktober 2024) Jaco Botes is sy ma se sensitiewe seun, maar hy het as prokureur in die harde korporatiewe wêreld sukses behaal en weet hoe om op sy regte te staan. Mia Roux, Luke se tweelingsussie, laat klim sy mouter se rewolusies hemelhoog. Sy is gesofistikeerd en effens hovaardig, maar hy sien haar weerlose kant raak en bring die pretliefhebber en sensuele vrou in haar na vore. Is hulle bedoel om saam te wees?

Woensdag 06 September 2023

Proestukkie uit Eggo's van die hart

Sy oog val op ’n eensame figuur op ’n rots daar naby. Dis sowaar sy flerrie van ’n buurvrou wat daar sit. Vir ’n verandering is sy nie besig om met die een of ander man ’n flirtasie aan te knoop nie. Dit lyk of sy sit en skryf. Nee, die lang hale van haar potlood oor die bladsy van ’n tekenblok lyk meer of sy skets. Sy is mos ’n kunstenaar. Nou is sy belangstelling geprikkel. Sonder om te dink, stap hy nader. Impulsief lig hy sy kamera om haar beeld te verewig. Met haar los hare, wat die seebriesie om haar kop laat wapper, lyk sy soos ’n meermin daar op die rots. Die klikgeluid van sy kamera toe hy naby haar kom, laat haar gesteurd opkyk. “Hei, wat maak jy?” vra sy. “Ek kiek meerminne,” antwoord hy ongeërg. Sy maak haar hare bymekaar en glip ’n rekkie van haar pols af om dit in ’n poniestert agter in haar nek vas te bind. “Meerminne woon onder die see in Atlantis, nie hier nie.” Nou is haar hoë wangbene en mooi seegroen oë net meer prominent en sy vinger druk onwillekeurig weer en weer die knoppie van die kamera. Is die kyk wat sy in sy rigting mik agterdogtig? Seker oor sy snaakse optrede laasweek toe hy die hekpaal verwoes het. Hy moet meer selfbeheersing toepas. Maar die terugflitse en nagmerries is buite sy beheer, die weet hy mos. Die psigiater het gesê dit sal tyd neem om te vervaag. Sy draai haar kop weg. “Vra jy nie mense se toestemming voor jy hulle afneem nie?” “Nie die van flerries wat enigiets doen om mans se aandag te trek nie.” Hy hou sy kamera gereed vir haar reaksie en word nie teleurgestel nie. Haar kop ruk op en haar mond val oop. “W ... wat sê jy daar?” Hy verkneukel hom in die stilligheid. Daardie giftige kyk sal ’n man se velle kan afskil. Hy grinnik selfvoldaan en hou aan foto’s neem. “Dit werk elke keer. Eerlike, spontane reaksie maak die heel beste foto’s.” “Stop dit!” Sy vlieg op en begin kop onderstebo om haar sketsblok en potlode in die sak wat sy by haar het, te druk. “Relax. Kameraskote is nie geweerskote nie.” “Daar waar jy vandaan kom, gaan die twee hand aan hand, nie waar nie?” Sy haak haar rugsak se bande oor haar skouers. “Jy is vroeg hier onder,” verander hy veiligheidshalwe die onderwerp. “Is kunstenaars nie veronderstel om lui wesens te wees wat laat slaap nie?” “Nie so lui soos kameramanne wat soos kluisenaars lewe nie. Ek is verbaas om jou buite te sien,” snip sy terug. Nie op haar bek geval nie, né? “Touché.” “Wat neem jy af, behalwe vroue met vissterte? Wat ek, terloops, nie het nie.” Sy lig ’n kaal voet met toonnaels wat soos pienk, blou, pers, groen en geel skulpies lyk. Elkeen is sowaar ’n ander pastelkleur geverf! Hy glimlag, mik en druk vir nog ’n foto of twee van haar bont tone. “Hoekom dra jy verflenterde jeans? Kry kunstenaars deesdae so swaar?” vra hy met sy oë op haar knieë wat tussen flenters uitloer. “Dis nie verflenter nie, dis ontwerpersjeans.” Verontwaardiging laat haar oë blits. ’n Vonk daarvan resoneer in hom. “Genade, wat sal julle generasie nou nog uitdink?” Sy lyk vir hom nogal oulik daarmee.

Saterdag 26 Augustus 2023

Rimpelinge – 'n Proestukkie

Elani Neethling versnel haar pas vir die soveelste keer. Die man wat haar nou al ’n geruime tyd agtervolg, is besig om haar in te haal. Sy kyk benoud op die strand rond, maar sien geen moontlikheid om sy teenwoordigheid te ontsnap nie. Aan haar een kant is die oseaan en aan die ander is onbegaanbare terrein met skerp rotse. “Hei, jy het nie nodig om soos die Road Runner weg te hol nie. Ek is nie ’n bylmoordenaar nie, ek wil net kennis maak,” roep ’n diep stem bo die geruis van die branders uit. “Ja, right. Jy is (hyg) ’n Sondagskoolonderwyser (hyg) en op ander dae help jy ou tannietjies oor die straat. Gaan net (hyg) weg, asseblief!” Elani stop en hang vooroor om asem te skep, nie in staat om ’n enkele tree verder te hardloop nie. As hy haar iets onheiligs wil aandoen, moet hy dit nou maar doen, haar gô is uit. Hy kom sak langs haar op die sand neer en neem ’n rukkie om self ook sy asem onder beheer te kry. Elani loer uit skrefiesoë verblind deur sweet na hom. Hy lyk darem nie te wreedaardig nie en is duidelik te uitgeput om haar enige leed aan te doen. Sweet drup ook uit sy donker hare en kleef aan baardstoppels. ’n T-hemp klou deurweek aan breë skouers en welgevormde spiere. Die man se voorkoms is dié van ’n model uit ’n tydskrif vir jong sportlui. Hy boer seker in die gim. As sy nou so verlief op die liefde was soos haar woonstelmaat, kon sy hierdie situasie miskien as ’n romantiese ontmoeting beskou, maar sy bly immer versigtig. ʼn Mens weet nooit. Hulle sê mos reeksmoordenaars lyk gewoonlik doodnormaal. “Daai mooi bene van jou kan nogal beweeg, hoor,” verklaar hy asemrig. “Ek kon skaars byhou.” “Seriously? Jy sê jy is nie ’n bylmoordenaar nie, maar hoe moes ek dit nou weet? Ek het gedink ek vlug vir my lewe.” Hy lag en vee sweet uit sy oë. “Hier op Bietjiebaai gee ons mekaar nog die voordeel van die twyfel, weet jy?” Elani kan nie help om die speling van spiere in sy sterk voorarm te bewonder toe hy sy arm lig nie. “Nou vir wat jaag jy my dan?” Sy vang sy waarderende blik op haar bene. “Ek sê mos ek wou jou inhaal om nader kennis te maak. Jimmel, julle stadsjapies is flippen agterdogtig.” Elani vryf oor haar borsbeen, daar waar haar longe steeds van die inspanning brand. “Hoe weet jy ek kom van die stad af?” “Jou ouma sê so. Jy het gistermiddag laat met ’n ou skedonkie hier by ouma Janie se huis gearriveer.” Sy mooi oë terg haar. “Skedonkie nogal? Dorothy sal in haar eer gekrenk wees. Sy is ’n waardige, klassieke ou dame. En jy weet daarvan omdat …?” Haar stem styg van verontwaardiging. Die kar wat sy van haar oupa geërf het, lê haar na aan die hart. Sy laat haar erfstuk nie uitskel vir ’n skedonkie nie. ’n Vinnige glimlag verhelder sy hele gesig. “Askies tog. Dorothy. Ek vra opreg om verskoning.” Hy vee sy regterhand aan sy sweetpakbroek af en hou dit na haar toe uit. “Ek is Rick Bekker, ouma Janie se buurman, en jy is haar kleindogter wat kom help het om haar huis op te pak voordat sy oor ses weke aftreeoord toe trek. Elani, nie waar nie?”

Donderdag 09 Februarie 2023

Proestukkie uit Hoog tyd

Dani druk haar kamerdeur op knip toe Sofia kopskuddend wegstap. Dit sal nie deug om die personeel die eerste dag van hul huwelik reeds iets te gee om oor te skinder nie. Sy gaan tjoepstil net hier bly en in haar eie bed inkruip. Sy is gedaan na al die opwinding van die dag en wil net in die bed kom. Spyt dat sy nie vir Sofia gevra het om haar eers te help uittrek nie, vroetel sy moedeloos met die string piepklein knopies agter haar rug. Dit maak nie saak hoe sy haar arm draai en dwing nie, sy kan dit nie bykom nie. Die kamer is boonop vriesend koud, want die gebruiklike vuur in die kaggel is afwesig vanaand. Die slawe het natuurlik vuur gemaak in die hoofslaapkamer – volgens hul heer en meester se opdrag! Sy sal liewer vries voor sy gehoor gee aan ’n man wat namens haar besluite neem. Sy steun en kreun, maar moet uiteindelik haar pogings om die knopies los te kry, laat vaar. Miskien moet sy die rok net so oor haar kop trek, die nek is immers wyd genoeg. Sy gryp die soom vas en lig die romp oor haar kop, maar die dun middeltjie weier om oor haar skouers te gaan en steek vas. Dani ruk en pluk, maar sy is vasgevang in die talle lae symateriaal. Sy kry die spulletjie ook nie weer terug na die normale posisie toe gerem nie. “Kan ek help?” kom haar man se diep stem van die deur se kant af. Dani hou op stoei. “Nee, gaan weg! Ek kan self regkom, dankie.” Twee treë bring hom tot by haar. “Dit lyk nie vir my so nie. Ek dink as ek jou nie help nie, mag jy dalk tussen al hierdie pêrels en sy versmoor.” Dani kan hoor hy is hoogs geamuseerd en dit maak haar net nog meer omgekrap. Sy wou voorgee om onder die kombers vas aan die slaap te wees indien hy haar hier sou kry. Nou staan sy ewe onelegant met haar rok oor haar kop en haar agterstewe in die lug. Hoe vernederend. “Aargh!” grom sy weer en pluk wanhopig aan die rok. “Pasop, jy gaan die fyn materiaal skeur.” Hy begin om die lae rokke versigtig terug te vou. “Waar op aarde is jy tussen al hierdie lae lap?” Hy lag nou hardop. “Genade, Dani, jy het jouself omtrent vasgeknoop ... aa, daar’s jy!” Hy gee die rok ’n finale plukkie en alles sak na hul oorspronklike posisie toe terug, maar helaas, met die nare geluid van gare wat lostrek en talle knopies wat op die houtvloer spat. “Oeps ... die mense sal dink jou bruidegom was so ongeduldig om jou uit jou klere te kry, dat hy die rok van jou afgeskeur het.” Sy hele lyf skud nou van die lag. “Dis gladnie snaaks nie,” brom sy en blaas ’n haarlok wat losgekom het, uit haar gesig. “Hoekom het jy nie gewag totdat ek jou kan help nie en hoekom is jy in jou ou slaapkamer en nie in die hoofslaapkamer waar jy hoort nie?” Met alles nou weer betaamlik bedek, keer haar bravade terug en sy val hom aan terwyl sy nog stomend kwaad is. “Omdat ek niks weet van enige ander kamer nie omdat jy dit nie met my bespreek het nie, want my opinie tel mos nie.” “Stadig nou met die verwyte. Salomiena-hulle was die afgelope weke reeds besig om die hoofslaapkamer vir ons gereed te maak. Hoe kan jy sê jy het niks daarvan geweet nie?” “Want jy het nie ’n enkele woord daaroor teenoor my gerep nie.” Sy is lankal moeg vir mans wat besluite namens haar neem. Sy sal probeer aanpas in hierdie eeu, maar sy gaan nie haar persoonlikheid en identiteit prysgee nie. Sy is nie ’n beteuterde vrou wat ja en amen sê op als wat haar man besluit nie. Hy vat haar skouers vas en kyk stip in haar oë. “Dani, ek het van die begin af vir jou gesê, indien jy sou instem om met my te trou, dit ’n huwelik in die volle sin van die woord gaan wees. Dit beteken dat ons van nou af ’n slaapkamer sal deel.

Dinsdag 27 Desember 2022

Hoog tyd.

Dani de Villiers transporteer vanuit 2019 na die jaar 1724 in die ou Kaap sonder elektrisiteit, selfone, rekenaars of televisie. Sy is ’n skrywer wat werk lewer aan tydskrifte, ook iets wat nog nie bestaan in die Kaap van Goeie Hoop nie. Hoe op aarde gaan sy oorleef? Jacques le Roux, eienaar van die wynlandgoed, La Rochelle, se vriend Louis reken dis hoog tyd dat hy trou, maar hy wag vir die regte een ... en toe land sy op sy sitkamermat! Hoog tyd verskyn in Februarie 2023 en dan is die reeks van drie voltooi.

Donderdag 03 November 2022

Proestukkie uit Soene onder die Kersboom

“Juffrou Bothma, wat is die betekenis van hierdie e-pos wat ek pas van jou ontvang het?” vra ’n donker stem sonder enige groet of aanhef. Toe Serina opkyk van waar sy by haar lessenaar in haar graad een klaskamer sit, is dit vas in die ontstuimige kykers van ’n uiters aantreklike lang man in ’n netjiese grys pak. Sy herken hom as een van haar leerders se ouers. Wow, Tiaan se pa tiek al die boksies vir ’n perfekte manlike voorkoms. Een wat hoogs bemoerd is. Kort donker hare, ontstuimige groen oë en ’n sterk ken met ’n effense baard wat alteveel lyk of hy op sy tande staan en kners van verontwaardiging. ’n Vermoede oor wat hom so omgekrap gemaak het, sit om in sekerheid. Jip, sy weet wat het hom so kwaad. Om sy lengtevoordeel met net so ’n aks te verminder, staan sy op en steek ’n hand uit. “Goeie middag meneer Richter en aangename kennis so op jou seun se laaste dag in my klas.” Sy sit so effens klem op die ‘laaste dag’ sodat hy die boodskap kan kry dat sy deeglik bewus is van sy versuim om vroeër in die jaar te kom kennis maak. Sy oë (is dit dieselfde besondere olyfgroen as sy seun s’n?) maak ’n draai oor haar voordat hy ook ’n hand uitsteek. “Ek weet nou nie juis hoe aangenaam dit is nie. ’n Verduideliking, asseblief?” Hy lig die slimfoon in sy linkerhand waar die briefie aan Kersvader in sy seun se onseker handskrif op die skerm vertoon soos sy vermoed het. Sy beduie na ’n stoel voor haar lessenaar waar ’n ander, baie meer dankbare ouer minute gelede gesit het. “Sit asseblief. Is jy nie trots op Tiaan wat, ten spyte van spelfoute, reeds sulke samehangende sinne kan skryf aan die einde van sy eerste skooljaar nie?” Hy bly egter staan met hande wat op sy heupe rus. “Ek is nie bekommerd oor Tiaan se intelligensie nie, dis die inhoud van die brief wat my pla. Hoeveel daarvan het jy aan hom voorgesê?” Dit lyk of hy elke woord van die laaste sin afbyt en uitspoeg. Serina sluk ’n vinnige antwoord, byt op haar tande en tel liewer haar woorde versigtig. Die man is reeds omgekrap genoeg oor sy seun sy privaatsake deur middel van sy briefie aan sy klasonderwyseres bekend gemaak het. Sy het juis toe sy Tiaan se brief geskandeer en per e-pos na hom toe aangestuur het, gewonder wat sy enkellopende pa se reaksie daarop sal wees. “Meneer Richter, ek verseker jou dat die inhoud van daardie skrywe suiwer Tiaan se eie werk is. Die skryf van die briewe was deel van my manier om te kyk presies hoeveel ek my leerders deur die loop van die jaar geleer het. Die opdrag was bloot dat hulle ’n brief aan Kersvader moet skryf. Hulle het geen hulp van my gekry daarmee nie. Ek het dit bloot aan die ouers aangestuur sodat julle eerstens hul vordering kan sien en tweedens weet wat jul kinders se hartewense vir Kersfees is. Sou jy dit nie graag wou weet nie?” “En my seun se hartewens is dat sy eensame pa met sy mooi juffrou moet trou.” Die driftige beweging waarmee hy die foon in sy baadjie se binnesak indruk, wys presies wat hy daarvan dink en verskans die dwars kompliment geheel en al. Serina voel hoe haar gesig warm word. Die man jaag haar bloeddruk behoorlik op. Of dit is oor hy haar valslik beskuldig, of oor die verleentheid waarin haar gunstelingleerder haar nou plaas, wil sy liewer nie weet nie. “Daardie deel van die brief gaan nie soseer oor sy juffrou nie, maar oor die leemte wat daar in sy lewe bestaan,” probeer sy om redelik te wees. “Ignoreer dit as jy wil en konsentreer dan maar liewer op die laaste sin oor die rooi fiets as materiële dinge vir jou belangriker as jou seun se geluk is,” kry sy ’n steek van haar eie in. Daar flits iets onheilspellends in sy oë. “Jy sê dus dat ek my seun se versugting om weer ’n mamma te hê, doelbewus ignoreer en dat ek materialisties is?” “Ja ... nee ... ag, sit net, asseblief, meneer Richter, jou lengte intimideer my.” Hy ontsenu haar geheel en al en Serina Bothma laat haar nie oordonder nie.

Saterdag 01 Oktober 2022

Die fantasie in Afrikaans

Die fantasie vir volwasse lesers is 'n redelike nuutjie in Afrikaans en uitgewers en skrywers soek nog die pad na fantasielesers se verbeeldingswêreld. ’n Vraag wat ek dikwels gevra word, is "Hoekom het jy ’n reeks oor tydreise geskryf? Dis tog immers nie werklik nie." Dit laat my wonder hoekom volwassenes nou skielik so redeneer. Het ons dan nie almal grootgeword op ’n stapeldieet van fantasieverhale oor feetjies, kabouters, hekse en drake nie? Wat is werklik aan die pratende wolf in Rooikappie se storie? Is ons dan nou so blasé dat ons verbeeldings totaal afgestomp is? Die Romanza druknaam brei uit om meer subgenres in te sluit en die fantasie is een daarvan. Die fantasie leen hom perfek tot die romanse en andersom. Die fantasie sluit ook heelwat verskillende soorte verhale in en tydreise is een daarvan. Ek is ’n groot aanhanger van Diana Gabaldon se werk, veral haar OUTLANDER reeks wat handel oor tydreise in die verlede in. Die reeks bestaan uit nege boeke van meer as 1 000 bladsye elk en ek het elke bladsy daarvan verslind. Dit het my aan die wonder gesit oor hoe ek sou reageer as ek in ’n ander eeu te lande sou kom en natuurlik moes ek toe so ’n storie skryf. Boek 1, TYDLOOS, toe Juliette vanaf 1720 met Juli in 2015, plekke geruil het, het binne drie weke uit my uitgevloei en was hope pret om te skryf. TYDLOOS vertel Juli se verhaal van hoe sy gesukkel het om in die agtiende eeu aan te pas. Boek 2, ONTYDIG, vertel die storie van Juliette in die moderne tyd. Sy het behoorlik aan kultuurskok gely toe sy besef waar sy haar bevind. Luan Beukes moes baie vindingryk raak om haar te help om aan te pas. Boek 3, HOOG TYD, handel oor Dani de Villiers wat vanaf 2019 na 1724 reis en weier om dit as werklikheid te aanvaar. Jacques le Roux het sy hande vol met haar, maar weier om haar terug na haar eie tyd te laat gaan. Al drie verhale speel in drie verskillende tydgleuwe op La Rochelle, die le Roux's se familieplaas naby Stellenbosch af. Ek hoop dat ek met hierdie reeks daarin geslaag het om ’n hele paar romanselesers vir die fantasie genre te werf. Boek 3 verskyn in Februarie 2023.

Saterdag 03 September 2022

My storiebord vir die tydreisreeks.

Die oorsprong van dit alles.
Karakters en agtergrond 1720 en 2015.
La Rochelle, 1720 en 2015.

Woensdag 27 Julie 2022

Ontydig – Boek 2 van die Romantiese Fantasiereeks.

Juliette land in die een en twintigste eeu nadat sy en Juli, haar nasaat van driehonderd jaar later plekke geruil het. Sy het altyd gedink dat haar oupa se stories, dat sy silwer sakhorlosie oor magiese kragte beskik wat tydreise kan bewerkstellig, sommer versinsels was. Die legende wil dit hê dat sy slegs weer na haar eie tyd in die agtiende eeu kan terugkeer indien Juli en sy gelyktydig die sakhorlosie se tyd regstel. Juli wil egter nie terugkeer nie, want sy is nou gelukkig getroud met Juliette se eertydse verloofde, Louis Rossouw. Juliette ly behoorlik aan kultuurskok toe sy besef dat sy nou vasgevang is in ’n wêreld wat sy hoegenaamd nie verstaan nie. Dis ’n ramp wat haar so ontydig, twee weke voor haar troue met haar Louis, getref het. Luan Beukes het sy hande vol met die vrou wat sy aangenome suster se plek kom inneem het. Sy is byna soos ’n kleuter wat alles van nuuts af moet aanleer. Hy ontdek egter dat hy dit geniet om haar touwys te maak in die ingewikkeldhede van die moderne tyd, want hierdie meisie-vrou maak iets in hom wakker wat hy nooit te wagte was nie. Juliette ontdek op haar beurt weer innerlike krag waaroor sy nie geweet het sy beskik nie en stadig maar seker begin sy aanpas. Boonop leer ken sy nou vir Luan wat haar hart behoorlik by haar nuwe moderne onderklere wil laat uitspring. Louis het haar nooit so laat voel nie! Dalk was die omruiling toe tog nie so ontydig nie.

Vrydag 17 Junie 2022

Jaargety, ’n resensie deur Amanda Claassens

Die inwoners van Groeneweide is teen hierdie vyfde aflewering in die inspirasiereeks reeds ou en geliefde bekendes. Elkeen van die vier seisoene het baie geestelike pitkos gelewer om aan te herkou terwyl held en heldin deur hulle probleme werk om tot die noodwendige vervulde, gelukkige einde te kom. Jaargety is nie slegs die slim titel van die laaste boek nie, maar ook dié van ‘n goeie preek wat Driaan lewer. ‘n Preek waartydens Zadelle voel dat daar spesifiek tot haar gespreek word. Driaan neem sy gehoor, en dus vir jou, die leser, deur die verskillende seisoene in jou geloofslewe en daag jou sommer in die proses uit om te bepaal in watter seisoen jy jouself bevind. Die geestelike krisisse waarrondom Zadelle se verhaal gebou word, is die van haat, woede en onvergewensgesindheid. Hierdie emosies het haar lewensvreugde gesteel en nou steel dit die moontlikheid om Jacques se liefde te beantwoord. Jacques, wat terloops een van die standvastigste en geduldigste helde is wat ek nog raakgelees het. Weereens het dit my opgeval en beïndruk dat Madelie Human met goeie insig omgaan met geestelike waarhede, en selfs elemente van pastorale berading met vrug in die storielyn inwerk. Die storielyn kan selfstandig slaag, maar om dit in volgorde te lees is ‘n bonus. Die volgorde is Herfswind, Winternag, Somerson, Lentemelodie en Jaargety. Ek hoop van harte dat hierdie nie die laaste van die inspirasieromanses sal wees nie, en dat uitgewers soos Luca, die geestelike druknaam van Lapa Uitgewers, vir skrywers soos Madelie Human, die geleentheid sal gee om meer oorspronklike geestelike fiksie in Afrikaans te lewer. Ek voel dat daar ruimte is daarvoor in die Afrikaanse boekemark .

Dinsdag 10 Mei 2022

Proestukkie uit Jaargety

Zadelle
sien uit om tuis te kom en op die sagte rusbank saam met haar kat te ontspan. By die ouerige huis met die spreekkamers langsaan wag daar egter ’n onwelkome gesig op haar. Reg voor haar erf staan ’n ellelange beestrok met sleepwa, albei vol bulkende beeste. “Jissie, wat gaan nou hier aan?” vra sy kliphard toe sy besef die trok versper die ingang na haar huis toe. Sy parkeer aan die oorkant van die straat en klim uit. Onder die neus van die lorrie loer ’n paar stofbesmeerde bene in denim en nerf-af stewels uit. Sy skop teen die een stewel. “Haai, hoekom parkeer jy voor my hek? Hoe moet ek nou by my erf inkom?” ’n Grom en ’n gemompel is al antwoord wat sy kry. Sy hoor ’n gewerskaf onder die ingewande van die trok, maar geen antwoord nie. Haar hele lyf ruk soos sy skrik en sy staan vinnig tru toe ’n bees hier reg by haar bulk dat jy hom waar kan hoor. Versigtig loer sy onder die trok in na waar ’n figuur in die stof lê. “Hei, verwyder asseblief jou wa met beeste en al, ek wil my kar intrek. Jy kan jou herstelwerk op ’n ander plek gaan doen.” Die stewels skop vas en ’n groot man skuur ruggelings op die stofpad onder die voertuig uit. “Kan jy nie sien ek het ’n probleem nie?” kom hy orent. “Dit beteken nie jy moet jou probleem myne maak ...” in daardie oomblik herken sy hom. Dis niemand anders nie, as Jacques Greyling, haar beste vriendin se broer. Die man wat sy nou al vir maande vermy sedert die aand wat hulle strooimeisie en -jonker op Ali en Jason se troue was. “Tipies vroumens. Kan jy nie insien dis vir my onmoontlik nie?” Hy probeer die stof uit sy reeds vuil klere uitslaan. Al waarin hy egter slaag, is om walms daarvan te veroorsaak wat dreig om hulle albei te laat verstik. Briesend waai Zadelle die stof voor haar gesig weg. “Luister hier, ek het nou oorgenoeg gehad van julle dorp se mans wat dink dat almal wat vroulik is, minder intelligent en onbekwaam is. Verwyder jou trok, of ek laat sleep die ding deur die polisie hier weg.” Hy lag sinies. “Ek wil nog die polisievoertuig sien wat hierdie vrag van my kan sleep. Bel hulle gerus. As jy hulle so ver kan kry om die foon te beantwoord, of selfs enigsins te reageer, is jy welkom om te probeer. Los my net in vrede dat ek die ding padwaardig kan kry, dan sal ek gee pad hier. Dis nie asof ek verkies het om hier in die hoofstraat voor jou deur gestrand te wees nie.” Zadelle wil hom nog verder aanvat, maar besluit dan om liewer die hasepad te kies. Dit sal sekerlik baie veiliger wees. Hierdie man krap haar om en Zadelle Swart word nie maklik van stryk gebring nie. Dit het jare se selfdissipline en baie maande se diens in die noodgevalle afdeling by ’n besige hospitaal in die stad haar geleer. Dis baie beter om hom te vermy soos sy besluit het die aand na haar beste vriendin se troue. Sy gaan haal dus haar sakke met kosvoorraad uit die kattebak, sluit haar kar en stap aan huis toe asof hy nie bestaan nie. “Ek kan aanbied om jou te help dra, maar aangesien jy nou so ’n intelligente en bekwame vrou is, dra dit gerus maar self,” draal hy met ’n skewe glimlag voor hy weer onder die lorrie inkruip. Zadelle sis net soos ’n slang vir hom, hys die een sak wat dreig om uit haar hand te gly, weer op en stap aan voordeur toe. Sy het jare gelede besluit geen man is haar tyd of aandag werd nie. Haar eie pa het die pad gevat kort na haar geboorte en na wat haar stiefpa haar aangedoen het, was haar besluit finaal. Niemand van die manlike spesie sal ooit weer die kans kry om haar seer te maak nie. Hierdie een, wat hier in die stof voor haar huis lê, het die afgelope maande na Ali se troue reeds baie meer van haar gedagtes opgeneem as wat goed is vir haar sielevrede.

Vrydag 06 Mei 2022

’n Onlangse gesprek met Amanda Claassens oor my insirasiereeks.

Madelie Human is bekend en geliefd onder lesers van romantiese fiksie. Sy het ingewillig om ’n paar vrae te beantwoord. Haar antwoorde was besonder insiggewend.
V: Hoe lank skryf jy al voltyds, en wat het jy voorheen gedoen? A: Ek het veertien jaar gelede ophou werk as kollegelektor in sakekommunikasie en toe voltyds begin skryf. V: Hoeveel Romanzas het jy al gepubliseer? A: Ek het altesaam 40 gepubliseerde liefdesverhale wat Romanzas en drie Super Romanzas plus ’n paar ander boeke insluit. Ek probeer drie of vier per jaar produseer, maar publikasiegeleenthede is min omdat Lapa slegs 48 Romanzas per jaar uitgee en daar is meer as 70 skrywers wat om plekke moet meeding. V: Buiten jou skryfwerk, bied jy ook ’n kursus aan vir voornemende romanseskrywers. Hoe belangrik ag jy opleiding alvorens ‘n skrywer ’n manuskrip aanpak? A: Romanses is nie letterkundige werke nie, maar is hoegenaamd nie so maklik om te skryf as wat mense dink nie. Opleiding is nie noodsaaklik nie, maar enigiemand wat ernstig is oor skryf, moet deeglike navorsing doen oor die genre waarin jy wil skryf voordat jy begin. Jy moet jou ook vergewis van die vereistes wat uitgewers vir daardie genre daarstel. Ek het myself “opgelei” deur alles waarop ek my hande kon lê oor die romanse, te bestudeer. Die geite van uitgewers moes ek op die swaar manier leer. My kursus is ’n opsomming van alles wat ek met bloedsweet geleer het. Toe ek begin het, sou ek wat wou gee vir so ’n handleiding. Dit help ook ontsettend baie as jy kan begin onder die leiding van ’n ervare skrywer wat jou touwys kan maak oor die werkinge van die boekebedryf in Afrikaans en jou boonop deeglike terugvoer gee oor jou skryfwerk. V: Daar het al verskeie reekse uit jou pen verskyn. Waaraan skryf jy die lekkerste: losstaande titels, of reekse? A: Die romanse is gewoonlik kort en verskaf min ruimte en tyd vir karakterontwikkeling. Die reeks bied die skrywer die geleentheid om dieper te delf in die mense en hul probleme. Ek verkies reekse, want die karakters word later vir my so bekend dat ek presies weet hoe hulle sal optree en wat hulle in sekere situasies sal sê. Ek het vroeg in my loopbaan my hand aan ‘n reeks, Wilde Hawer, gewaag en dit baie geniet. Daarna het ek ook die Skakeringsreeks, die Heldereeks, die Le Fleurreeks, die Lank en Donkerreeks, die Inspirasiereeks en nou ook die Tydreisreeks die lig laat sien. Ek skryf wel soms nog losstaande boeke soos die kersverhale wat Lapa sedert verlede jaar Desember publiseer. V: Ek wil spesifiek gesels oor die Inspirasiereekds, die Groeneweide-sage, waarvan die laaste aflewering eersdaags gaan verskyn. Lapa uitgewers en Romanza het die sub-genre, Inspirasie verhale, geskep waaronder ’n skrywer die vryheid het om te skryf vanuit ’n Christelike oogpunt. Vier titels het alreeds verskyn: Herfswind, Winternag, Somerson en Lentemelodie. In elkeen van hierdie stories is daar baie duidelike geestelike aspekte waarmee die karakters worstel. Hoe het jy hierdie stories benader: eers die karakters geskep, of eers ’n bepaalde geestelike waarheid geïdentifiseer waarrondom jy die storielyn wou bou? A: Soos altyd begin ek met die karakters, hul agtergrond en hul beroepe en besluit dan op die insident wat hul spesifieke innerlike konflik wat die storie gaan dryf, veroorsaak. Soos die verhaal ontwikkel, duik probleme op wat hul geestelike lewe beïnvloed en dan probeer ek dit aanspreek. Ek is geen teoloog of geestelike leier nie, maar delf uit my eie en die mense rondom my se lewenservaring om my daarmee te help. Ek het in ’n Christelike huis grootgeword en was nog altyd kerkvas. Die Bybel is my handleiding en boonop het ek ’n Alwyse Raadgewer wat my lei om te weet wat die karakter nodig het om te leer. V: Die stories getuig deur die bank van goeie insig en kennis van die Woord, suksesvol verweef met mooi liefdesverhale. Jy het glad nie in die slaggat van prekerigheid getrap nie. Was dit vir jou ’n groot uitdaging om hierdie balans te vind en te behou deur vyf storielyne? A: Ek self hou nie van godsdienstige dwepery nie en probeer net op ’n eerlike manier omgaan met my karakters en hul geestelike groei. Die inspirerende romanse bly hoofsaaklik ’n romanse wat fokus op die ontwikkellende liefdesverhouding tussen die held en heldin. Die karakter se geestelike groei behandel ek slegs as deel van karaktergroei. Dit oorheers dus nie die verhaal soos in die Christelike romans wat LUCA en Lux Verbi uitgee nie. Ek vind dat Romanzalesers hierdie onderskeid waardeer en meer verteerbaar vind as ’n streng Christelike aanslag. Hulle bly immers by uitstek romanselesers wat ’n lekker liefdesverhaal soek. V: Met al vier die seisoene gebruik, het jy ’n innoverende titel gekies vir die vyfde aflewering wat in Junie 2022 verskyn, Jaargety. Ek wil lesers aanraai om sommer vroegtydig die vorige vier boeke te probeer lees of herlees, maar ek skat dit sal darem nie fataal wees as dit nie kan gebeur nie? A: Jaargety staan, soos al my boeke wat deel van reekse uitmaak, ook op eie voete en kan afsonderlik gelees word. Ek glo lesers sal, wanneer hulle van die vorige stories se hoofkarakters in boek 5 ontmoet, wel nuuskierig raak oor die vorige stories. Bargain Books het nog etlike van die eerste vier boeke in voorraad, maar die wat uit druk is, kan natuurlik op enige e-boekplatform verkry word. V: Jy skroom nie om ’n nuwe uitdaging aan te durf nie. Soos met die Inspirasie verhale, het jy ook ’n baie suksesvolle bydrae gelewer onder die ander nuwe Romanza sub-genre, Fantasie. Waar het jy die inspirasie gekry vir Tydloos? A: Tydloos is ’n tydreisverhaal en ek lees self bitter graag goeie tydreisverhale. Dit fassineer my om uit te vind hoe mense van ander eeue geleef het en wat is nou beter as om dit deur een van jou eie karakters se ervaringe te beleef? Boek 2 in die tydreisreeks, Ontydig, verskyn in September en Boek 3, Hoogtyd, in Februarie 2023. In hierdie reeks ruil karakters uit verskillende eeue om en moet dan in die ander tydgleuf aanpas en ’n nuwe lewe probeer maak ten spyte van sosiale en ander verskille. Soms moet hulle selfs ’n ander taal aanleer. Tydloos is baie goed deur lesers ontvang en hulle vertel my hulle kan nie wag vir die opvolgstories nie. V: Waarna kan lesers uitsien? Nog ’n reeks, nog inspirasieverhale? A: Amanda, weet jy dat daar meer as ’n 100 subgenres van die romanse wêreldwyd gelees word? Lapa is opgewonde om nuwe subgenres in die Romanzareeks op te neem en ek geniet die nuwe uitdagings en sien uit daarna om meer van hulle te probeer. Voorlopig beplan ek nog ’n reeks van elk van die Inspirerende en die Tydreis verhale, want die uitgewer het gevra vir meer. Daarna … wie weet? Daar is heelwat van daardie subgenres wat my en my skryfmaats laat wens ’n dag het meer as 24 uur gehad en dat Lapa vir ons sommer tien Romanzas per maand wil publiseer!

Maandag 18 April 2022

Jaargety

Die nuwe dokter op Groeneweide is nie net bekwaam nie, maar deksels mooi ook. Sy is egter afsydig en die jong manne van die omgewing loop hulle rieme styf as hulle gaan vlerksleep by die huis langs die spreekkamers. Jacques Greyling is nie so maklik om van ontslae te raak nie. As hy sy kop op iets gesit het, byt hy vas en hy wil vir Zadelle hê. Sy het ’n donker geheim wat maak dat sy mans ten alle koste vermy. ’n Traumatiese gebeurtenis in haar verlede het haar lewe verwoes, maar sy het met harde werk en deursettingsvermoë haarself deur die universitei gesit en haar lewensdroom om geneesheer te word, bewaarheid. Jacques se probleem is nou om deur haar skanse te breek en haar hart te wen. Dis egter nie so maklik nie, want sy het haarself afgesny van enige verhoudings. Om haar probleem te oorkom, het sy terapie nodig en wie is beter om haar te help as Groeneweide se geliefde leraar, dominee Driaan? Hy lei haar om haar pad na geloof terug te vind en so haar vertroue in die mensdom te herstel. Kan dit haar ook help om die verlede te verwerk en haar hart oop te maak vir die liefde wat Jacques haar bied?

Sondag 12 Desember 2021

Inspirasie vir die held van my kersverhaal.

Toe My Octopus Teacher ’n Oscar wen vir beste dokumentêre film, moes ek dit eenvoudig sien. Ek was verstom, nie net oor die verhaal wat ontvou het nie, maar alles omtrent die film het my beïndruk. Net daar besluit ek toe dat ek dit in een van my boeke moes gebruik en natuurlik was die held van my volgende boek, Ryno Viljoen, ’n marinebioloog wat navorsing oor seekatte doen.

Sondag 21 November 2021

Ligte leesstof vir die feesseisoen. Proe net hier ...

By die voordeur toet ’n voertuig. Dis seker nou Bernadette. Sy het reeds laat weet sy is op pad. Sy gooi die voordeur oop. “Ek is gereed. Meeubaai, hier kom ons! Laai solank my leesstof in, ek kry net my tas,” sê sy terwyl sy agterstewe eerste die sak boeke by die deur uitsleep en gaan dadelik weer in om die tas ook te gaan haal sonder om op te kyk. Toe sy met haar tas op die stoep uitkom en die voordeur sluit, begroet ’n vreemde gesig haar. In die rypad voor die stoep staan, nie Bernadette se motor nie, maar ’n monsterbakkie met oorgroot wiele. Daar is ’n branderplank op die dakrak en haar sak boeke steek op die bak onder ’n bonkige seil uit. Teen die kant van die bakkie leun ’n lang man met ’n vuilbaard en ’n sonbril. Sy donker kuif val oor sy voorkop en hy lyk allesbehalwe vriendelik. “Ek dog dis ’n volwassene wat ek moet saamneem Meeubaai toe? Wie is jy?” Hy bekyk haar skraal figuur in haar vakansieklere wat bestaan uit ’n denim kortbroek en T-hemp van haar poniestert tot by haar tone in visplakkies en weer terug. Waarvan praat die man? “Daar moet ’n misverstand wees. Ek ry saam met my tante see toe. Ons gaan na ons strandhuis toe vir die vakansie. Wie is jy?” “Ryno Viljoen. Ek moet professor Bernadette Erasmus van die Marine Research Institute se niggie hier oplaai.” Berna frons en haal haar selfoon uit haar rugsakkie. “Bernadette? Ek is haar niggie. Wag, ek bel haar gou.” Bernadette antwoord feitlik onmiddellik asof sy die oproep te wagte was. “Berna! Ek is so jammer. Ek het baie meer werk as wat ek gedink het. Dit gaan dalk ’n paar dae neem om af te handel. Ry asseblief solank saam met Ryno. Hy gaan toevallig vandag ook Meeubaai toe en ek vertrou hom volkome. Jy sal veilig wees saam met hom.” “Maar ek sal wag tot jy kan wegkom, ek hoef mos nou nie vandag al te gaan nie,” maak Berna kapsie. Toevallig se voet. Sy ken vir Bernadette, alles word deeglik beplan en niks gebeur per toeval nie. “Nee, nee, nee. Ry jy solank en gaan geniet die son en see. Ek kom sodra ek kan. Ek het klaar gereël dat die skoonmaakdienste die huis oopmaak en skoonmaak. Alles sal gereed wees wanneer julle daar kom, die nodigste voorrade in die yskas ook. Baai, ek moet gaan.” Sy sit summier die foon neer. Berna hap na lug en bekyk die foon asof dit haar dilemma veroorsaak het. Dan kyk sy op na die grimmige man wat steeds met sy bene by die enkels gekruis teen sy onooglike bakkie leun. “Sy sê ek moet saam met jou ry.” “Dis mos wat ek ook gesê het. Nou toe, kom. Die see wag.” Hy stoot homself van die voertuig af weg en kom vat haar tas uit haar hand. “Maar ...” Sy gryp nog na die tas, maar hy spring rats op die bak, druk dit saam met die ander goed onder die seil in en maak dit met ’n rekband vas. Berna maak ’n gromgeluid in haar keel. “Antie Bernadette, ek gaan jou doodmaak vir hierdie slap riem. Ek sien dwarsdeur jou plannetjies,” brom sy onderlangs terwyl sy die deur aan die passasierskant van die hoë bakkie oop pluk. Moedeloos kyk sy na die trap en die sitplek wat albei te hoog vir haar kort bene is. Hoe klim iemand wat nie so lank soos die lummel met die sonbril is nie, hier in? Wie ry in elk geval met ’n gedoente wat lyk of dit op die filmstel van Monster Trucks hoort? “Wag, ek sal jou kom help.” Hy spring van die bak af om haar ’n hupstootjie by die deur in te kom gee. Hy plaas sy hande op haar middel, hys haar met haar rugsak en al op en deponeer haar op die sitplek asof sy niks weeg nie. Berna voel hoe haar gesig vuurwarm word. Genugtig, het sy hande vir ’n oomblik of twee onder haar kort T-hemp ingegly, of het sy haar dit verbeel? As haar studente haar nou moes sien! “H’m. Dankie.” Sy haak haar rugsakkie se bande van haar skouers af en sit dit by haar voete neer. Berna sug gefrustreerd. As haar eie ma haar nie in die verleentheid stel nie, plaas haar tante haar in ’n onmoontlike situasie waar sy nie kan uitkom nie. Wat is dit met die vorige geslag van Erasmus vroue dat hulle alewig haar wat Berna is, se lewe so versuur? “Buckle up,” gee hy opdrag toe hy inklim. Sy wil haar eers vererg, maar besluit dan dis nie die moeite werd nie. “Vir seker. Hierdie ding gooi mens seker rond soos ’n bul by ’n rodeo as jy nie vasgemaak is nie,” antwoord sy snipperig en voldoen aan sy opdrag. Hy lag en skakel die voertuig aan. “Sulke klein outjies soos jy? Vir seker. Maak jou gereed om so deurmekaargeskud soos melkskommel te wees wanneer ons oor ’n uur by Meeubaai arriveer.” Met ’n gebrul trek hulle weg. Berna knyp haar oë toe en sê ’n skietgebedjie op. Vandag gaan sy sowaar haar Heiland leer ken.

Dinsdag 31 Augustus 2021

Nogtans sal ek jou liefhê, deur Magdaleen Walters – ’n resensie

Die romantiese fantasie is ’n splinternuwe subgenre wat Romanza onlangs vir die eerste keer aangepak het. Hierdie verhaal is die derde een en puik uitgevoer deur Magdaleen Walters. Sy het haar eerste fantasie oor die lewe van ’n weerwolf uitstekend in ’n heerlike romanse verweef. Ek hou van Magdaleen se skryfstyl wat die heldin van die Victoriaanse tyd se gedagtewêreld en gedrag geloofwaardig verwoord het. Die held word sterk, maar tog uiters sensitief, uitgebeeld en is genoeg om enige romanseleser se hart te laat vermurwe. Die verhaal het my aandag tot die laaste bladsy gehou en ek het elkeen met afwagting omgeblaai. Welgedaan, Magdaleen. Lesers wat oor ’n verbeelding beskik en oop is vir vernuwing in die Afrikaanse ontspanningslektuur, sal dit beslis ook geniet!

Vrydag 30 Julie 2021

Proestukkie uit Lentemelodie

Sondagoggend is Ali vroeg op en aan die gang. Sy druk dou voor dag reeds die skaapboud wat sy met knoffel gestop het in die oond. Gelukkig het sy gistermiddag reeds die malvapoeding gebak en die kan net later opgewarm word. Die groente is geskil en staan in skottels water gereed voordat sy met haar beker stomende oggendkoffie op die stoep gaan sit. “Vir wat staan jy so vroeg op? Het jy die bed natgemaak?” kom Jason gaap-gaap uit die huis met sy eie koffie in die hand. Ali sluk byna haar tong in toe sy sien hy het net ’n rugbybroekie sonder ’n hemp aan. Haar oë bly vasgenael op die goedgedefinieerde spiere van sy borskas en breë rug. Geen wonder Clarissa is agter sy lyf aan nie. Sy kom agter hy wag op ’n antwoord en ruk haarself met mening reg. “Ons het gaste vir ete, het jy vergeet?” “Nee, maar hulle kom eers na kerk, so teen half twaalf se kant.” Hy gaan sit op die stoeptrappie met sy rug teen ’n pilaar, skynbaar totaal onbewus van haar oë op hom. “’n Skaapboud het ’n hele paar ure in die oond nodig om lekker sag te wees,” praat sy met ’n droë tong wat alweer sukkel om te werk. Na Saterdagaand is sy akuut bewus van hom.
Hy neem ’n versigtige slukkie van sy warm swart koffie en glimlag stadig. “Jy kook soos ’n veteraan. Gisteraand se pizza was uit die boeke, nes die wat ek in Italië geproe het en nogal met ’n regte brooddeegkors. Jy sal maak dat ek jou hier in my kombuis vasketting.” Ali lag met ’n beeld van haar aan hierdie Adonis vasgeketting in ’n omhelsing op die kombuistafel. Jikes! Van wanneer af het Alida-Mari Greyling sulke gewaagde gedagtes dat sy sukkel om by te hou met hul gesprek? “Ek moet jou waarsku, my dienste is peperduur, jong.” “Ek het gepraat van vasketting soos in slawearbeid, nie teen betaling nie, maar vir koningskos soos joune sal ’n man sekerlik baie betaal.” En daar is die kettingbeeld weer terug! “H’m. Jy is nie ryk genoeg nie, meneer Vermeulen. Jy kan nie eens bekostig om ’n cougar eenkant aan te hou nie.” Sy mond vol koffie trek met ’n boog oor die grasperk, Lulu spring op vanwaar sy met een oog oop lê en dut het, blaf opgewonde en gaan ruik aan die koffiedruppels op die gras. Jason vee sy mond met die agterkant van sy hand af. “Ha! Jy is heeltemal reg. Cougars vreet aan ’n man se sak. Ek sal my maar liewer by beroemde sangeresse bepaal. Ek dink juis ek het ’n sterk ketting daar in die motorhuis.” Ali blaas oor haar koffie. Sy geniet die ligte geskerts tussen hulle twee veel meer as wat sy teenoor hom sal erken. Hoe sal dit wees om getroud te wees met ’n man soos Jason? Ugh, sy sien sy kaal bolyf en sy dink onmiddellik aan trou? So byna-byna is dit haar beurt om te verstik. Stop die lorrie net daar. Trou lê jare ver in die verskiet van haar toekoms. “Ali?” “H’m?” Haar kop hou aan ompaaie loop met haar vanoggend. Sedert die skaamtelose man sonder hemp hier opgedaag het. “Ek vra of daar iets is waarmee ek kan help. Dis nie nodig dat jy alles alleen doen nie.” “O. Alles is onder beheer in die kombuis, dankie. Miskien kan jy help om die tafel te dek.” Gaan trek net klere aan voordat ek my vergryp, dink sy desperaat. “Oukei. Dis maklik genoeg.” Hy sluk sy laaste koffie af en staan op. “Onthou om glase ook uit te haal vir die wyn wat ons gekoop het,” kry sy uiteindelik weer haar gedagtes bymekaar en syg teen die leuning van haar stoel terug toe hy met ’n wuif by die huis in verdwyn.